Dubbelfoto

deur Cas Wepener

Dubbelfoto is ’n versameling verhale wat ’n familiegeskiedenis uitbeeld. Die vertelling bestryk sowat ’n eeu – dit begin op ’n plaas in die Kamdeboo en eindig in die stad. Daar is deurlopende motiewe – soos die bentwood-stoel, blonde seuntjie, driewiel en veral die familiefoto’s. In die kernverhaal van die bundel, “Die kind”, tree die fotograaf as alter ego van die skrywer op: “Dit wat hy gesien het, dit wat hy gehoor het, dit wat hy ervaar het, dit wat hy vermoed – soos die klein ontploffende flitse van sy kamera kom die beelde in sy brein op en dryf dit hom.”

Die styl wissel van ernstig tot komies, wat bydra tot die kaleidoskopiese indruk wat die bundel maak. Ook die vertelperspektief wissel tussen die verhale – en soms word dieselfde storie uit verskillende oogpunte vertel. Dit skep ’n boeiende leeservaring, ook omdat die verhale nie hulle geheime al te maklik prysgee nie. Cas Wepener se Dubbelfoto is ’n glansende toevoeging tot die kortverhaalskat in Afrikaans.

Oor die outeur:
Cas Wepener (1972) is op George gebore en het tussen dié dorp op die Tuinroete en ’n plaas in die Groot-Karoo grootgeword. Vanaf 1992 het hy op Stellenbosch (eers drama en daarna teologie) studeer. In 2004 verwerf hy sy doktorsgraad met ’n proefskrif oor versoeningsrituele in Suid-Afrika. Hy het in verskeie gemeentes van die N.G. Kerk in die Klein-Karoo en Kaapstad gedien, by die Universiteit van Stellenbosch as navorser gewerk en is sedert Julie 2010 aangestel as professor aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van talle akademiese en populêre artikels, asook ’n boek Aan tafel met Jesus. ʼn Bundel liturgiese voorstelle, Soos ’n blom na die son draai, het in 2011 verskyn.

Uitgewer: Protea Boekhuis
prys: R135-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.