Die Slag van Donkerhoek 120 jaar later gedenk

Andries Breytenbach, skrywer van Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog, het die Boeremonument op Diamond Hill besoek om hulde te bring aan die Boerekrygers wat aan die Slag van Donkerhoek deelgeneem het. Die slag het op 12 Junie 120 jaar gelede plaasgevind. (Foto: Verskaf.)

Deur Ilze Nieuwoudt

“Ek het ons mense nog nooit mooier sien staan nie.” Só het kommandant-generaal Louis Botha, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se bevelvoerder, aan pres. Paul Kruger gerapporteer oor die Boerekommando’s se optrede by die Slag van Donkerhoek. Dié veldslag het op Vrydag 12 Junie 120 jaar gelede ten einde geloop nadat die Britte en Boere mekaar twee dae lank op die heuwels en rante oos en noordoos van Pretoria gepak het.

Kraal Uitgewers het Vrydag die Donkerhoek-gedenkterrein en -begraafplaas besoek om dié slag te gedenk. Barend Uys, ’n nasaat van die Skotse regimentsersant-majoor van die 9th Lancers, Walter Grant, wat ook aan dié slag deelgeneem het, het die besoek meegemaak. Dié veldslag lê hom na aan die hart.

“’n Mens kan so maklik net die groot prentjie van die geskiedenis raaksien en dan vergeet dat die geskiedenis in werklikheid saamgestel is uit die verhale van gewone mense soos ons.”

Grant se regiment het ná die oorlog ook diens gedoen in die Transvaal-kolonie, maar toe hy in 1910 terugkeer na sy geboorteland, het sy seun, Barend Uys, se oupagrootjie, agtergebly, die Afrikanerkultuur omarm en verafrikaans. Verskeie van Uys se voorouers het gedurende die oorlog ook aan Boerekant geveg.

Andries Breytenbach, skrywer van Kraal Uitgewers se jongste boek Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog beskou dié veldslag as ’n belangrike een in die Anglo-Boereoorlog én as een wat ’n uitsonderlike bydrae gemaak het om die Boere se krygsmoreel op te hef. Die hoofstad van die ZAR, Pretoria, is skaars ’n week tevore deur die Britte ingeneem en verskeie senior Boeregeneraals was teen dié tyd reeds bereid om vrede te maak en het selfs by Kruger aanbeveel dat vrede gesluit word.

“Hulle moreel was in die grond, maar toe hulle ’n week later hier veg, het die hele situasie omgedraai. Nadat hulle keer op keer aangeval is, het hulle daarin geslaag om vir twee dae lank die Engelse hier teë te hou en weer aan te gaan,” verduidelik Breytenbach. Volgens hom het Donkerhoek die Boere se moreel ’n noodsaaklike versterking gegee.

“Dit [die Slag van Donkerhoek] het daartoe gelei dat daar waar die Boere gereed was om oor te gee, hulle vir byna twee jaar nog kon voortveg. En in daardie twee jaar het die heldedom van die Afrikaner eintlik na vore gekom en is dit gebore.”

AfriForum se hoof van kultuursake en uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers, Alana Bailey, het Vrydag ook ’n ruiker by die Donkerhoek-Boeremonument gelê. Sy meen die Donkerhoek-slagveld bied ’n ryke ervaring.

“As jy self daar staan, die skanse sien wat die Boere gebou het, die grond onder jou voete voel, oor die terrein uitkyk, besef waar hierdie geskiedkundige gebeure afgespeel het én die weersomstandighede aan jou eie lyf voel, is jou belewenis nog meer intens. Daarom moet ons ons terreine, museums en monumente bewaar om regtig ons geskiedenis lewendig te hou.”

Die Donkerhoek-terrein bied ’n uitstekende panorama oor die suidelike deel van die slagveld. Britse soldate en offisiere wat in die geveg gesneuwel het, onder wie ’n Britse aristokraat, lt.kol. David Stanley William Ogilvy, die 11de graaf van Airlie, is hier aan die voet van Diamond Hill begrawe. Aan die bopunt van die koppie gedenk ’n monument die slag en die Boerekommando’s wat hier geveg het.

Kraal Uitgewers het blomme neergelê om dié wat aan die slag deelgeneem het, te gedenk. Verskeie Boere-skanse wat as beskerming moes dien tydens die slag, is nog op die terrein sigbaar en is ’n stille herinnering aan die veldslag wat ’n ware keerpunt in die Anglo-Boereoorlog was.

Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog, onder redaksie van die historikus prof. Fransjohan Pretorius, spruit uit Breytenbach se meestersgraadstudie oor dié slag. Dit verskyn later vandeesmaand by Kraal Uitgewers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

Breek daardie beelde af – is aanstootlik vir Boere. Sê maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.