Driehoek

driehoekdeur Sophia Kapp

Driehoek is Tessa se verhaal. Tien jaar het verloop nadat ons Tessa in Die verhuising leer ken het. Sy is nou 32, ʼn vryskutjoernalis in Johannesburg en swanger by ʼn man wat nooit vir haar vertel het hy is nog getroud nie. Vir die eerste keer in haar lewe is Tessa in ʼn hoek waaruit niks haar kan help nie. Dit is eers as sy in dieselfde rehabilitasiesentrum beland as waar Danelle se ma was, dat sy besef hoe verskriklik sy as mens gefaal het.

Maar Driehoek is ook Amanda se storie – die ander vrou in die liefdesdriehoek. Ten spyte van Tessa se pogings om die verhouding stil te hou, vind Amanda uit dat haar man haar verneuk het, en sy moet toekyk hoe die gesin waarom haar hele lewe gewentel het, uitmekaar val. Sy probeer vergewe en vergeet, maar dit help nie – haar man het ʼn mens geword wat sy nie ken nie en wat sy nie meer in haar lewe wil hê nie. Uiteindelik is haar woede en wrokkigheid oor sy verraad so erg dat sy nie net haar huwelik vernietig nie, maar haar kinders – en haarself – in die proses skade berokken.

In die ander hoek staan Hertzog van der Walt, Amanda se broer en ʼn professor in teologie op Potchefstroom. Hy is die een wat moet toekyk hoe sy suster en haar dogters swaarkry. Tessa is ʼn doring in sy vlees. Sy is in elke moontlike opsig die teenoorgestelde van wat hy in ʼn vrou bewonder, maar dit keer nie dat hy van haar bewus is nie – verskriklik bewus is nie – en elke onderonsie wat hy met haar het, versterk die bewustheid honderdvoudig. Uiteindelik moet hy erken dat hy, ten spyte van  homself, op haar verlief geraak het. Om hierdie emosies te verwerk, moet hy net so veel groei toon as Tessa.

Driehoek is geen konvensionele liefdesroman nie. Dit stel besondere eise aan die hoofkarakters en die leser, en daar is nêrens ʼn maklike oplossing nie, maar vir almal wat bereid is om hulle bagasie, hulle vooroordeel en hulle voorbehoude neer te lê, is daar ʼn tweede kans en ʼn geleentheid om ten volle te mag liefhê.

Die reeks:
Driehoek vorm ʼn tweeluik saam die Die verhuising. Albei verhale is net soveel coming-of-age-romans as wat die liefdesverhale is en vroue van alle ouderdomme sal daarmee identifiseer.

Oor die outeur:
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees. Sy glo onwrikbaar in die helende krag van liefde, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak.

Daarom plaas sy haar heldinne binne realistiese situasies en laat hulle spook met geloofwaardige krisisse waardeur vroue dwarsoor die wêreld en die sosiale spektrum moet worstel: verraad, verlies, egskeidings, affairs, miskrame, middelmisbruik, moeilike tieners, bagasie van vorige verhoudings…

Vir elke heldin wat bereid is om hierdie krisisse aan te pak en te oorkom, is daar egter ʼn held, ʼn man wat by haar pas en haar waardig is; iemand saam wie sy binne ʼn vervullende verhouding geborgenheid vind.

Elkeen van Sophia se karakters het ook susters op hulle reise – bloedsusters of hartsusters – wat haar optel as sy val, wat haar dra as sy moeg word en wat saam met haar dans as sy feesvier.

Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans gekroon en Huis van die wind in 2012. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeertes aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ʼn MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ʼn akademiese loopbaan gevolg, maar intussen was sy al alles, van ʼn barrista tot ʼn boekhouer in ʼn bank. Tans is sy, benewens ʼn skrywer, ook ʼn taalpraktisyn, vertaler, dosent en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: R215-00*
*prys onderhewig aan verandering

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.