Die mooiste stories van Helena Lochner

Die mooiste stories van Helena Lochner soos saamgestel deur Leoni Hofmeyr word uitgegee deur Human & Rousseau.

Dié lieflike bundel, ’n derde hersiene uitgawe, beslaan 154 bladsye met tydlose en klassieke stories deur die meesterstorieverteller, Helena J.F. Lochner wat al die Hans Christian Anderson van Suid-Afrika genoem is. Hoewel die skrywer reeds in 1951 oorlede is, leef haar stories voort en bekoor dit steeds oud en jonk.

Die bundel spog met splinternuwe illustrasies deur die baie talentvolle kunstenaar Toby Newsome en is ’n lus vir die oog. Teresa Williams het vir die aantreklike boekontwerp en setwerk gesorg. Die boek voel swaar en die bladsye het ’n luukse voorkoms – dalk omdat dit nie deurskynend dun is nie.

Daar is twintig stories wat die leser se verbeelding aangryp. Die titels van die stories maak mens sommer lus vir lees. Hier is net ’n paar voorbeelde, naamlik “Ou tante Langtand”, “Ou mamma Kromneus”, “Na die maan op ’n haan”, “Hoe die sprinkane horinkies gekry het”, “Die boomprinses” en “Waarom ’n papegaai alles nasê”. Die stories is klankryk en deurspek met fyn humor.

Hofmeyer skryf die volgende oor die skrywer: As jong plaaskind in die Swartland, het Lochner graag geluister na verhale uit die volksmond, wat ’n onmiskenbare invloed laat op haar werk en verbeeldingswêreld. Diep gewortel in ons vasteland, is haar stories gevul met eksentrieke ou tantes, magtige konings, goggas en ander wilde gediertes, maar nooit met feetjies nie. Want, soos sy self opgemerk het, hulle sou onmoontlik in die droogtestreke van Afrika kon oorleef. Hierdie bundel bring nuwe hulde aan hierdie besonderse inheemse erfenis, een van die kosbaarste skatte vir die Afrikaanse kind van vandag.”

Dis baie moeilik om ’n gunstelingstorie te moet kies, maar siende ek ’n groot Jakkals-en-Wolf bewonderaar is, sonder ek graag die skreeusnaakse storie getiteld “Boer, Jakkals en die bottervat” op bladsy 35 uit. Wolf ly soos altyd onder Jakkals se skelmstreke. Ek haal graag hierdie stukkie teks aan: “Arme broer Wolf is so verstom dat hy niks kan sê nie! Hy het maar doodstil weggesluip om vir sy vrou en kinders te gaan vertel watter nuwe poets broer Jakkals hom nou weer gebak het, en toe het die ou gesweer dat hy Jakkals nooit, ooit weer sal vertrou nie en hom ook een van die dae sy rieme sal laat styfloop” (41).

Die mees besondere storie is natuurlik “Vis uit die see” op bladsy 27. Die storie se langste woord het net drie letters. Ja, sowaar! Hier is ’n uittreksel: “Gou wip ’n vet vis uit die put, en toe nog een en nog een en nog een. Die vis wip oor die kat. Die vis wip oor die man. Die vis wip oor die kar. Die vis wip tot in die pan. Vis ná vis wip in die pan. Toe is die kar vol vis, die pan is vol vis, die man is vol vis, en die kat is so vol vis dat een oog toe is” (30).

Skaf jou kopie van Die mooiste stories van Helena Lochner hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.