‘Die pad na selfbestuur’: Selfbestuur of ANC-bestuur?

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

In die negentiende hoofstuk van sy boek, Die pad na selfbestuur, bespreek Flip Buys die moontlikhede van selfbestuur teenoor dit wat ons onder ANC-bestuur ervaar.

Buys lui hierdie hoofstuk in deur onder andere ʼn gesprek te beskryf wat hy met ʼn akademikus gevoer het wat hy per geleentheid in Stellenbosch ontmoet het. Buys beskryf dié interaksie soos volg: “Die professor kyk my kwaai aan. ‘Jou praatjies oor federalisme en minderheidsregte klink vir my baie soos selfbeskikking,’ berispe hy my kliphard voor die ander gaste. ‘Ons hier in die suide hou nie van sulke regse praatjies nie.’”

Buys gebruik egter hierdie interaksie met die professor om die oorwegende gevoel rakende selfbestuur te probeer omskryf wanneer hy later verklaar: “Hierdie professor maak twee sake duidelik: Hy hou nie van ‘my’ selfbeskikking nie, en hy hou nie van die ANC se beskikking oor hom nie. Daarom woon hy in ’n werkende provinsie en ’n funksionele dorp waar hy, deur die party wat hy ondersteun, oor homself beskik. Hy probeer so ver moontlik van enige vorm van ANC-beskikking oor hom wegkom. Hy beskik oor sy eie plaaslike regering in die private leefstyldorp waar hy woon. Daar beskik hy oor sy eie veiligheid, hy beskik oor sy eie mediese versorging deur sy privaat mediese skema. Hy wek sy eie elektrisiteit op met sy eie sonkragstelsel omdat hy, nes ek, nie die staat se beskikking vertrou nie.”

(Grafika: Verskaf)

Met hierdie insig kom Buys tot die slotsom van die hoofstuk. Buys stel dit dat die alternatief vir selfbestuur staatsbestuur is waarvoor niemand, nes die professor, kans sien nie. Elkeen van ons se lewe is te belangrik om dit net aan die ANC se beskikking oor te laat. Dit is mos ’n doodnormale reaksie van mense om oor hul eie sake te wil besluit as die regering swak besluite daaroor neem.

Luister hier na Martin Jansen se voorlesing van die negentiende hoofstuk van Die pad na selfbestuur.

  • Die boek kan ook op Kraal Uitgewers se webblad bestel word. Maroela Media-lesers kry spesiale korting op Die pad na selfbestuur. Gebruik die woord selfbestuur as koeponkode om R100 afslag te kry wanneer jy hierdie besonderse boek aanlyn bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.