Digitale fotografie: ‘n Omvattende gids vir beginners en ervare fotograwe

digitale fotografie

Hennie Cronjé, Josef Steyn

‘n Omvattende gids vir beginner sowel as ervare fotograwe. Leer meer oor komposisie, beligting, visuele ontwerp en die toepassing daarvan in verskeie soorte fotografie. Onderliggende beginsels met voorbeelde daarvan word bespreek.

Die boek behandel die volle spektrum van inligting oor digitale fotografie ten einde die leser stap vir stap te lei vanaf die heel elementêre beginsels van fotografie tot gevorderde tegnieke wat deur weinig amateurfotograwe bemeester is.

– ‘n Substansiële deel van die boek handel oor komposisie en ontwerp, iets wat deur baie boeke oor fotografie afgeskeep word.
– Daarbenewens word die basiese begrippe onderliggend aan digitale fotografie grondig bespreek en vele voorbeelde oor die kreatiewe gebruik daarvan word verskaf.
– ‘n Reeks praktiese hoofstukke oor makro-, blom-, landskap-, wild- en portretfotografie gee praktiese voorbeelde oor die integrasie van die tegniese aspekte van fotografie met komposisie en ontwerp ten einde treffende foto’s te lewer.
– Die boek bevat meer as 500 foto’s en figure ter illustrasie van ‘n verskeidenheid tegnieke.

Oor die outeurs:
Hennie Cronjé is reeds sedert 1970 by fotografie betrokke. Fotografie was vir hom ’n wonderlik-skeppende aktiwiteit en hy het dit met mening aangepak. ‘n Aantal kursusse met Freeman Patterson, die vader van Visuele Ontwerp Fotografie, het sy fotografie tot groot hoogtes gevoer.
In die jare negentig begin hy om klasse en kursusse in fotografie aan te bied. “In die proses om ander te leer, leer jy self”, is sy siening hieroor. Sy gewilde opleiding sluit aspekte soos die kamera, ontwerp, komposisie en Photoshop in.
Tans is hy betrokke by Fotoskool, ’n webgebaseerde fotografie-opleidingsaktiwiteit, waar hy lede se foto’s evalueer en hulle van advies bedien. Deur Fotoskool het hy landwyd bekend geraak. Sy hoofbelangstelling in fotografie is makro- en kunsfotografie, hoewel hy ook landskappe en wildfotografie baie geniet.

Josef Steyn se belangstelling in fotografie het vroeg in sy lewe begin. Hy het sy eerste kamera in 1958 gekoop toe hy slegs 15 jaar oud was. Omdat fotografie in daardie tyd film-gebaseerd was en geld maar baie skraps, moes foute tot ’n minimum beperk word. Op hierdie stadium het hy die basiese beginsels en hul onderlinge afhanklikheid onder die knie gekry en geleer om dit toe te pas. ’n Paar jaar gelede het hy drie van Hennie Cronjé se kursusse bygewoon, die gapings in sy kennis oor digitale fotografie opgevul en fotografie met nuwe ywer en entoesiasme aangepak. Sy wetenskaplike opleiding en loopbaan in analitiese chemie dien as uitstekende agtergrond om die tegniese aspekte van fotografie op ‘n eenvoudige en verstaanbare wyse aan die leser oor te dra. In die bestudering van fotografiehandleidings het hy opgemerk dat daar weinig boeke in Afrikaans oor die onderwerp bestaan en dat die boeke in Engels dikwels slegs enkele aspekte van fotografie behandel. Daar was dus ‘n behoefte aan ‘n omvattende handleiding wat die tegniese aspekte kombineer met komposisie en ontwerp en dan te wys hoe om dit in verskeie soorte fotografie toe te pas. Vandaar dan hierdie omvattende gids wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is.


Uitgewer: Kwarts Publishers
Prys: R325-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek hier
Of bestel die boek in gedrukte formaat by Josef Steyn: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.