Die Uile en Trompie vlieg steeds hoog

Die Uile in Mosambiek 12 voorblad“Die heruitreiking van Die Uile­-reeks in die 21ste eeu is ʼn anachronisme. Die leefwêreld van die Uile is ʼn idilliese, vergange tydperk. In ʼn era waar skoolkinders per WhatsApp kommunikeer en skooltake op tabletrekenaars doen (en nie perskes steel nie) is Die Uile se vlerke helaas vandag geruisloos.”

Hierdie aanhalings kom uit ʼn resensie van Proteaboeke se heruitgawe van Die Uile-reeks, en ʼn mens kan seker aanvaar dieselfde afwysende kritiek sal geld vir die heruitgawes van die Trompie- en Saartjie-reekse deur NB-Uitgewers.

In albei gevalle sal dit foutiewe aannames wees.

Talle lesers van die resensie op Netwerk24 het dit afgeskiet. Hier is net twee van hulle aan die woord:

♦ My seun is 10 jaar oud en verslind hierdie boeke. Watter kind droom nie daarvan om avonture te beleef wat jou na asem laat snak nie?

♦ Volgens hierdie logika het Asterix en Kuifie dus ook nie bestaansreg nie.

Maar die sterkste argument kom van Nicol Stassen, direkteur van Proteaboeke, uitgewer van hierdie en ander ou reekse. Hy sê hul suksesvolste reeks nog is Die Uile, wat beter verkoop as die moderne jeugreekse, waarvan hulle baie uitgee. Daar is tans omnibusse van Die Uile op die mark.

“Sewe van ons toptien e-boeke is Die Uile-boeke en twee van die ander is jeugboeke van CJ Langenhoven.”

Trompie en Saartjie is reeds in 1950 deur Topsy Smith geskryf (hy het die bynaam Bettie Naudé vir sy Saartjie-boeke gebruik) en hulle vaar net so goed. Hulle was tot 1995 in druk en is in 2006-’07 deur Human & Rousseau heruitgegee. Omnibusse van die reekse het in 2013 verskyn en Omnibus 5 verskyn later vanjaar. Die inhoud is effens vernuwe deur Kobus Geldenhuys.

Met die binnekoms van die internet met sy speletjies, WhatsApp, verstedeliking en dies meer verskil die leefwêreld van 2016 se jong lesers darem hemelsbreed van ʼn dekade of twee gelede. En tog sê Simoné Hough van Human & Rousseau:

trompie 3“Trompie en Saartjie is – nes Die Uile – steeds relevant vir moderne jong lesers en verkoopsyfers bewys dit.”

Die aankopers is vermoedelik ouers wat daarmee bekend is en omdat die reekse ʼn goeie naam het. Hulle verkoop jaarliks ongeveer 60 kinder- en jeugboeke, amper ʼn kwart van die hele maatskappy se publikasielys. (In die geval van Protea is dit 55%.) Van die nuwer jeugverhale vaar reekse soos Die speurhond Willem en Speurder Kwaaikofski ook baie goed.

Carla Lang van Protea voel dat ouers gemakliker voel met bekende reekse wat hulle self gelees het. Die Uile was destyds gemik op tieners van tot so 18 jaar, maar sy dink dis nou meer geskik vir kinders tot so 14 jaar.

Stassen sê die meeste nuwe skrywers van jeugboeke is nie baie goeie skrywers nie en net sowat 5% van die aangebode manuskripte slaag die toets. Eintlik is daar ʼn tekort aan nuwe jeugboeke van gehalte.

“Die meeste nuwe skrywers van jeugboeke is nie goeie skrywers nie. Die pryse word jaarliks gewen deur miskien drie van die ‘nuwe’ skrywers, van wie sommige ook al na hul veertigs op pad is.”

Dis dan seker ook van die redes waarom stokou reekse soos Stella Blakemore se Maasdorp-reeks (1932) met tussenposes van ongeveer 20 jaar tot 1995 vier heruitgawes beleef het. Haar reeks oor Keurboslaan (1941) is ook steeds gewild.

Ou bekendes soos Karl Kielblock se Lafras Cuyper-reeks en CF Beyers-Boshoff se Jasper-reeks (1959) het ook nog hul aanhang.

Reekse soos Die Uile is oor die afgelope 60 jaar keer op keer uitgegee in nuwe uitgawes met nuwe voorblaaie wat met die tyd tred hou en dit bly steeds ʼn wenresep. Dieselfde word oorsee gesien en Enid Blyton se reekse, The Famous Five en The Secret Seven, is al ontelbare kere herdruk, om nie eens te praat van die fabels van Lafontaine, Anderson, Grimm en vele ander nie.

Stassen dink nie dat ouer mense Die Uile lees of herlees nie, wat beteken al die nuwe lesers is jonk. Dit is wel moontlik dat die aankope deur ouer mense vir hulle families gedoen word. Die feit dat so baie van Die Uile se e-boeke verkoop, is vir hom ʼn verdere bewys dat hulle deur jong lesers gelees word.

Carina Hanekom, bemarker by Protea, sê die verkope van “ou” reekse is deurgaans stabiel, terwyl ander/nuwe jeugboeke ʼn bietjie meer bemarking nodig het. Protea gee tans ook weer die Jasper-reeks van CF Beyers-Boshoff (wat van 1959 dateer) uit en die boeke vaar baie goed.

Dis goed om te weet dat Trompie se kouse steeds oor sy skoene hang, dat Blikkies nog grassies kou en dat Saartjie steeds sukkel met die weerbarstige krul op haar voorkop. En dat Die Uile se vlerke in 2016 nog saam met baie ander ou en ook nuwe jeugboeke klap.

  • Hierdie artikel is oorspronklik op LitNet gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Boeke, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Basson ·

Fantasties dat dit terugkeer en moenie Fritz Deelman vergeet!!!

(Hoekom word romans wat bv nog melding maak van (bv 19de eeu milieu) perdekarre nie daaraan ‘gemeet’, maar oo wee, moet NET NIE iets in Afr skryf wat kamma nie ‘hedendaags en relevant is nie’!)

Nico K ·

Ek stem heeltemal saam. Historiese romans wat in die ou tyd afspeel is baie gewild. Wat is die verskil? En buitendien die mens verander nie. Seuns bly nog seuns en meisies bly nog meisies.

Maria van Dieweeck ·

Dieselfde argumente oor die Bybel! Ai tog, dit gaan oor die mens, en die mens kan op sy kop staan en met n ‘vliegkar’ na die ‘Spaar’ zoem vir n stukkie vleis om te braai, of iets, maar as die mens daar land is dit net n mens. Sal vies wees as parkering gesteel word en as iemand erens indruk ens. Teerpaaie en hoe geboue verander niks van mens wees. Daarom sal die Bybel altyd relevant wees, en mooi ou verhale ook. Zoem zoem of denot’

Hermien Visser ·

My seun het Die Uile verslind, almal gelees en hy is spyt daar is nie nog wat hy kan lees nie.

JC ·

Die Uile en Trompie is bevonk, en om alles te kroon in AFRIKAANS!!!!
Dit was en sal nog altyd my gunsteling boekereeks vir kinders bly, en ek beveel dit vir enige Afrikaner seunskind aan!! Dankie Protea! Die Uile en Trompie word nog steeds verslind.
Dit wys jou net daar is definitief ‘n leemte in ons Afrikaner kinders se opvoeding wat insluit die eenvoudige waardes van selfrespek en “kindwees”, welke leemte beslis gevul sal word deur die lees van hierdie wonderlike heruitgawes.

Piet ·

Basson, ek het nie geweet daar is nog ‘n ou wat my held van kleintyd ken nie! Fritz Deelman! Hoe oud is jy, so 45?

Leonard van der Dussen ·

Kom ons weer eerlik: Die Uile was in my kindertyd al verouderd – en tog het ons dit oor en oor gelees, in die avonture ingeleef en dit geniet. As ek terugdink, het ek tot ‘n mate dit wat bietjie ouderwets was in die basiese feite, sommer self so bietjie in my gedagtes aangepas vir my eie verwysingsraamwerk en die lekker storie geniet – dis die soort boeke waar jy as seun jouself eintlik in die karakters inplaas en vir so uurtjie self ‘n held word. Lyk nie of daar veel skrywers vandag is wat dit regkry om sulke karakters en lekker avonture daar te stel nie.

James ·

En uit Cor Dirks se pen ook – moenie “Die Otters” en Joof en sy maats” vergeet nie..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.