Boek: Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (deel 2)

W.A.M. Carstens en E.H. Raidt

In hierdie boek – wat in twee dele gepubliseer is en gedeeltelik gebaseer is op E.H. Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – word opnuut gekyk na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis van Afrikaans (grondig vernuwe en beduidend aangevul) én veral Afrikaans se Afrikaherkoms – oor die opbouproses sedert die 17de eeu om Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken te kry, Afrikaans se ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu en veral die aanneem van die funksies wat hiermee gepaard gaan, Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede en die bevrydings- en versoeningsprosesse wat hierna nodig was. Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ʼn gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans na vore kom.

Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en vanuit Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het). Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies ’n nuwe, meer volledige en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede.

In Deel 1 is die Europese verlede van Afrikaans weergegee. In Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan bod. Die boek verken paaie wat nog nie voorheen ontgin is nie en dit sal ʼn besliste bydrae tot die debat oor Afrikaans se verlede wees.

Oor die outeurs

Prof. WAM Carstens was dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (1977-1979) en die Universiteit van Kaapstad (1980-1991) voordat hy in 1991 aan die PU vir CHO as dosent in die Afrikaanse taalkunde aangestel is. Hy is in 1994 bevorder tot vol professor in die Afrikaanse taalkunde. Hy is sedert 1 Januarie 2001 Direkteur van die PU vir CHO (sedert 2004: Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit) se Skool vir Tale.

Prof. Edith Raidt was tot met haar aftrede  in 1996 professor in Historiese en Afrikaanse Taalwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna was sy die stigter-president en hoof uitvoerende beampte van die St. Augustine College van Suid-Afrika in Johannesburg, ‘n Katolieke privaat ‘universiteit’ en is sedert 2005 Emeritus President. Sy was ook lid van etlike vakverenigings, onder andere  is sy “Buitenlands Erelid van de Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde” (Gent).

Sy is die outeur van Afrikaans en sy Europese verlede (1978, 3de uitgawe 1991), Einführung in Geschichte und Struktur des Afrikaans (1983), asook Historiese Taalkunde: Studies oor die geskiedenis van Afrikaans (1994), ontvanger van die  C.J. Langenhovenprys vir Taalkunde van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1994, asook ontvanger van eredoktorsgrade van die voormalige PU vir CHO (tans die NWU) (1997), Universiteit van die Witwatersrand (1998), UPE (1999) en die Universiteit van Natal (2003).

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R750,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

engels het veel meer van n “apartheidsverlede”. TALLE apartheidswette was gebaseer op wette wat Britse koloniale heersers in die Britse, Kaapse en Natalse parlemente gemaak het. Oral oor die ou Britse Empire was Engels ook die taal van oorheersing en onderdrukking. En so saam met dit was daar ook maar lekker sosiale diskriminasie en politieke onderdrukking in talle Britse kolonies.
As dié feite nie waar is nie, waarom was daar dan liberation movements in Zambië, Rhodesië, Indië ens ens?

Grys ·

Grond onteiening word ook gedoen danksy n wet van 1913, toe al die afrikaners brandarm was. Onthou die volgede jaar se rebelie in 1914? Onthou jy die ANC(SANAC destyds) se begin in 1912.

humor ·

Jy is heeltemal reg. Die engelse het selfs die feit dat swatrtes nie stemreg in die boere republieke gehad het nie aangevoer as n genoegsame rede om die engelse te forseer. Na die oorlog het hul dan self ook nie aan die swates stemreg gegee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.