‘Die pad na selfbestuur’: Die Solidariteit Beweging se hoofstroomplan

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

In die 27ste hoofstuk van sy boek, Die pad na selfbestuur, verpak Flip Buys die doelwitte en planne van die groter Solidariteit Beweging as ’n geheel. Dié hoofstuk volg ná Buys in die vorige hoofstukke Afrikaners se probleme in Suid-Afrika bespreek het wat volgens hom grootliks toegeskryf kan word aan yl verspreiding en ʼn groter bedelingsprobleem.

Ná die groot omwenteling van 1994 bykans alles in die land verander het, het die destydse groot Afrikanerorganisasies soos die Nasionale Party (NP) en die Konserwatiewe Party (KP), met hul steunorganisasies, onder die golwe van die oorgang verdwyn. Nuwe tye het vars idees, vindingryke oplossings en vernuwende organisasies geverg.

Buys skryf: “Die Solidariteit Beweging met sy organisasies wat uit ongeveer 500 000 gesinne bestaan, het tot die grootste hoofstroom-Afrikanerorganisasie en een van die grootste organisasies in die land gegroei. Die Solidariteit Beweging klou nie aan ’n verouderde ideologie vas of jaag vreemde doelwitte na nie, maar streef bloot ’n normale samelewing na, waarin almal blywend vry, veilig en voorspoedig kan lewe.”

Hy skryf verder dat dit duidelik was dat die nuwe regering die staat vir sy eie ondersteuners sou gebruik en dat Afrikaners nie langer op die staat sou kon staatmaak nie. Daar was met reg kommer dat die nuwe regering hom nie onbepaald sou laat bind deur die 1994-ooreenkoms nie en na sy sosialistiese wortels sou terugkeer, met Afrikaners wat telkens as die sondebokke voorgehou sou word indien die regering met sy uitgediende ideologie misluk.

Die aanname by die Solidariteit Beweging was dat Afrikaners ’n toenemende behoefte aan doeltreffende beskerming sou benodig. Dus is beplan om dit tot ’n hedendaagse Helpmekaarbeweging uit te brei om noodsaaklike dienste aan die Afrikanergemeenskap, asook ander gemeenskappe te lewer.

Gevolglik het die leierskap van Solidariteit van meet af aan besluit dat dit nie in ’n doodloopstraat van politieke uiterstes, onwerkbare planne en bittere verdeeldheid sal beland nie. Die organisasie is volgens internasionale Christendemokratiese beginsels in die hoofstroom geplaas en vir plaaslike omstandighede aangepas. Navorsing het gewys dat meer as 80% van Afrikaners – en groot getalle ander Suid-Afrikaners – hierdie beginsels ondersteun.

Luister hier na vandeesweek se voorlesing om vas te stel wat die Solidariteit Beweging se hoofstroomdenke en planne is.

  • Die boek kan ook op Kraal Uitgewers se webwerf bestel word. Maroela Media-lesers kry spesiale korting op Die pad na selfbestuur. Gebruik die woord selfbestuur as koeponkode om R100 afslag te kry wanneer jy hierdie besonderse boek aanlyn bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Buys skryf: “Die Solidariteit Beweging met sy organisasies wat uit ongeveer 500 000 gesinne bestaan”
500 000 gesinne, met tem minste 2 volwassenes, 2 stemgeregtigdes, per gesin. Met ander woorde 1 miljoen kiesers minimum. Solidariteit dink ook 99% dieselfde oor die politiek soos die Vryheidsfront-Plus. Maar kom dit by ‘n verkiesing, dan kry die VF-Plus skaars 400 000 stemme. Wats dan fout? Ek weier om te glo dat die ander 600 000 almal DA stem. Hoe kan ons mense stem vir ‘n party wat ten gunste van regstellende aksie is? Iewers is KLOMP van ons eie mense wat bloot nie aan verkiesings deelneem nie, maar ons is GOU om te kla oor alles wat skeefloop in SA. Eendag wanneer ons mense almal weg is, sal ons grafskrif lees “ten gronde gegaan weens gebrek aan belangstelling en gebrek aan samewerking”

Withaai ·

Dit gaan my verstand ook te bowe. Veral as die VF n party is wat die Christelike Godsdiens as grondslag in hulle Konstitusie ingesluit het. Hoekom stem al die biddende sogenaamde Christene dan vir partye wat God en Christelike Beginsels basies ontken of doodstil bly daaroor omdat hulle te skaam is vir hulle Geloof. Jy sal maai wat jy saai en jou woord moet jou bond wees. Jy verdien om deur bose godloenaars regeer te word, as jy jou pligte vervreem tov jou publieke verantwoordelikheid om toe te sien dat daar n goeie regering aan die dag staan. Deur vír goeie leiers te stem is net een so plig maar een van kardinale belang.

gatgogga ·

Die DA is ten gunste van regstellende aksie?
Moenie fopnuus versprei nie, Jaco.

Hardekwas ·

Ek moet erken ek het self eenmaal vir die da gestem, tot my spyt. Ek is egter nou n VF ondersteuner. Ek dink baie mense is apaties wanneer dit by stemmery kom, aangesien hulle dink dat die opposisie (anc) se oormag getalle hulle tot negatiwiteit dwing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.