Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika

WAM Carstens & EH Raidt

In hierdie boek – wat in twee dele gepubliseer word en gedeeltelik gebaseer is op EH Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – word opnuut gekyk na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis van Afrikaans (grondig vernuwe en beduidend aangevul) én veral Afrikaans se Afrikaherkoms – oor die opbouproses sedert die 17de eeu om Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken te kry. Afrikaans se ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu is ook ingesluit en veral die aanneem van die funksies wat hiermee gepaard gaan, asook Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede en die bevrydings- en versoeningsprosesse wat hierna nodig was. Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ʼn gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans na vore kom.

Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en in Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het). Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies ’n nuwe, meer volledige en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede.

In Deel 1 word die Europese verlede van Afrikaans weergegee. In Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan bod. Die boek verken paaie wat nog nie voorheen ontgin is nie, en dit sal ʼn besliste bydrae tot die debat oor Afrikaans se verlede wees.

Oor die outeurs:
Prof. WAM Carstens was dosent aan die Universiteit Stellenbosch (1977-1979) en die Universiteit van Kaapstad (1980-1991) voordat hy in 1991 aan die PU vir CHO as dosent in die Afrikaanse taalkunde aangestel is. Hy is in 1994 bevorder tot vol professor in die Afrikaanse taalkunde. Hy is sedert 1 Januarie 2001 direkteur van die PU vir CHO (sedert 2004: Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit) se Skool vir Tale. Hy het verskeie publikasies al die lig laat sien: Norme vir Afrikaans. Riglyne by die gebruik van Afrikaans en Afrikaanse tekslinguistiek en onlangs Teksredaksie. Hy is lid van verskeie vakverenigings (nasionaal en internasionaal) en is onlangs aangewys as voorsitter van die eerste Afrikaanse Taalraad. Hy is ook ʼn gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting.

Prof. Edith Raidt was tot met haar aftrede in 1996 professor in Historiese en Afrikaanse Taalwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna was sy die stigter-president en hoof uitvoerende beampte van die St. Augustine College van Suid-Afrika in Johannesburg, ʼn Katolieke privaat ‘universiteit’ en is sedert 2005 Emeritus President. Sy was ook lid van etlike vakverenigings, onder andere is sy “Buitenlands Erelid van de Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde” (Gent). Sy is die outeur van Afrikaans en sy Europese verlede (1978, 3de uitgawe 1991), Einführung in Geschichte und Struktur des Afrikaans (1983), asook Historiese Taalkunde: Studies oor die geskiedenis van Afrikaans (1994), ontvanger van die CJ Langenhovenprys vir Taalkunde van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1994, asook ontvanger van eredoktorsgrade van die voormalige PU vir CHO (tans die NWU) (1997), Universiteit van die Witwatersrand (1998), UPE (1999) en die Universiteit van Natal (2003).

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R450-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Verskyningsdatum:
Deel 1 ‒ November 2017
Deel 2 – April/Mei 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.