Du Plessis-stammoeder was onverskrokke pioniersvrou

Wieg (Foto: Verskaf)

Sy is tydens die felste Hugenotevervolging gebore en was ʼn vlugteling en ʼn weeskind uit Sedan, Frankryk. Nie juis ʼn sprokiesbegin nie.

Marie Buisset, stammoeder van die families Du Plessis en Snith in Suid-Afrika, was die heel eerste plaaslik opgeleide vroedvrou aan die Kaap en het skrywer en joernalis, Joan Kruger, so gefassineer dat sy 20 jaar lank navorsing oor haar gedoen het.

Daar word vertel hoe Marie in die jaar 1700 op 21 inderhaas met ʼn wewenaar van 40 jaar ouer in Amsterdam getroud is en Kaap toe verhuis het om ʼn pioniersbestaan op die verre voorpos te voer.

Marie, wat later Maria genoem is, het na kwesbares, ʼn verkragte meisietjie, ʼn tiener wat geboorte gee en verskeie vroue wat deur hul eienaars of mans verniel is, uitgereik.

Sy was later op die VOC se betaallys.

Die boek word soos volg beskryf: “Die leser ontmoet talle bekende name in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis ʼn verhaal van politieke stryd, ontbering en liefde, oor mense en die uitdagings wat hulle aanpak.

“Uit skrapse oorblyfsels soos hofverslae, mediese rekeninge, veilings en testamente onthul Joan Kruger ʼn ryk en boeiende verhaal, vol humor en patos.”

In ʼn gesprek met Joan vertel sy dat die moeilikste deel van die taak was om 300 jaar te oorbrug en inligting te kry wat “deur winde en vergetelheid verwaai is”.

“As dit my keuse was, het ek lankal van Marie Buisset (1679-1751) vergeet. Maar ek het haar nie gekies nie; sy het my gekies, en ek kon nie anders as om na haar te luister nie.

“In Johannesburg, in die vorige millennium, was ek geboei deur vrouetaal en vroue se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans.

“Hier lees ek ʼn paar dokumente wat die Hugenotevrou Marie Buisset, aan die Kaap bekend as Maria du Plessis, in netjiese Nederlands geskryf het. Ek moet ʼn bietjie meer oor haar uitvind, dag ek.

“Toe ek in 2000 Kaap toe trek, bly ek net om die hoek van waar Maria se huis gestaan het toe sy stadsvroedvrou was, maar, jammer Maria, ek is heeltemal te besig in die wêreld van tydskrifte met genadelose spertye om aandag aan jou storie te kan skenk.

“Toe speel sy haar troefkaart. In ʼn boek oor die Du Plessis’s lees ek van Marie se oorhaastige Amsterdamse huwelik met Jean Prieur du Plessis. Maar dis nie al nie. Hy trou met haar binne een maand nadat hy ʼn plegtige en wettige ‘ondertrou’ met ʼn ánder Hugenotevrou aangegaan het, ʼn soort verlowing.

“Waarom? Wat was hier aan die hand? Dis nie die soort intrige wat jy voor ʼn joernalis se neus moet hou nie. Van toe af was daar geen keer aan my nie. Ek het elke moontlike sekonde uit elke dag gepers, ook in die tyd toe ek en ʼn kollega ʼn uitgewersmaatskappy gestig en ek in my eie tyd ʼn boek oor Tafelberg se geskiedenis aangepak het.

“Dae moes rek, nagte moes doodeenvoudig krimp.

“Maria het oorgeneem en kort-kort het ek van nóg ʼn drama in haar lewe bewus geword: die Hugenotevervolging waarin sy haar ouers verloor het; haar gevaarlike bestaan op ʼn voorposplasie by Stellenbosch; die dood van haar twee eggenote wat haar met klein kinders en skuld nagelaat het; haar werk as vroedvrou waarin sy telkens weerlose vroue moes bystaan waaronder een wat onder haar predikantman se vuiste deurgeloop het.”

Net soos wat die geval met Maria was, was moedverloor ook nooit ʼn opsie vir Joan nie.

Joan Kruger (Foto: Adrian Venter/Verskaf)

Hoekom was sy so gefassineer met Maria?

“Die feit dat sy in die lig van bostaande nooit moed opgegee het nie, dat sy, kort duskant 50 jaar oud, kans gesien het om die vroedvroueksamen af te lê, en tot aan haar dood in haar 72ste jaar onvermoeid as stadsvroedvrou gewerk het, het my onweerstaanbaar aangetrek.

“Dít is getemperde staal; om nie deur jou verliese nie, maar deur jou innerlike krag gedefinieer te word. Sy was ʼn vrou uit een stuk – maar met eindelose fasette.”

Hoe het dit gebeur dat Theresa Papenfus van Litera die boek uitgegee het?

“Ek en Theresa was in die klein heelal van die joernalistiek van mekaar bewus, maar dit was op die dorpie Molyvos op ʼn Griekse eiland waar ons Frederik de Jager en Marita van der Vyver se skrywerswerkswinkel bygewoon het dat ons besef het ons is eende van dieselfde dam. Hoe geseën is ʼn skrywer om ʼn geesgenoot as uitgewer te hê, een wat jou deur dik en dun bystaan – en boonop die pragtige titel Wieg kon uitdink.”

Die terugvoer op die boek was uitstekend. Wieg is ook vir ʼn nie-fiksie-toekenning benoem. Vir Joan was die lekkerste terugvoering om by leeskringe te praat en dan te hoor dat van die lede sê: “Ons lees glad nie geskiedkundige werke nie, maar hierdie boek was ánders. Dit het die verlede vir ons lewendig gemaak.”

Oor voorstelle dat Wieg dalk ʼn roman moes wees, sê sy: “Dit het my as joernalis dwars gelê om inligting omtrent Maria se lewe te versin of om haar woorde in die mond te lê. Elke feit moes ek met vers en kapittel kon bewys, daarom is daar soveel eindnotas. Natuurlik is daar, by gebeure van drie eeue gelede, dit wat een historikus die “silences and gaps” genoem het. Feite wat doodeenvoudig ontbreek.

“Dit oorbrug jy dan deur gefundeerde moontlikhede aan die hand te doen – iets wat mikrogeskiedskrywing se werkswyse jou gun.” Joan het juis onlangs ʼn artikel oor mikrogeskiedskrywing vir Litnet geskryf.

Dit was vir haar ʼn groot verrassing om van Maria se nasate te ontmoet en om met hulle te gesels.

“Die meeste Du Plessis’s stam af van Madeleine Menanteau, Jean Prieur se eerste vrou. Daarom was dit so ʼn heerlike verrassing om twee van Maria se direkte nageslagte – twee pragtige jong vroue – by die Woordfeesbekendstelling van Wieg raak te loop.

“Ek kon my verbeel ek sien iets van Maria se flinke gees in hul uitstraling.

“Maria was natuurlik ook voormoeder van die Snith-familie. Ek was net so dankbaar ek kon kennis maak met een van haar min direkte afstammelinge, ʼn bruin boer van die Klein-Karoo. ʼn Storie wat nog vertel moet word.”

Oor die eienskappe wat ʼn mens vir so ʼn reusetaak benodig sê Joan: “As daar iets is wat ek graag omtrent myself wil glo, is dat ek nog nie my kinderlike verwondering verloor het nie. Daarom is ek op my gelukkigste as ek in Storiehoek, saam met die visserskinders van Paternoster, stories lees en perkate uithaal.”

Wie was haar gunsteling van die talle interessante geskiedkundige karakters waaroor in die boek geskryf word? En van wie hou sy die minste?

“Maaij Claesje, ʼn slavin wat as vroedvrou gewerk het, was een van die karakters wat my diep geraak het. ʼn Hoë Hollander kry toestemming om haar saam te neem na Batavia om sy swanger vrou by te staan.

“Hy beloof haar haar vryheid ná die bevalling. Moeder Claesje keer as vrye vrou terug Kaap toe, maar gaan bly weer in die Slawelosie sodat sy steeds slawevroue in kraam kon bystaan. Ware erbarming.”

Oor die ongure karakters in Wieg sê sy daar was ʼn hele aantal maar bo aan haar lys staan ds. Ruardus Cloppenburg, wat sy vrou so aangerand het, en sy broer Abraham wat met die uiterste wreedheid teenoor sy slawe opgetree het.

Sou Joan self graag in daardie tydperk wou geleef het?

“Net indien daar internet beskikbaar sou wees. Ek sou helaas, in daardie patriargale tyd, ʼn baie ongehoorsame vrou gewees het.”

Oor haar skryfpatroon sê sy dat sy baie gedissiplineerd van 7-uur soggens skryf alhoewel sy is eintlik ʼn nagwolf is en dan hoofsaaklike redigeerwerk vir hul uitgewery, Tip Africa Publishing, doen. Saans, 7-uur, as die nuus begin, skakel sy die rekenaar af.

Om op te maak vir die tyd wat sy aan Storiehoek bestee, werk sy ook die meeste Saterdae.

Wat beskou sy as die grootste mite rondom skrywers?

“Dalk dat dit vir skrywers makliker is om te skryf as vir die res van die mensdom? Wel, dalk is dit. Jy gaan sit mos maar net voor ʼn rekenaar en bloei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.