Die nuwe HAT praat eietydse Afrikaans

HAT 6-zoomNá bykans ’n dekade van omvattende en uitgebreide hersienwerk is die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) op die winkelrakke.

Dis betekenisvol dat dié uitgawe juis in 2015 verskyn, want dis ’n groot jaar vir Afrikaans – dis 90 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is, dis 50 jaar sedert die eerste HAT verskyn het, dis twee dekades sedert die vorige deeglike hersiening van die HAT en dis boonop die eerste keer dat dié bekende (en geliefde) woordeboek aanlyn verskyn.

Die jongste uitgawe van die HAT is ’n kraakvars weergawe van Afrikaans en ’n weerspieëling van eietydse taalgebruik. “’n Woordeboek moet wys wat in ’n taal gebeur,” sê Rufus Gouws, een van die HAT se drie redakteurs. “Dan verseker ons dat dit nie net ’n deurstop word nie, maar inderdaad deure na nuwe wêrelde oopmaak.”

Sensustellings weerspieël die verrassende groei van die getal Afrikaanssprekendes in al nege provinsies van Suid-Afrika. Daar is deesdae sowat 6,8 miljoen mense wat Afrikaans praat – byna ’n miljoen meer as ’n dekade gelede. Afrikaans is op twee na die taal wat die meeste in Suid-Afrika gepraat word. Zoeloe is eerste, Xhosa tweede en Engels vierde.

“Die dilemma van woordeboekmakers is altyd in hoe ’n mate hulle voorskriftelik of normatief moet wees,” sê redakteur Fred Pheiffer. “Ons mikpunt was om in ons definisies en gebruiksvoorbeelde ’n moderne tydgees weer te gee. Afrikaanstaliges is immers nie outyds nie – ons is wêreldburgers en aktiviste oor aktuele kwessies.”

Jana Luther, een van die redakteurs, verduidelik HAT6 is ’n entoesiastiese poging om taalgebruik te weerspieël op ’n manier wat die leser soos ’n mede-bydraer laat voel, maar terselfdertyd gesaghebbende taalriglyne bied.

Van kombuis na papier… en nou ook aanlyn

Afrikaans het ontstaan as ’n kombuistaal en mettertyd gevorder tot ’n amptelike taal met eiesoortige uitdrukkings, idiome en ’n kreatiewe woordeskat. Afrikaanse sêgoed is eie aan die wonderlike mengelmoes van kulturele, taal- en generasiegroepe in Suid-Afrika. Nou kan jy ook jou eie gebruik van Afrikaans verfris en uitbrei – die papieruitgawe van HAT6 is beskikbaar in boekwinkels teen R490. Die woordeboek is vanaf Augustus 2015 ook die eerste keer aanlyn beskikbaar. Agterin die papierwoordeboek is ’n registrasiekode wat jou ses maande lank gratis toegang gee tot HAT Aanlyn. Of teken by www.hataanlyn.co.za in as jy nie die gedrukte woordeboek wil koop nie. Sodoende kry jy vir slegs R400 per jaar nie net toegang tot die 6de uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal nie, maar ook tot die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, die Longman-HAT Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engelse Skoolwoordeboek en (binnekort) die HAT Taalgids en HAT Feitegids, wat almal intyds bygewerk word.

Inklusief, modern en uitgebrei HAT6 is ’n woordeboek wat nuwe rusplek bied vir jou gedagtes, uitdrukkings en geselsies om die braaiplek.

Al die taalpret word vasgevang in “Dis my taal”, die lied wat Hilandi du Toit spesiaal vir die HAT6-projek geskryf het en saam met die kletsrymer Linkris uitvoer. Jou hart sal warm klop en jou voete sal jeuk wanneer dié twee sing: “Dis my taal, dis my taal! … Duisende woorde met sorg uitgesoek, Afrikaans wat dans in ’n boek!” (Video volg onderaan die berig)

Woordeboek, syferboek

Die papierwoordeboek is ’n bielie wat amper 9 cm dik is en spog met:
* 2,1 miljoen woorde (teenoor die vorige uitgawe se 1,5 miljoen)
* 1 636 bladsye (200 meer as die vorige uitgawe)
* 90 000 woorde, idiome en uitdrukkings
* 120 000 betekenisse, eenvoudig verklaar
* 80 000 voorbeeldsinne en –frases
* 10 000 etimologieë
* 3 000 afkortings

Redakteurs: Jana Luther, Fred Pheiffer, Rufus H. Gouws
Uitgewer: Pearson
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.