Die kuns van Asterix in Afrikaans

Die Asterix-reeks deur René Goscinny en Albert Uderzo word in Afrikaans uitgegee deur Protea Boekhuis.

Dit is ’n heerlike bederf om die immergewilde Asterix-reeks in Afrikaans te lees. Die fiktiewe karakters Asterix, Obelix, Kasterolix, Liederlix, Allamapstix en Witblix se avonture betower reeds vir jare lank lesers vanoor die hele wêreld. René Goscinny (1926-1977) en Albert Uderzo (1927-2020) se kreatiewe skeppings vermaak vandag ook ’n nuwe geslag bewonderaars wat graag die legendariese strokiesprentboeke versamel wat oorspronklik in Frans verskyn het.

Die heel eerste boek in die reeks, Asterix the Gaul, is in 1961 gepubliseer hoewel dit reeds in 1959 as strokiesprent in die weeklikse tydskrif Pilote verskyn het. Die boeke het ’n kultusgevolg en is sedertdien in 111 tale vertaal – ook in Afrikaans deur, onder andere, Sonya van Schalkwyk-Barrois. Daar het al 380 versamelings in meer as 80 lande verkoop. Die laaste drie uitgawes is geskryf deur Jean-Yves Ferri en Didier Conrad het dit geïllustreer. Daar is altesaam 38 boeke in die reeks en verskeie flieks en selfs ’n temapark het die lig gesien.

Asterix speel af in 50 v.C. in ’n fiktiewe Galliese dorpie wat nog nie deur Julius Caeser en sy Romeinse legioene ingeneem is nie. Die dorp is goed beskerm en lê knus tussen die see en ’n woud. Die inwoners drink ’n spesiale towerdoepa gestook deur Kasterolix, die plaaslike druïde, wat aan hulle bomenslike krag gee om aanvalle die hoof te bied. Asterix, ’n “kort klein krygertjie, skerp van gees, vinnig van verstand, aan wie alle gevaarlike sendings summier toevertrou word” se heel beste vriend is Obelix, “’n menhir-afleweraar van ambag, ’n groot liefhebber van wildervarkvleis en lekker baklei”. Die grote Obelix se skaduwee is ’n omgewingsbewuste brakkie met die naam Witblix “wat droewig tjank as ’n boom afgekap word”. Die stam se hoofman heet Allamapstix. Hy is ’n “majestueuse oudstryder, onverskrokke en kort van draad” wat doodbang is dat die hemel op sy kop sal val. Moet ook nie vergeet van Liederix die dorpsanger nie. “Hy dink hy sing fenomenaal, maar vir die ander dorpenaars klink dit afgryslik.” Lesers leef hulle behoorlik in die onvergeetlike en alombeminde karakters (daar is sommer nog heelwat meer om te leer ken) se doen en late in.

Sonya van Schalkwyk-Barrois saam met haar kinders toe hulle nog jonger was. Emma is links en Camille regs.

Die vertaler, Sonya van Schalkwyk-Barrois, het ’n MA in Franse letterkunde behaal aan die Universiteit Stellenbosch. In die vroeë negentigerjare het sy met ’n beurs ’n voor-doktorale studie in Vergelykende letterkunde aan die Sorbonne gedoen. Sedertdien het sy as vertaler gewerk. Sy is met ’n Fransman getroud en het twee volkome tweetalige (Afrikaans/Frans) dogters grootgemaak.

“Gedurende die twee en ’n half dekades wat ek in Frankryk woon, het my kennis van Franse spreektaal, uitdrukkings, humor en die Galliese karakter en ingesteldheid geweldig uitgebrei, wat natuurlik ’n aanwins is by die snap van grappies, woordspelings en dies meer in Asterix,” vertel sy aan Maroela Media oor die vertaalwerk. “Wat die Asterix-boeke so lekker en interessant maak om te vertaal, is die lawwe, oordadige gees, saam met slim woordspelings en verwysings – kultureel en histories, laasgenoemde soms absurd en doelbewus apokrief (soos die ‘oorsprong’ van tee in Asterix in Brittanië, waar iemand per ongeluk blare in ’n pot kokende water laat val, of die ‘rede’ vir sommige van Julius Caesar se uitdrukkings, of die ‘oorsaak’ van die sfinks se stukkende neus in Asterix en Cleopatra …).

“Grappies met spesifieke kulturele verwysings of idiomatiese uitdrukkings is nie altyd maklik om te vertaal nie. ’n Mens probeer gewoonlik om iets soortgelyks in Afrikaans te kry, al moet jy soms ver gaan soek en selfs die betekenis van ’n borrel verander (solank dit darem nog by die prentjie pas en nie die verloop van die storie ontwrig nie). ’n Voorbeeld is die uitdrukking ‘22!’ in Frans (in die teks met Romeinse syfers geskryf: ‘XXII!’). Dis ’n Franse uitdrukking in bende- of boewetaal, wat beteken ‘oppas, hier kom die polisie!’. In Afrikaans het ek dit vervang met ’n ander syfer-gebaseerde uitdrukking: ‘Hulle gaan ons vir ’n VI slaan!’

“Dis nogal ’n kopkrapper wanneer die bron van humor in spesifieke taalkonstruksies lê van ’n taal wat in Frans vreemd opval, maar nie in Afrikaans nie, bv. Asterix in Brittanië, waar daar gemoedelik gek geskeer word met die Engelse woordorde (byvoeglike naamwoord voor die naamwoord, terwyl dit in Frans meestal andersom is). Die ‘Britse’ karakters praat derhalwe ‘vreemd’ deur telkens die Franse adjektief en substantief om te ruil (‘romaine galère’ in plaas van ‘galère romaine’ vir ’n Romeinse gallei, ens.). In Afrikaans sou die grappie natuurlik verlore gaan, dus moes die ‘vreemdheid’ van die ‘Engelse’ karakters op ’n ander manier weergegee word. Ek het besluit om tipiese, herkenbare Engelse uitdrukkings direk, woord-vir-woord in Afrikaans te vertaal, met ’n lawwe, absurde resultaat, bv. ‘Goedheid grasieus!’, ‘Ek smeek jou verskoning’, ‘Goeie geluk!’, ‘Die verstand boggel …’, ens.”

Van Schalkwyk-Barrois sê die humor in Asterix is nie noodwendig altyd subtiel nie, maar soms is daar fyn, gekultiveerde grappies wat ’n mens laat lekker kry. “My dogter het my vertel dat haar Frans onderwyser op skool se gunsteling- Asterix-grappie uit Asterix en Cleopatra gekom het: Deurimis, ’n Egiptiese argitek uit Aleksandrië, daag by die Galliese dorpie op, en groet sy ou vriend, Kasterolix die druïde, met ’n twaalfvoetige sin: “Je suis, mon cher ami, très heureux de te voir”, waarop Kasterolix vir sy vriende verduidelik: “C’est un Alexandrin!”

Ek het dit soos volg vertaal:
Deurimis: “Ek is, liewe vriend, seer verheug om jou te sien.”
Kasterolix: “Dis ’n Aleksandryn!”

Die volgende Asterix-boeke is tans in Afrikaans beskikbaar:
Asterix die Galliër (1)
Asterix en die goue sekel (2)
Asterix en die Gote (3)
Asterix die gladiator (4)
Asterix en die feesmaaltyd (5)
Asterix en Cleopatra (6)
Asterix en die groot geveg (7)
Asterix in Britannië (8)
Asterix en die Noormanne (9)
Asterix die legioensoldaat (10)
Asterix en die hoofman se skild (11)
Asterix by die Olimpiese Spele (12)
Asterix en die koperpot (13)
Asterix in Spanje (14)
Asterix en die groot moles (15)
Asterix in Helvesië (16)
Asterix en die speelplek van die gode (17)
Caesar se lourierkrans (18)
Asterix en die waarsêer (19)
Asterix in Korsika (20)
Caesar se geskenk (21)
Asterix en die groot oorvaart (22)
Asterix – Obelix & Kie (23)
Asterix in België (24)
Asterix by die Pikte (35)
Asterix en die verlore papirusrol (36)

Versamel gerus die Asterix-reeks in Afrikaans. Dit is sommer vet pret!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Sonya, dankie vir jou moeite vir die vertalings, jou Afrikaanse name vir die karakters is die heel beste wat daar is. Ek is nou 46 en het omtrent al die boeke in Engels gelees, en kan dit vandag vir my kinders in Afrikaans gee, wat ‘n voorreg vir hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.