Dryfkrag agter grootste digkompetisie stel self debuutbundel bekend

chrisalis-bekendstelling-2019-06-27-finaal

V.l.n.r. is Christo van der Westhuizen, Daniel Hugo en Coenie de Villiers saam op die verhoog tydens die bekendstelling van Van der Westhuizen se debuut digbundel ‘Chrisalis’. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die jaarlikse Avbob-digkunsprojek het ʼn tsunami van gedigte ontketen – nie net is daar verlede jaar 23 000 gedigte vir hierdie kompetisie ingeskryf nie, maar hierdie jaar het die organiseerders reeds 50 000 gedigte vir die tweede bloemlesing ontvang.

Christo van der Westhuizen, een van die meesterbreine agter dié gewilde kompetisie, het onlangs ook sy eie digbundel Chrisalis die lig laat sien.

Die bekendstelling het Donderdagaand by die swierige Ivor Manor-boetiekhotel in Rietvalleirand, Pretoria plaasgevind.

Volgens Coenie de Villiers, wat die seremoniemeester by die bekendstelling was, meen dit was juis Van der Westhuizen se liefde vir bemarking en letterkunde wat tot die ontstaan vir die idee van die Avbob-gedigkompetisie gelei het. Hierdie passie het nou ook uiteindelik neerslag in sy eie digbundel gevind.

“Die Avbob-digkompetisie is nie net die grootste gedigtekompetisie in die land nie, maar ook sekerlik die grootste vertaalwerk in die wêreld. Al die gedigte wat in een van die ander landstale geskryf is, word ook in Engels vertaal,” het Coenie de Villiers verduidelik.

Van der Westhuizen het die aand ook meer vertel oor die ontstaan van die digkompetisie.

“My maatskappy het in ʼn stadium borge verskaf aan kinders met kanker. Ek het een van die kinders se begrafnisse bygewoon en het op daardie begrafnis gesien hoe nóg die ma, pa óf dominee woorde gehad het om afskeid te neem.

“Uit radeloosheid het die dominee die oupa toe gevra of hy dalk ʼn paar laaste woorde het om te sê, en al wat hy kon sê was ‘Tatta Kiewiet’ terwyl hy liggies aan die kis raak.

“Dié oomblik het lank by my gespook. Ek het besef ons moet iets doen soos om troosverse vir so ʼn geleentheid te skryf waar woorde ontbreek. Avbob wat ons kliënt is, het sonder om te huiwer ruimhartig tot die projek bygedra toe ek dit aan hulle voorgelê het,” vertel Van der Westhuizen.

Hy glo ook alle digters het ʼn kollektiewe bewussyn.

“Hulle dink en skryf dikwels oor die dieselfde goed, wat digkuns – net soos musiek – ʼn soort universele taal maak.”

Daniel Hugo, self ʼn bekende in die skrywerskringe, het tydens die geleentheid met Van der Westhuizen gesels oor sy gedigte en ʼn paar daarvan voorgelees.

Hugo het Van der Westhuizen geloof vir sy indrukwekkende debuut, maar ook geterg omdat hy 40 jaar gewag het voor hy sy eie werke eers laat publiseer het.

“Christo is berekende digter. Chrisalis het twee soorte gedigte, die verstandelike soort waar hy met woorde speel en dan ook die emosionele gedigte. Hy kombineer ook die twee gemaklik.

“Die digkuns is ʼn ambag en wat jou onderskei van ander vakmanne, is jou ervaring in die lewe. Jy kan dit ook in Christo se gedigte beleef,” het Daniel gesê.

Die stemkunstenaars Anton Dekker en Anton Schmidt het van Van der Westhuizen se gedigte voorgelees.

De Villiers en Mauritz Lotz, die kitaarspeler wat self ʼn musikale loopbaan het wat oor meer as 30 jaar strek, het Van der Westhuizen verras met ʼn toonsetting van sy gedig Poseer.

  • Chrisalis word deur Naledi uitgegee en kan direk by die uitgewers bestel word.

chrisalis-digbundel

‘Chrisalis’ is die indrukwekkende debuut van ‘n digter wie se taal- en versvernuf die leser meevoer en meermale ook ontroer. Foto: Naledi Uitgewers

Ná die begrafnis van ʼn kind

Deur Christo van der Westhuizen

vanaand bly jy alleen agter, liefste kind

hemel, dis hoog bó ons vuurmaakplek

 

jy kan uitkom, ons skaam prinsessie

Pappas sal by jou waak in die donker

vir ingeval Hy jou vannag al kom haal

en jy in die verbygaan skelmpies tatta sê

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kallie Grafie ·

Sonder om suurpruimerig te wees, wil ek graag kommentaar lewer op die huidige uitgewersindustrie.

In die berig vra Daniel Hugo waarom dit 40 jaar geneem het om te debuteer. Ek het al hoeveel manuskripte ingedien, by NB, Lapa, Penguin, en almal vertel dat ek `n goeie skrywer is, dat my manuskripte baie interressant en toeganklik is, MAAR: Uitgewers publiseer slegs boeke wat geld kan maak.

(Die dae van die 1940’s/50’s, toe boeke in Afrikaans gepubliseer is as historiografies funksie, nie om geld te maak nie, is verby.) Slegs beroemdes, rykes, berugtes, se boek word aanvaar. Of, as jy iets skandaligs oor apartheid en die vorige regime kan skryf. Of bekendes soos Hugo, Deon Meyer en Marita van de Vyver se hoeveelste boek, jaar na jaar, word uitgegee. NB het my in Januarie vertel dat hulle slegs 50 boeke gaan uitgee, en ek is `n onbekende. Dit gaan dus grotendeels oor die naam van die skrywer, as die teks. Kyk maar hoeveel skrywers in Naspers-personeel.

Jammer vir die katarsis.

bambi ·

Danie vir die kompetisie, en dankie aan Naledi! Julle is absoluut PUIK met die bemarking van jul boeke! Dis verblydend om so uitgewer soos julle in die land te sien. Soos hul sê; Hands on!! soveel moeite; PUIK!!

Hendrik ·

Al hoe meer skrywers doen self-publikasie. Dis harde werk, want jy moet self jou boeke bemark, maar jy kry terug wat jy in sit, mits jou werke die moeite werd is. Die Lapa’s, Protea’s en ander groot uitgewers is stadig besig om met hulle wurggreep op die industrie ‘n alternatiewe vars industrie te laat ontstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.