Die pad na Skuilhoek

Hans du Plessis

“’n Pragtige liefdesverhaal wat terselfdertyd waarde wen omdat hierdie tydperk grootliks onverken is in Afrikaanse fiksie.” – Jeanette Ferreira, skrywer en voormalige uitgewer, oor Die pad na Skuilhoek.

Hans du Plessis se historiese roman, Die pad na Skuilhoek, vertel van die liefde tussen twee Voortrekker-tieners, Petronel van Rensburg en Lourens Botha.

In die nag van 23 Augustus 1836 moor die Matabeles ’n staning Voortrekkers uit. Slegs dié twee jongmense, en hul vriend Vryheid, oorleef. Maar hierdie bloedige nag van tragiese eindes is ook die begin van Petronel en Lourens se liefde wat, in die loop van gevaarlike en onvoorspelbare omstandighede op die Trekkerspad, eers ses jaar later, op hulle eie plaas, Skuilhoek, teregkom.

Die emosionele registers van Petronel en Lourens sal beslis by hedendaagse tieners weerklank vind, maar Die pad na Skuilhoek is veel meer as net ’n liefdesverhaal vir jong volwassenes. Dit is ook ’n pioniers- en wordingsroman (Bildungsroman) oor ontluikende seksualiteit.

Die verhaal openbaar die Trekkers as, al te dikwels, wederstrewig en nukkerig. Dit is verfrissend dat die Voortrekkers nie bloot as helde uit die stryd tree nie, maar hier as vlees-en-bloed-mense met foutlyne geteken word.

Oor die outeur
Hans du Plessis is in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, studeer by Tukkies, Unisa en later aan Harvard in die VSA. Na ses jaar in die onderwys, eers in Johannesburg en daarna op Evander, doseer hy Afrikaanse Taalkunde aan Unisa en RAU en word professor in Afrikaans aan die PUK. Sedert 1990 is hy professor in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Hans woon al die afgelope byna dertig jaar saam met sy vrou Magdaleen op Potchefstroom. Hulle het vier seuns en ses kleinkinders. Die pad na Skuilhoek is Hans du Plessis se twaalfde boek.

Uitgewer: Lapa
Prys: R160,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.