Die wêreld is te klein

Ons ry oral, vlieg verder, weet alles, ken almal … en dit maak my bang. Ek weet Riaan Cruywagen skrik vir Die Antwoord, Steve Hofmeyr se kind sukkel om sy van te skryf, Heidi Klum sit vas in die verkeer, Ashton Kutcher “ontspan” in ‘n borrelbad, Drew Barrymore gym …

Op ‘n klein skermpie in die studeerkamer van my plaashuis op die berg, kyk ek hoe vyf mense een kitaar speel. Ek sien hoe ‘n siek seuntjie hartroerend net voor sy dood gesels. Ek beleef die tsunami in Japan en kyk hoe Ryan Sandes die Nepal ultrawedloop wen.

En ek weet wat almal dink.

Eeue gelede was ‘n brandstapel my voorland, want net ‘n heks kan al hierdie dinge sien en weet. Maar vandag is daar Twitter, Facebook en YouTube… en wie weet wat nog.

Net om weer my ewewig te herwin, gaan knie ek brooddeeg en die reuk van warm gis kruip op in my neus. Stadig begin ek ontspan. Vanmiddag eet ons regte brood. Met menshande gemaak en deur die son se hitte laat rys. Ek stap saam met my honde stroompie toe en druk my voete in die vloeiende water in. Silwerskoon, uit ‘n fontein hoër op in die berg.

Later maak ek die vensters toe want donker wolke pak saam. Binne oomblikke klap die eerste blits. Al vier honde duik onder my stoel in! En dan trip die krag.

Weg is Twitter, weg is Facebook, weg is YouTube… En ons dog ons is die baas.

X

(Bestel Groete, Fran by http://groetefran.withtank.com/)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.