Dié tiener skryf al van kleins af

Karmen saam met haar gesin. Foto: Facebook/Liesel Krause-Wiid

Karmen saam met haar gesin. Foto: Facebook/Liesel Krause-Wiid

Die skrywer, Roald Dahl, het gesê as mens enigiets in die lewe wil bereik, moet jy baie boeke lees. Karmen Wiid (14) is ʼn goeie voorbeeld van wat mens kan bereik wanneer jy lief is vir lees. Dié tiener het reeds op 12 haar eerste boek geskryf.

Karmen se liefde vir boeke en skryf het reeds op ʼn vroeë ouderdom begin en sy meen haar ma het dié liefde by haar gekweek. “My ma het altyd vir my gelees en stories vertel toe ek klein was. Ek is nou vreeslik lief vir lees en soms sal elemente van ander stories my verbeelding prikkel en dan sal ek sommer begin skryf.”

Toe Karmen ʼn skryfopdrag by die skool ontvang het, het sy besef skryf is vir haar maklik. “Ons moes ʼn storie skryf van ʼn bladsy lank en ek het op vier bladsye gestop. Ek het nog altyd gesukkel om by die perk te bly as dit by skryf kom. Ek dink dis een van die dinge wat my laat besef het ek het regtig ʼn passie vir skryf.”

Haar eerste boek, Ella, spruit uit ʼn storie wat haar ma haar vertel het oor die Kruger-munte. “Ons was met vakansie in die Krugerwildtuin en daarna by my ouma-hulle in Steynsrus. Daar het dadelik ʼn storie in my kop begin broei en ek het gewonder hoe ek die Kruger-munte en dié pragtige plattelande dorp in my storie kan kry.”

Karmen sê sy skryf vir tieners wat ʼn bietjie wil ontvlug en beskryf Ella as ʼn lekker leesverhaal vol avontuur en liefde. “Dis ʼn storie waarmee hulle sal kan identifiseer.”

Haar inspirasie kom van die wêreld om haar en Karmen sê sy skryf oor dinge wat sy beleef of waaroor sy wonder. “Die lekkerste deel van skryf is wanneer ek myself so inleef in my karakters – ek dink nie eers wat gaan gebeur nie, die karakters lei my.”

Karmen gee ook raad vir jong skrywers en sê mens moet net begin skryf.

“Al skryf jy twee of ʼn honderd woorde, begin net. Die belangrikste ding om te onthou, is dat jy nie ʼn boek hoef te publiseer om ʼn skrywer te wees nie. Skryf jou verhaal – laat dit uit jou kom en speel met jou verbeelding.”

Karmen se boek Ella is by die Voelgoedwinkel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eendjie ·

Goeie ouerskap. En goeie raad: begin net skryf. Of begin net watookal in die lewe jy wil doen, doen dit net, jys nooit te jonk soos sy of te oud soos ek nie.

AmY ·

Hierdie meisiekind gaan dit nog ver bring. Hou haar dop en onthou haar naam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.