Die pad na Skuilhoek: Oor Voortrekkers, familietwis en die liefde

Deur Susan Lombaard

Kon Lourens dan nie maar self kom sê het nie? Vir wat stuur hy vir Vryheid? Maar haar onderbewussyn bly glo hy het ʼn rede. Hulle liefde kom tog nie van gister af nie, en miskien ís Natal hulle vaste toekoms.

ʼn Mens kan Die pad na Skuilhoek maklik vlak kyk. Dit lees maklik; ʼn lekker liefdesverhaal met ʼn bevredigende einde.

Maar tussen die voor- en agterblad van dié boek, die nuutste uit die pen van die skrywer, digter en akademikus Hans du Plessis, lê twee jaar se navorsing, feit en fiksie wat meesterlik vermeng is en heelwat stof tot nadenke.

Dis miskien juis dít wat die boek so toeganklik maak. Jy kan dit sommer op jou maag op die bed lê en lees; of jy kan dit met ʼn potlood in die hand bestudeer terwyl jy Hans se akademiese artikel Die romansier en die verlede: die skrywer se hantering van historiese materiaal in die skep van die historiese roman ‘Die pad na Skuilhoek’, geskryf oor die navorsing wat hy as agtergrond vir die boek gedoen het, byderhand hou. (Lees die artikel hier.)

Die pad na Skuilhoek speel af in die vroeg in die Groot Trek, en vertel die verhaal van twee kinders wat die nag van 23 Augustus 1836 oorleef toe ʼn hele staning Voortrekkers deur die Matabeles uitgewis word. Met dié karige feite as agtergrond ontvou die fiktiewe verhaal van Petronel van Rensburg en Botha se jong liefde, hul grootwordjare en hul stryd om mekaar te vind en die spoke van die verlede tot rus te laat kom. Tussen die lekkerlees deur gaan die leser se oë oop vir die realiteite van die Groot Trek, ʼn stuk van Suid-Afrika se geskiedenis wat bitter karig gedokumenteer is.

“Dis waarskynlik een van die redes waarom so min romans met die Groot Trek as ruimte nog in die Afrikaanse letterkunde verskyn het, in teenstelling met die groot verskeidenheid letterkunde wat in die Anglo-Boereoorlog afspeel,” sê Hans. “Verder dink die meeste van ons die Groot Trek begin en eindig in 1838 – wat natuurlik glad nie die geval is nie. Ek moes baie op ouer bronne staatmaak. Hierdie stuk geskiedenis is natuurlik ook goed gekleur deur die bril van Afrikanernasionalisme; objektiewe bronne is dus skaars.”

Die tema van liefde staan sentraal in dié verhaal wat, miskien verkeerdelik, as liefdesroman bemark word. Reeds op die eerste bladsy word die afwagting vir ʼn gelukkige einde geskep wanneer die jong Petronel en Lourens hul eerste versigtige gesprekkie het. Maar daar is ook die tema van oorvloed, en die mens wat roekeloos daarmee omgaan. Die land waardeur die trekkers trek, is woes en ongerep; oorvloedig in wild en ander hulpbronne. Hand-aan-hand daarmee is die vergrype wat altyd met oorvloed saamgaan.

“Dieselfde kan seker gesê word van die liefde,” sê Hans. “Want is moraliteit, immoraliteit en die liefde nie ook maar dikwels ʼn vermorsing of ʼn vergryp nie?”

Ander temas? “Sjoe, daar is baie,” antwoord Hans. “Tydelikheid; Afrikanermites oor die Voortrekkers; die dekriminalisering van die Groot Trek; die Engelse se rol in die negatiewe beskouing van die Afrikaner.”

Skuilhoek is een van daardie boeke wat jy nie sommer neersit nie. En as jy klaar is daarmee, lees jy vir ʼn week of drie net koerantopskrifte en e-pos terwyl jy die storie deurdink en afskeid neem van die karakters wat diep in jou hart gekruip het. Want ten spyte daarvan dat die feitelike ruimte waarteen die verhaal afspeel, vir die meeste lesers nuut en vreemd sal wees, is die karakters gewone mense by wie ʼn mens vroeg aanklank vind. Dalk oor die liefde? Want hoewel hierdie roman Hans se eerste is wat as liefdesroman bemark word, is dit nie ʼn nuwe tema in sy skryfwerk nie. Sy bundel Griekwagedigte Boegoe vannie liefde, gebaseer op die Bybelboek Hooglied, is waarskynlik die suiwerste vorm hiervan.

“My belangstelling in die geskiedenis kom van ver af. My gesprekke met vriende het baie met die inspirasie te doen,” vertel Hans. “Die liefde? My belangstelling daarin kom ook van ver af… My vorige roman, Verbrande paradys, is eintlik ook ʼn liefdesverhaal. Eintlik is daar in al my prosa iets van ʼn liefdesverhaal. Die romantiese agtergrond van die geskiedenis het hom tot ʼn liefdesverhaal geleen.”

Wat ons gesprek bring by Magdaleen – sy eggenoot van 43 jaar en die persoon aan wie Die pad na Skuilhoek opgedra is. “Sy was nog altyd my steun, en dus deel van enige inspirasie wanneer ek skryf,” sê hy.

Dit voel of die Skuilhoek-storie nog lank nie klaar vertel is nie. Daar is nog heelwat karakters wat wag om ontgin te word; oor wie ʼn mens meer te wete wil kom. Kan lesers ʼn opvolg verwag?

“Ek is tans besig met ʼn nuwe bundel Griekwagedigte,” verklap Hans. “Die reaksie op Skuilhoek mag dalk ʼn opvolg laat uitspring… Ek weet nie.”

Vir meer inligting oor Die pad na Skuilhoek klik hier.

Lees ʼn uittreksel uit Die pad na Skuilhoek hier.

[tubepress mode=”playlist” playlistValue=”FECFD4E0F004D5D2″]

  • Die pad na Skuilhoek is by alle goeie boekhandelaars beskikbaar. Dit kan ook direk by Lapa Uitgewers bestel word: Skakel 012 401 0700 of besoek www.lapa.co.za.
  • Hans du Plessis is skrywer, digter en akademikus. Die pad na Skuilhoek is die vierde roman wat uit sy pen verskyn. Hy het ook reeds vyf digbundels, drie jeugromans en ʼn verskeidenheid akademiese artikels gepubliseer, en is verbonde aan die ATKV-Skryfskool aan die Potchefstroom Kampus van die Noordwes Universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae