Die reise van Isobelle

Elsa Joubert

Die reise van Isobelle neem ’n hele eeu, van 1894 tot 1994, in oënskou. Van die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe, tot die Struggle wat uitloop op ’n nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika. Enersyds bied die skrywer ’n panoramiese blik op groot omwentelinge, andersyds ’n intieme kyk op die persoonlike belewenisse van vier generasies van ’n blanke Afrikaanse familie in Afrika. Veral die hartstogte wat hulle dryf en sin gee aan hul bestaan. By ds. Josias van velde, hartstog vir God, by name die Verbondsgod van die Afrikaner. Daarom is die wit konsentrasiekamptentjie wat hy van dankbare Boervroue in skrynende omstandighede ontvang, vir hom so kosbaar. By sy skoondogter Angens, die hartstog vir die ‘pa’ wat haar weggestuur het uit Brits Oos-Afrika, en wat sy op ’n manier terugvind by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument.

Die erotiese en die opwelling van nasionale gevoel loop vir haar hier saam. Haar dogter, Belle, vind die groot hartstog: ’n passie wat alles oorskry, maar leef haar te pletter teen wette en gesindhede wat harte skei op grond van velkleur. Belle se dogter, Leo, bevry van die houvas van volksleiers se futiele visioene, stry vir ’n regverdiger bestel, en brei so die weg vir ’n voller lewe: die derde Isobelle. Anders as in die tradisionele ‘familieroman’ is die hoofkarakters hier vroue, en dit is juis dié vroulike perspektief wat toon hoe die politiek in persoonlike lyding gestalte kry.

Oor die outeur
Elsa Joubert is as skrywer internasionaal bekend en het reeds talle letterkundige pryse ontvang, o.m. die Eugène Marais-prys vir Ons wag op die kaptein (1963) en die W.A. Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), in 2002 aangewys as een van die honderd beste boeke in Afrika. Haar magistrale roman Die reise van Isobelle (1995) is met die Hertzog-prys bekroon. In 1981 ken die British Royal Society of Literature die Winifred Holtby-prys aan haar toe en word sy ’n Fellow van die Society. Ander belangrike werke uit haar pen is die romans Bonga (1971), Die laaste Sondag (1983) en Missionaris (1988), asook die kortverhaalbundels Melk (1980) en Dansmaat (1993). Haar lewenswerk word bekroon met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch (2001), en die Orde van Ikhamanga (2004).

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R180,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.