‘Die ompad terug’

hart_klip_hand_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Hier volg ʼn uittreksel uit Die ompad terug deur Helena Hugo.

Janine draai van die venster af weg. Nee, sy wil nie vandag negatief wees nie. Sy sal Bennie bel en opmaak, al kos dit ook wat.

Met die omdraai om haar selfoon te kry tref iets ongewoons haar. Die televisie is aan die gang en dit raas, maar sy hoor water drup en die kombuiskrane is toe. Klink of die dak lek en dit reën definitief nie. Is daar ʼn oop kraan in die badkamer? Ag, nee! Dis al wat sy nog nodig het. Maar as sy gou spring, kan sy die skade dalk keer. Amper val sy oor haar eie voete in haar haas die trap op. Dit gaan reguit op, maak ʼn draai by ʼn landingsplekkie en gee daarna nog ʼn paar trappies tot bo.

Daar drup dit nie, dit stroom. Het sy die wasbak se kraan oopgelaat? Was dit sy of Jenny?

Janine voel sy word warm en koud en weer warm. Sy struikel oor die laaste trappie boontoe en ontdek dat die gangvloer onder water is. Dat sy so iets kan oorkom! Die rekening is juis so hoog oor die swembadjie en al die water wat sy daar moet ingooi. Amper gly sy op die gladde teëls soos sy haar badkamer toe haas. Al die krane is styf toe. Sy skop haar sandale uit, gooi dit in haar slaapkamer en loop kaalvoet na Jessie se kamer waar water onder die deur uitspoel. Janine byt op haar tande en pluk die deur oop.

Wat ʼn gemors! Reg bokant die bed hang die plafon soos ʼn enorme, pap sak. Sy kyk nog so, toe skeur dit voor haar verdwaasde oë middeldeur en giet letterlik emmers vol water op die bed.

ʼn Pyp op die plafon of wat? Die geiser! Ag, toggie. Dis die geiser wat oorkook of erger, gebars het. Dit het ook al by Oupa-hulle gebeur, nie so vreeslik nie, net ʼn lek wat Oupa gou opgespoor het. Hierdie een is massief. Hoe stop sy dit nou weer? Eers die geiser by die kragbord teen die gangmuur afskakel.

Dit gedoen, klim sy so versigtig moontlik af ondertoe en uit by die deur om die toevoerkraan te soek. Waar? Waar! Hoekom het sy nog nie seker gemaak van alles nie? Sy hardloop om die hoek en ontdek dit genadiglik langs die agterdeur.

Nie dat dit veel help om dit toe te draai nie, die geiser sal nie ophou lek voor alles uit is nie. Die kraan is stram en sy sukkel, maar kry dit reg en staan toe en snak na asem, so yskoud geskrik sy vergeet amper van die kinders.

Gelukkig kry sy betyds vir Riekie op die tweede trappie.

“Mamma, piepie!”

“Pasop, moenie roer nie.”

Soos blits vat sy die dogtertjie vas en gaan sit net daar op die nat trap met haar op haar skoot. So moedeloos, so moeg voel sy, sy het lus en bly sit tot alles vanself regkom. Sy is alleen met drie klein dogtertjies, ʼn stukkende geiser en water die hele huis vol. Is dit haar straf vir haar sondes, haar ongeduld met Bennie, haar ontevredenheid, terwyl Jessie elke dag getrou werk toe gaan om hulle aan die lewe te hou?

“Dit reën in die huis.” Jenny se kommentaar.

Sy is reg. Water drup al hoe vinniger op hulle af. Deksels!

Netnou is die onderste kamers ook onder water. Wat maak sy met die kinders? Die tweetjies dreig al om op te klim en te gaan kyk waar die gat in die dak is. Sy keer en verduidelik dat die tenk wat die badwater warm hou, gebreek het. Wat weet hulle tog van ʼn geiser.

Vandag moet sy kophou soos nooit tevore nie en aan hul veiligheid dink voordat hulle dit met die trap op kan waag.

Die video wat hulle gekyk het, het tot ʼn einde gekom en die TV is stil. Dané het in haar drastoeltjie aan die slaap geraak, dankie daarvoor.

Die ander tweetjies staan en staar na bo waar die water reëlmatig drup-drup-drup. “Piepie,” kla Riekie en Jenny val ook sommer weg.

Is dit uit nuuskierigheid, wonder Janine, om te gaan kyk wat aangaan, of is hulle eerlik?

Riekie se broekie is nat. Sy is dus nie ver van die waarheid nie.

Janine haal diep asem en bly merkwaardig kalm. “Jenny-by, Mamma vat eers vir Riekie op dat sy kan droog aantrek. Staan jy hier en wag. Dis gevaarlik om alleen die trap te klim, hoor jy vir Mamma? Wag hier.”

Jenny knik ernstig. Hopelik onthou sy om te luister.

Janine tel Riekie op en klim versigtig boontoe. Hulle is pas op die landingsplekkie toe die voordeurklokkie lui en Jenny reguit soontoe hardloop. Sy is geleer om nie die deur vir vreemdelinge oop te maak nie en is ook nie sterk genoeg vir die glasskuifdeur nie. Sy staan daar soos ʼn weeskind in haar nat rokkie wat sy vies voor haar magie opgebondel het.

Aan die ander kant van die deur staan die nuwe buurman, sy kop skeef soos hy seker probeer vasstel wat die kind makeer. Jenny-by, die klein klits, skud haar kop met mening. Die man lui weer, dié keer harder. Hy lyk erg bekommerd.

Janine, wat nog wil maak of hulle nie tuis is nie, besef sy is uitgevang. Of netnou dink hy die kind is toegesluit en in die moeilikheid. Sy vat Riekie vas. “Kom, Mamma se skat, ons eers gaan oopmaak vir die oom.”

Hy druk sy neus teen die glas en loer na binne.

“Jenny, sê vir die oom ek kom!”

Maar Jenny bly staan, en die man tree terug en kyk boontoe.

Trappie vir trappie sukkel Janine af ondertoe. Is die water besig om by die vensters uit te spuit? Heeltemal onvanpas kry sy lus om te lag – nie omdat dit snaaks is nie, maar uit pure verleentheid voor die vreemdeling. Eindelik is sy onder en kan sy Riekie neersit en teen wil en dank die deur oopmaak.

“Die geiser het ontplof.”

Toe dit uit is, besef Janine sy beskuldig nou iemand wat niks met haar of haar geiser te make het nie. Sy nek ruk asof hy ʼn klap gekry het, altans so lyk dit vir haar.

“Wanneer?”

“Ek weet nie, toe ek weer sien, loop die water.”

“Herman Oosthuizen, jou nuwe buurman. Kan ek help?”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Die ompad terug aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.