Drie lekkerlees romans

Dié drie romans vir volwassenes beloof ure se lekkerlees vermaak. As leser lag én huil jy saam met die vroue-karakters en vier jy hulle unieke menswees.

Donatello & Volksie (Marion Erskine) – Queillerie

As ligte romantiese komedies jou geval, sal jy mal wees oor hierdie onpretensieuse, ondeunde en beslis vermaaklike liefdesverhaal wat onlangs heruitgereik is. Volksie (deeltydse joga-instruktrise Zoë Zietsman) en Donatello (advokaat Anton Badenhorst) ontmoet aanlyn op die Matchmate-webwerf en kliek vanuit die staanspoor, maar dan spreek hulle af om mekaar in die regte lewe te ontmoet … en Zoë vat wraggies haar dooie hond saam op hulle eerste afspraak!

Staan die liefde enigsins ’n kans wanneer dit kom by die maltrap Zoë en die uiters konserwatiewe en perfeksionistiese Anton? Hulle leef immers in twee verskillende wêrelde – Zoë ry ’n afgeleefde Vespa en is werkloos, terwyl Anton agter die stuur van ’n silwer Audi TT klim en boonop ’n vennoot is by Vosloo & Vennote. Zoë laat Anton hoeka in die hospitaal beland!

Uittreksel: “En die één dag,” en Anton bly ’n oomblik stil om asem te skep, “die één dag wat ek jou vra om my ouers te ontmoet, gaan staan en beland jy in die verdomde tronk!”

Meer oor die skrywer: Marion Erskine is ’n wêreldreisiger van formaat. Hy het die uiters gewilde Facebook-groep “Lekkerleesboekrak” begin. Sy jeugverhaal Vlerke vir almal het in 2018 ’n ATKV-Woordveertjie ingepalm. Hy skryf ook gewilde radioverhale.

Bestel Donatello en Volksie hier.

Mooier as Marilyn (Anita du Preez)  – Quellerie

Hierdie heerlike, onopgesmukte en goed geskryfte verhaal het my vanaf die heel eerste bladsy geboei. Desiree van Vuuren se man, Vincent, is ’n suksesvolle chirurg van beroep. Duskant veertig en vaal vind sy onverwags uit dat hy boonop ’n aartsverneuker ook is – daar is sowaar vier ander vroue wat ook griewe teenoor hom koester! Desiree ondergaan, met die hulp van haar vriendinne, ’n transformasie. Sy herontdek ook weer haar passie om te bak. Vyf vasberade vroue op ’n sending van vergelding is immers nie ’n man se maat nie!

Dit is ’n absolute leesfees om saam met Desiree ’n Marilyn Monroe-toer in Hollywood mee te maak. Die boek is ook deurspek met verwysings na ikone soos o.a. Coco Chanel, Jackie Onassis, Rita Hayworth, Judy Garland, Greta Garbo, Zsa Zsa Gabor, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida, Tina Turner en natuurlik Marilyn Monroe. Dit gee aan die verhaal ’n eiesoortige bekoring.

Uittreksel: “… maar sy’t haarself laat gaan. Wat ons hier sien, is nie die ware Desiree nie. Sy moet haarself herontdek. Ek kan haar help. Nie vir enige man nie. Vir haarself. Ons praat van selfrespek. Bemagtiging van die vrou. En as daar as gevolg daarvan ’n nuwe liefde in haar lewe kom, is dit bloot ’n bonus. Dis nie die primêre doelwit nie!”

Meer oor die skrywer: Anita du Preez is ’n beeldhouer en lektrise in die visuele kunste. Sy het haar BA Honneurs- en Magistergrade (albei cum laude) verwerf aan UNISA.

Bestel Mooier as Marilyn hier.

Die dekonstruksie van Retta Blom (Zelda Bezuidenhout) – Kwela

Ek het, nadat ek dié talentvolle skrywer se jeugverhaal As mens geluk kon proe onder oë gehad het, myself belowe dat ek ál haar volgende werke sal lees. Die dekonstruksie van Retta Blom stel nie teleur nie; inteendeel! Marita van der Vyver beskryf die boek dan ook tereg as “’n Lekker sappige goedvoel-storie, met heelwat onder die oppervlak”.

Lauretta Blom is vir 26 jaar lank sielsalig gelukkig in die rol wat sy as ma en huweliksmaat vertolk en ook met die roetine wat daarmee saamgaan. Haar lewe is georden en haar huis pynlik netjies – selfs haar werkskamer is klinies wit. Maar dan let sy een doodgewone weeksoggend iets op wat haar laat wonder. Sy betree haar man se private heiligdom, sy studeerkamer, op soek na leidrade.

Retta besef dat sy, die mees together mens wat sy ken, miskien nie alles weet van haar man en seuns (en haarself!) soos wat sy gedink het sy doen nie. Sy leer dat om werklik te sien, sy juis moet oplet na die onsigbare goed. Sy word gekonfronteer met die negatiewe ruimtes in haar lewe. Op aandrang van ’n vrygees- vriendin besluit sy, wat aan akute ordentlikheid ly, om haar Retta-prentjie in te kleur en vir ’n slag oopkop te wees. Sy neem ’n road trip Kaap toe saam met haar hond en die loskop vriendin. Die reis word ’n ontdekkingstog oor haarself en haar geliefdes.

Meer oor die skrywer: Zelda Bezuidenhout se jeugverhaal, As mens geluk kon proe, is in 2017 aangewys as die naaswenner in LAPA se Jeugromankompetisie. Die dekonstruksie van Retta Blom is haar eerste roman vir volwassenes.

Bestel Die dekonstruksie van Retta Blom hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.