Die verhaal van Seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp

Die boek Dankie, Generaal (Jonathan Ball-uitgewers) is ʼn baie unieke boek oor die Anglo-Boereoorlog, met foto’s en verhale wat nog nie voorheen gesien en gehoor is nie, te danke aan fyn en intense navorsing deur Nico Moolman, skrywer van die boek. In hoofstuk 9 van die boek vertel hy een van dié besonderse verhale: In 2015 is hy genader om op die dorpie Hobhouse in die suidoostelike Vrystaat ʼn huldeblyk aan Emily Hobhouse te lewer, met die herdenking van haar 150ste verjaardag. Die dag van die praatjie, 16 April, was toevallig ook die NG kerk op die dorp se basaardag, en Nico en sy vrou het ʼn draai by die basaar gemaak. Hy was verbaas toe ʼn ouer vrou met ligblou oë hom nader en sê dat sy vir hom ʼn verhaal wil vertel wat in die Bethulie-kamp sy oorsprong het. Sy was Henriëtte Wessels van die ouetehuis in Wepener, en haar verhaal klink só:

* * *

Een aand net na middernag in die Bethulie-konsentrasiekamp het ’n jong ma in ’n tent gesterf terwyl sy haar kind in die lewe gebring het. Dit was Mei 1901 en bitter koud, met ’n snerpende suidewind wat deur murg en been gesny het. In dié kamp, soos in die meeste ander, was die noodlot die dirigent en duisende vrouens en kinders die lydenskoor.

In die tent was daar ’n 14-jarige meisie – ’n weeskind wat nie verwant was aan die vrou nie.

Sy bedek die gestorwe vrou se oë met twee oulap se munte. Wat nou van die pasgebore baba? Sy begin weemoedig te snik wanneer die ander vroue in die tent vir haar sê sy moet hom laat sterf, want daar is geen kos vir die babaseuntjie nie. Hy sal nie oorleef nie.

Boervrou in kamp (Foto verskaf)

Al kry sy self swaar, stu daar ’n oorlewingskrag van iewers diep binne haar wese na bo. Dié lot vir hierdie kind gaan sy nie aanvaar nie. Van toe af begin sy elke vier uur, dag en nag, moedersmelk bedel by al die voedende vroue in die kamp. By die meerderheid tente word sy weggewys, maar hier en daar kry sy ’n paar druppels melk. Bietjie vir bietjie voer sy die baba.

Saans draai sy hom toe in haar ekstra klere om hom warm te hou. Sy versorg hom met al die liefde wat sy kan gee, al gaan dit swaar. Sy sagte blou ogies glinster wanneer sy daarin kyk.

’n Paar weke later kom dominee Abraham Lückhoff, die kampprediker, tot haar redding. Hy kon beesmelk uit die dorp in die hande kry en bring dit vir haar. Maande later kou sy haar vaste rantsoene fyn en voer die seuntjie soos ’n duif haar kuikentjie. Sy noem hom Seuntjie en gou ken hy sy naam.

Seuntjie het nooit gehuil nie, net gekreun wanneer hy olik was. Op ’n dag het hy baie siek geword. Die ander vroue in die tent het geswyg wanneer sy met hom praat en hom sonder ophou vertroetel. Drie weke lank het die koors en masels hom gekasty, maar sy kragte het gehou. Ou miester Roos, die doodskissmous in die kamp, sou nie ’n daler verdien waar liefde en geloof so sterk is nie.

Toe vrede aan die einde van Mei 1902 aangekondig is, kon Seuntjie al waggelwaggel na die donkiewa strompel waarop hy en sy aanneemma vort is. Saam is hulle na van haar oorlewende familie, waar hulle ’n eenvoudige lewe gelei het. Die meisie het met behulp van verskillende mense briewe aan die owerhede, instansies, koerante en selfs aan generaals JBM Hertzog en Jan Smuts geskryf om Seuntjie se familie te help opspoor. Sy het vermoed dat sy pa iewers in ’n krygsgevangenekamp was, maar sy het geen taal of tyding ontvang nie.

Seuntjie was al drie jaar oud toe sy pa uiteindelik met haar in aanraking kon kom. Hy was inderdaad ’n banneling.

Dit was bitter swaar vir haar om Seuntjie te laat gaan, maar sy het geweet dit kon nie anders nie. Drie maande later ry sy met die trein om vir hom te gaan kuier soos sy en sy pa ooreengekom het. Op die stasie het die kind aangehardloop gekom met twee rooiwang-nooiensperskes vir sy “Moekie”. Met die omhelsslag het die perskes se sap van die druk en soen teen haar nek afgeloop, maar dit het nie saak gemaak nie. Hulle was weer bymekaar.

Daardie aand het Seuntjie se pa haar die jawoord gevra, al was dit net om sy kind se onthalwe – hy kon sien hoeveel die kind die enigste ma wat hy ooit geken het, mis.

Seuntjie was die egpaar se enigste kind en het hard geleer op skool. Altyd gehelp waar hy kon en as jong man gespaar sodat hy ’n klein plasie naby Burgersdorp kon koop. Daar het hy as man sy merk gemaak deur met sybokhaarbokke te boer.

Seuntjie het sy ouers tot hulle oudag toe versorg.

***

Op hierdie punt het die bestuurder van die ouetehuis se bussie vir Henriëtte geroep om nader te staan vir die rit terug Wepener toe. So in die opstaan het sy Nico arm gedruk en gesê: “Seuntjie was ’n wonderlike man, Nico – want sien, hy was my pa.”

Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers
Prys: R310-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

 

Die volgende video handel oor die Doornbult-konsentrasiekamp in die Noord-Kaap. Dié video is deel van Wouter Botes se Doodloopspore-reeks.  Dié radioreeks is vroeër vanjaar op Pretoria FM uitgesaai en nou in CD-formaat beskikbaar. Die reeks word ook tans verfilm. Die eerste episode van Doodloopspore sal in Februarie 2019 op YouTube beskikbaar wees. Besoek gerus Doodloopsporese Facebook-blad vir meer inligting oor die reeks asook die verfilming daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jan ·

Seker een vd aangrypendste verhale wat ek al ooit gehoor het.
Dankie MM !!!

Jan

Charles ·

Joh! Wat ‘n verhaal- ek sit met trane in my oe!

Daar is GOUD in ons geskiedenis!

Maria ·

sjoe baie mooi storie lekker om ware verhale te luister deur swaartye en wow

Stien ·

Wat ‘n hartseer verhaal van dapper mense wat met swaarkry (wat ons sekerlik nie halfpad kan begryp nie) vir hulle nuwe lewes geskep het na die oorlog.

Karoomens ·

Wow – wat ‘n pragtige verhaal. Het nou in trane uitgebars.

Mien ·

Dankie Maroela Media. Ek gaan sommer nou die boek by Graffiti bestel.

Sann ·

Nico Moolman is ook die skrywer van die boek, Die Groot Kwilt, wat die stories vertel agter die foto’s wat gebruik is om die groot kwilt deken te maak. Dis die mooiste, menslike verhale uit ons oorlog-geskiedenis. As mens hierdie ware verhale lees, dan besef jy met ‘n baie diep hartseer, dat ons Afrikaners regtig nie altyd die haat en afsku verdien wat hedendaags so mildelik aan ons toegesê word nie.

Peet Schabort ·

En daardie kwilt is die handewerk van sy vrou Naomi. Dalk, Susan, sou dit van pas wees om by par.1 die sin te verander van ‘ . . . Nico en sy vrou het ‘n draai gemaak . . .’ na ‘ . . . Nico en sy vrou Naomi het ‘n draai gemaak . . .’
Veels geluk Nico met die woeker van jou skrywerstalent en jou geheue erger as ‘n olifant!! Jou vriend, Peet.

Elvira ·

Wat n pragtige ware verhaal. n Bittersoet gevoel oorweldig my nou. Ons mense het destyds baie swaar gekry maar hulle het aan hulle geloof vasgeklou.

JAN ·

Oeeee trane !!
Ek kry juis van Noodroep ‘n Bybelstudie oor ‘ Die gruwel van verwoesting. ” Absoluut skitterend.
[email protected].
Die ABO deur wit gewapende kultusbende was onvergelykbaar erg.

Hercules ·

wraggies ‘n oulike storie en ek lees dit jare nadat ek verhuis het uit Bethulie – nooit te oud om iets nuuts te ontdek nie!!

JSG ·

Wys die vasberadenheid van ons volk. My pa se ma is ook in 1901 in die Irene konsentrasiekamp gebore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.