Die lanternswaaier

SD Fourie

“Die skrywer het hier ‘n indrukwekkende verhaalgegewe beet. Die historiese gebeure wat in hierdie roman as agtergrond en basis gebruik word, is ‘n fassinerende, merkwaardige en tot dusver onontginde geskiedenis in Afrikaans. Die stories oor die strandjutte in die Suid –Kaap is nie nuut nie: dit word al geslagte lank oorvertel, spesifiek oor die stranding van die Haliartus (‘n Houstonse stoomskip wat vroeg in die 20ste eeu gestrand het).Daar is verskeie humoristiese anekdotes oor hoe die strandjutte mekaar uitoorlê het om die buit te bekom.

Die Lanternswaaier verhaal sluit (Desember 1894) met die inwyding van die vuurtoring en die gevolgtrekking dat die bedryf van lanternswaaiery en die gepaardgaande strandjuttery tot ‘n einde gekom het. Dus: ‘n ongelooflike ryk gegewe wat ‘n grootse roman tot gevolg kan hê. Moontlik is Dalene Matthee groen van jaloesie, daar in die hemel waar sy is, dat sy nie hierdie fassinerende inligting tot haar beskikking gehad het nie. (Hierdie laaste sin is ‘n direkte aanhaling uit die keurdersverslag van ‘n baie bekende skrywer – die uitgewer).

In hierdie roman is die stranding van die Galera (sommige bronne sê Galina), ‘n Noorweegse bark wat naby Danger Point, ( Gansbaai ) gestrand het, die motoriese moment wat verskeie ander intriges aktiveer, maar die verhaal begin eintlik veel eerder, toe Sophie as kind die lantern geswaai en die skepe help strand het. En natuurlik nóg langer terug, met die sondes van die (vele) vaders en hul skynheiligheid …

Oor die outeur
“Sy is ‘n toergids, mede-eienaar van die Strandveld Museum, Franskraal, ma van twee seuns en een dogter, ouma van vier kleinkinders (grootste prestasie!) en die vrou van Jan Fourie. Sy woon by die see en daarom is haar stories vol wind, mis en seesproei. Het reeds haar skryftande by RSG geslyp.
Radiodramakompetisie:
Roep van die Potjieriet – 2004 – Derde
Droomskip – 2008 – Eerste prys

Uitgewer: Naledi
Prys: R169,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.