‘Die wêreld is mal’

depressie-angs

Foto: Kristina Tripkovic/Unsplash.com

Hier volg ʼn uittreksel uit Verhale van Hoop deur Pieter van Zyl.

Ek is hier. Ek verstaan, want ek is steeds daar. My pad met angsversteuring kronkel agter my. Soos ’n reuseslang in die gras waarteen ek elke dag stry en waarvan ek, soos in die Bybel, die kop probeer vermorsel.

Mal. Waansinnig. Geestesiek. Sielkundig gestrem. ʼn Lewe met ʼn psigiese siekte. ’n Geneties oordraagbare siekte wat soos diabetes en hartkwale bestuur moet word. Niks minder nie. Niks meer nie.

Geringe veranderinge help ons rustiger raak; ʼn bepaalde skedule, iets om ons te herinner aan die pille wat op ʼn sekere tyd gedrink moet word, om gimnasium toe te gaan vir noodsaaklike oefening teen die brood en ander koolhidrate wat ons verslind en die newe-effekte van medikasie. Vet tot vetste binne ʼn paar dae. Veral die Wellbutrin wat my help om op te hou rook en die Dopaquel wat my help slaap.

In my ses en veertig jaar op aarde het ek psigiatriese hospitale grootliks vrygespring. Maar uiteindelik het die middeljare my toe nou ook ontkant gevang.

Alles van geld, teleurstelling, onbeheerste paniekaanvalle tot verraad het ʼn rol gespeel. Tog, terwyl ek onder die kraakwit hospitaallinne inkruip en vir my dokters wag, wonder ek: Hoe de… het ek hier beland?

Ek is in Saal G, Bed 18, in ʼn privaat hospitaal, die eenheid vir psigiatriese pasiënte. Drie dae gelede het ek dit voel aankom, seker soos mens die Covid-19-virus voel aankom. ʼn Onsigbare vuis om my hart, my bors wat toetrek. Ek word oorval deur paniek en dit voel asof ek nie kan asem kry nie. In die gim het ek amper omgekap; in die stort en op pad werk toe het ek duiselig gevoel.

Gelukkig het ek die volgende dag ʼn afspraak met my psigiater gehad. ’n Onverwagse huilbui het my oorval, ʼn ontroosbare hartseer en hopeloosheid diep binne-in my. Vir die eerste keer in my lewe was ek so desperaat dat ek selfdood oorweeg het.

In die tyd voor my toelating tot die psigiatriese hospitaal was depressie juis in die nuus met die skielike selfdood van die Amerikaanse mode-ontwerper Kate Spade op vyf en vyftig en kort daarna die Amerikaanse sjef en TV-persoonlikheid Anthony Bourdain op een en sestig. Albei was suksesvol, maar albei het teen depressie gestry.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) eis selfdood jaarliks sowat 1 miljoen lewens, met die meeste wat sterf weens ongediagnoseerde of onbehandelde depressie.

Statistiek Suid-Afrika se ontleding van doodsertifikate toon dat tot sowat 500 mense in ons land jaarliks hul eie lewe neem. Maar volgens navorsers van Africa Check is dié syfer veel hoër; hulle bereken daar was in 2012 sowat 6 133 gevalle van selfdood in ons land.

Ek dink aan my een vriend wat homself ʼn paar maande gelede in ʼn hotel op Beaufort-Wes opgehang het. Sy suster het vir my beeldmateriaal van veiligheidskameras gewys waarop hy met ʼn sak vol drank opstap kamer toe, vir die laaste keer. En dan die foto van hom wat aan die boonste spar van ʼn stapelbed aan ʼn tou hang…

Daar wás voor die tyd tekens. Hy het daaroor gepraat; selfs sy Facebook-profiel uitgevee. As hy maar net, soos ek, professionele hulp gekry het. Dalk sou sy storie dan ʼn gelukkiger einde gehad het.

“Jy is op die beste plek waar jy kan wees,” sê een van my vier kamermaats – ʼn student in Politieke Wetenskap – asof hy my gedagtes lees.

“Wil jy jouself seermaak?” vra die studenteverpleegster een van talle vrae om my innamevorm te kan voltooi.

“Nee, ek wil leef.” “Hoekom het dit gebeur?”

“Want ek’t depressie en angsversteuring oorgeërf.”

***

Die kalmeerpil het begin werk en ek sit in ’n spreekkamer saam met die psigiater, wat ’n sakkie met al die pille in my besit deurkyk.

Ek sou eers later uitvind onder daardie medikasie was daar dié keer snellers vir die depressie en angsversteuring wat my lewe soos ʼn tsoenami getref het. Die ergste was dat ek drie maande gelede ʼn verkeerde anti-depressant begin gebruik het. Ek wou toe ophou rook en dit sou my met die onttrekkingsimptome help. Nou, hier in die psigiatriese hospitaal, is my geestesgesondheid van die allergrootste belang, maar vir my fisieke gesondheid is dit ook belangrik dat ek ophou rook. Toetse het gewys dat my longfunksie nog goed is. Nou moet ek bloot wilskrag aan die dag lê terwyl die meeste van die psigiatriese pasiënte om my stook. Wat is erger: ʼn psigotiese episode of ʼn rookasem?

Die psigiater skryf vir my ’n ander antidepressant voor wat ook vir chroniese pyn help. Ek het neurofibromatose: niekwaadaardige gewasse wat uit die senuwees groei, soos krale, en pyn veroorsaak.

ʼn Sielkundige is deel van die span wat ek byna daagliks spreek. Ek en sy praat oor verhoudings en hoe om bande te verstewig, veral met vriende hier in die Kaap wat as my ondersteuningsnetwerk kan dien.

Die koswaentjie, drie keer per dag, met ʼn heilsame bord kos help met die genesing. Al die kundiges bly ons groep herinner ons moet die een of ander tyd terugkeer na die wêreld daar buite en die uitdagings trotseer. In my groep is ʼn juwelier, ʼn verpleër by ʼn daghospitaal, ʼn afgetrede ouditeur, ʼn dramastudent en ʼn strukturele ingenieur.

Die ingenieur se sneller vir sy ernstige angs is dat sy werk so stresvol is. Mense se lewe is in sy hande. Hy het nagmerries oor geboue wat inmekaartuimel. Die student het kwessies met haar gewig en om haar “eie stem te vind”. Die ouditeur is eensaam en die juwelier is ná ʼn huwelik van twintig jaar van sy vrou vervreem.

Dit ontgaan my nie dat ek bevoorreg is nie. My mediese fonds dek my behandeling; die uitsig van my bed af is op die Kompanjiestuin en Vlaeberg.

Deur die pillenewel dink ek aan die psigiatriese pasiënte van die Life Esidimeni Klinieke in Gauteng. Weens ’n tekort aan staatsgeld is meer as 1 700 van hulle in 2016 uitgeplaas na haglike plekke onder beheer van nieregeringsorganisasies. Tot 146 psigiatriese pasiënte is dood omdat hulle nie goeie sorg ontvang het nie. Agt word ná vier jaar steeds vermis. Met die hulp van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) het ek oor die tragiese gebeure verslag gedoen en van dié plekke besoek. Ek onthou mense wat doelloos rondgedwaal het, party kaal en sonder enige medikasie; volwassenes tussen kinders.

Nadat die krisis oopgevlek is en ’n ondersoek gevolg het, moet die staat nou R1,2 miljoen aan die familie van elke gestorwe pasiënt betaal. Die owerheid sal meer as R150 miljoen opdok, maar dit bring nie lewens terug nie.

Suid-Afrikaanse staatshospitale gaan steeds gebuk onder ’n tekort aan beddens in psigiatriese sale. Volgens onder andere die WGO se raming wag tot vyf pasiënte op ’n slag vir ’n bed.

In my tyd van heling begin ek weer brei, maak armbandjies en kleur soos Lize Beekman mandalas in. Dit alles help om jou vertroue te herwin sodat jy ʼn produktiewe mens kan wees. Tussendeur kyk ek Netflix se reekse Gypsy en Taboo op my skootrekenaar.

Saam met die arbeidsterapeut beraam ek en die ander pasiënte planne oor hoe om voluit te leef, soms net die oomblik te waardeer en ons emosies in toom te hou.

“Emosies is soos kinders. Jy wil hulle nie die kar laat bestuur nie, maar jy wil hulle ook nie in die kattebak toesluit nie,” is haar raad.

Toe my psigiater en die span besluit ek is weer myself, word ek ná twaalf dae ontslaan.

Die eerste twee dae is ek soos een van daardie wesens in The Walking dead. Ek loop sleepvoet rond en struikel van die min oefening.

Dit voel asof mense… wel, na my kyk asof ek mal is. Dit laat my van balans af voel. Maar ʼn paar dae later, terug op kantoor, sê my kollegas ek lyk goed. Met elke drukkie van ondersteuning en “welkom terug” vind ek my ewewig. Dit was lank voor die tyd van die koronavirus, toe ons op kantoor nog aan mekaar kon vat. Nou gebeur alles digitaal van die huis af en veroorsaak dat die paniek weer soos ʼn donker mis oor my gemoed inrol. As ek nie van die virus in die hospitaal gaan beland nie, dalk weer oor my psige…

Ek is nog hier. Ek het weer hoop.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mellie

Hierdie kon netsowel my storie gewees het. En saam met die pandemie knor die Swart Hond ál harder… Liefde en sterkte x