Die stilte in myself

Riana Scheepers en Hannetjie de Clercq

Purper en kaneel, komyn en smarag, die kunsboek oor die lewe en werk van die kunstenaar Hannetjie de Clercq wat in 2012 verskyn het, was oombliklik ‘n wegholsukses. Riana Scheepers se teks, geskryf in ‘n liriese narratief, in kombinasie met haar kunstenaarsvriendin se skilderye, het beide lesers en resensente gaande gehad.

‘n Uitsonderlike afdeling van dié boek was die gedigte wat Scheepers spesiaal geskryf het vir ‘n tiental skilderye wat in die boek opgeneem is- ‘n unieke simbiose van kunsvorme wat dié twee kunstenaars se talente ten beste ten toon stel.
‘n Luukse weergawe van hierdie pragboek het ten einde 2012 verskyn. Die boek, in ‘n eksklusiewe en eenmalige oplaag van net 100 boeke, het dadelik ‘n versamelaarsitem geword en is gretig deur kunsversamelaars en letterkundiges opgeraap. Wat dit so gesog gemaak het, is dat elkeen van die genommerde eksemplare ‘n oorspronklike miniatuurskildery van die kunstenaar bevat, met ‘n gedig wat die skywer spesiaal vir elke skildery geskryf het. Die toonaard van verse sluit aan by die mistieke kleure, die nostalgiese verlange na die misterie en die ontwykende geheimenisse van vroue…temas wat eie en uniek is aan die skilderwerk van Hannetjie de Clercq.

Talle mense wat die miniatuurskilderye en verse op uitstalling gesien het, maar nie ‘n boek in die hande kon kry nie, of bekostig nie, het die kunstenaar en die skrywer versoek om die 100 miniature en verse in boekvorm bekend te stel. Die stilte in myself is die eindresultaat. Dit is ‘n boek wat op treffende wyse die intimiteit en die enigmatiese spektrum van emosies van vroue uitbeeld; van die jong meisie wat met ‘n rooi mond die wêreld uitdaag, tot die misterie van ‘n vrou wat agter ‘n masker skuil; van die vrou wat vir die voetstap van haar minnaar wag, tot die aartsmoeder wat haar verbonde voel aan die aarde, en die hemel.

Die stilte in myself is ‘n boek wat die leser deurgaans laat wonder of ‘n vrou werklik ‘n vrou is, of dalk ‘n engel?

Oor die skrywer en die kunstenaar:
Riana Scheepers is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Uit haar pen het agt kortverhaalbundels, twee romans, ‘n digbundel, twee rubriekbundels, kinderverhale en verskeie akademiese en joernalistieke artikels verskyn. Sy is ook samesteller van vyf bloemlesings wat in Suid-Afrika en in België verskyn het. Haar literêre werk is vertaal in Nederlands, Spaans, Frans en Engels. Sy is reeds bekroon met die ATKV Kinderboekprys. Riana woon op die historiese wynplaas De Compagnie in die Wamakervallei. Sy is bedags plaasbestuurder en snags skrywer. Sy woon ook op Paternoster in ‘n visserhuis, in Namibië in ‘n spookhuis en in ‘n kliphuis in die Tankwa-Karoo.

Hannetjie de Clercq is ‘n kunstenaar wat haarself misterieus agter sluiers versteek. Intens privaat en beskeie is sy, bekend daarvoor dat dy nie oor haar kuns praat nie. “Laat my skilderye self praat,” sê sy. In die onthullende dans van sewe sluiers is hierdie uitsoderlike kunstenar des te meer verleidelik, veral as die sluierwaas in ‘n ligte bries effens lig om aan haar die buitestaander ‘n glimps te gee op haar ry en geskakeerde wêreld, wat kortstondig sigbaar is.

Uitgewer:LAPA Uitgewers
Prys:R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.