Dié skrywer weet hoe om jong lesers te laat ril

de-wet-hugo-skrywer

Die skrywer De Wet Hugo het met Maroela Media gesels oor sy Grilgrypersreeks vir jong tieners. Foto: De Wet Hugo/ Facebook.com

De Wet Hugo is die skrywer van die Grilgrypersreeks en het onlangs ʼn draai by Maroela Media se ateljee gemaak om te kom gesels oor sy rillerboeke vir jong tieners.

Louise Viljoen, ʼn resensieskrywer vir Maroela Media, het al gesê dat Hugo duidelik weet waarvoor kinders gril en wat hulle laat bewe. “Jy kan nie wag om om te blaai en te sien wat op dié storie se volgende blad gebeur nie,” skryf sy.

Dit is ook waaraan Hugo die sukses en gewildheid van sy Grilgrypersreeks toeskryf. “Elke boek is ʼn nuwe storie op sy eie en ek hou die hoofstukke kort. Elkeen word ook afgesluit op ʼn hoogtepunt wat lesers hul naels laat kou terwyl hulle gou-gou omblaai om te sien wat nou gaan gebeur.”

Hugo sê hy wissel juis die hoofkarakters in die reeks af sodat hulle aanklank by meisies en seuns tussen die ouderdom van 9 en 13 sal vind. Hy vertel dat in elke boek die hoofkarakter ʼn manier moet vind om sy of haar grootste vrees te oorkom.

“In Die vloek van Vreesbaai kom Miek op ʼn nuwe dorpie aan waar hy met sy vrese gekonfronteer word. Gelukkig besef hy vinnig dit is nie net hy nie, maar elke kind in die mistige dorpie wat deur ʼn monster geterroriseer word.

“Die 14-jarige Pippa het nog altyd nagmerries gehad oor spinnekoppe in my tweede boek, Web van die mummie. Nou moet sy haar nuwe skooljaar in ʼn koshuis in die Paarl begin, maar net voordat sy vertrek, word ʼn gemummifiseerde liggaam van ʼn 14-jarige meisie in ʼn bergskeur op haar familie se plaas ontdek. Is dit dalk die liggaam van haar pa se vermiste suster? En hoekom voel dit so asof die mummie haar na haar nuwe skool gevolg het?

Hugo sê sy derde boek, Kamp vir monsters, is ʼn wetenskapriller en in hierdie boek word die hoofkarakter Clayton as ʼn probleemkind beskou.

“Hy word na ʼn eksklusiewe rehabilitasiekamp vir tieners gestuur, maar iets nie pluis nie. Tieners begin verdwyn en in hul plek verskyn die vreemdste gediertes in die woud.”

Die meisie in die maanlig het in Junie op die rakke verskyn. In dié boek kom Babette ook op ʼn nuwe dorpie aan waar pa haar by ʼn vreemde tannie moet laat bly sodat hy oorsee kan gaan werk. Op Rustfontein is daar ʼn legende van ʼn meisie in die maanlig wat glo lewendig begrawe is. Babette se grootste vrese het te doen met lykswaens en zombies. Sy is ook nie te lank op die dorp nie of die vreemdste dinge begin hier gebeur.”

Hugo sê hy is opgewonde oor sy jongste boek wat in Augustus uitgegee word.

“Sy naam is Die groen watergraf en dit is ʼn storie wat nie enige bonatuurlike elemente bevat nie. Ek dink egter hierdie storie kan dalk maklik waar word as daardie mense net mal genoeg is.

Hy vertel die storie gaan oor ʼn seun wat in pleegsorg geplaas word by ʼn familie op ʼn plaas.

“Die seun is baie opgewonde oor die gesin, maar as hy daar aankom, kan hy sien die mense is maar vreemd – tog is hulle aanvanklik baie vriendelik met hom. As die maatskaplike werker egter haar rug draai, besef hy hier is groot fout met hierdie mense.

“Sy nuwe gesin het ʼn troetelkrokodil in hul agterplaas wat hulle hul dogter noem en Wian se grootste vrees is natuurlik reptiele.”

Hugo sê hy hoef darem nie vreeslike navorsing vir sy boeke te doen nie, maar soms moet hy seker maak van iets soos die polisiediens se range.

Die vraag wat hy, as skrywer, gereeld vra, is gewoonlik “Wat as?”. Die idees vir sy boeke put hy uit sy eie leefwêreld.

“Ek is ʼn onderwyser en was onlangs op ʼn skooltoer in New York waar ons die Museum of Natural History besoek het.

“Terwyl ek een van die realistiese standbeelde in die museum van nader beskou het, het ek begin wonder wat sou ek maak as die standbeeld sy kop na my draai of sy oë sou knip. Dit het toe die idee vir Web van die mummie geword.”

Hugo besef hy skryf vir ʼn mark wat weet wat hulle wil lees. Hulle sal nie sommer ’n boek aanhou lees net omdat hulle hoop dit sal dalk later beter raak nie. Hy sê dit was vir hom ’n natuurlike keuse om vir kinders te skryf omdat hy ʼn laerskoolonderwyser is. Rillers was maar net die volgende stap omdat hyself dié genre so geniet.

Verder is dit vir hom heerlik om te weet sy boeke is in biblioteke.

“As ek dan nooit weer ’n boek sou skryf nie – wat ek natuurlik hoop nie die geval sal wees nie – weet ek ten minste my boeke is daar op die rak en ek het my bydrae tot die literatuur vir kinders gelewer.

Hy glo Stephen King is die onbetwisbare meester op die gebied van rillers skryf.

“Om eerlik te wees, het ek nog nie onlangs weer iets van hom gelees nie, want ek lees die laaste 10 jaar net jeuglektuur en kinderboeke. Ek het darem na Cujo, ʼn oudioboek van Stephen King, geluister.”

de-wet-hugo-se-boeke-troula-goosen-facebook

De Wet Hugo se boek “Die Meisie in die maanlig” is nou op die rakke en in Augustus verskyn daar nog ‘n boek in dié reeks. Foto: De Wet Hugo se Facebook-blad.

Wat is die skrywer se raad vir ouers wat sukkel om hul kinders aan die lees te kry?

“Ek dink die slegste ding wat iemand kan doen, is om ʼn kind te dwing om ʼn sekere boek te lees. Ek kry dikwels die idee, as ek so op sosiale media kyk, dat ouers boeke vir hul kinders wil kies.

“Neem eerder jou kind na ’n boekwinkel of ’n bibliotekaresse en laat hulle self iets kies waarin hulle belangstel. Daar is so ’n wye verskeidenheid van kinderboeke vandag – as ’n seun byvoorbeeld van krieket hou, sal hy beslis ʼn boek oor krieket kan kry. Moet hulle net nie forseer om ʼn spesifieke boek te lees nie.”

Hy het ook ’n stukkie raad vir ’n voornemende jeugboek- of rillerskrywer: “Belê in ’n goeie skryfkursus. Jy gaan dalk dink jy het eintlik al hierdie goed geweet, maar jy het iemand nodig om jou net weer aan die basiese beginsels van goeie skryfwerk bekend te stel.

“En staal jouself dan maar daarna vir baie afkeurbriewe, want dit is maar hoe dit in die begin gaan.”

Hugo sê hy het reeds talle idees vir ʼn nuwe boek en hy werk tans aan ’n nuwe konsep, maar het nog nie die spreekwoordelike pen op papier begin sit nie.

“Ek sal verseker in die volgende ses maande iets moet skryf as ek volgende jaar iets op die publikasielys wil hê. Ek werk goed onder druk, dus weet ek daar sal binnekort nog ’n boek wees.”

  • Luister na Esté Meyer Jansen se volledige onderhoud met De Wet Hugo oor sy Grilgrypersreeks boaan hierdie berig. Hugo het ook ‘n stuk uit sy jongste boek Meisie in die maanlig voorgelees – bly ingeskakel daarvoor!

Hier is ‘n voorsmakie van Hugo se boek Die meisie in die maanlig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Z ·

So jammer dat kinderboekskrywers niks anders het om oor te skryf as grillerige grafte, monsters, zombies en ander gedrogte nie.

Z ·

En net daar sê Maroela Media ook dat ouers moet kyk wat hul kinders lees. Dit is nie net die internet wat boos is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.