Dwarstrekkers, dwepers en dokters – Merkwaardige vertellings uit die Anglo-Boereoorlog

J.C. (Kay) de Villiers

Met sy Healers, Helpers and Hospitals het prof. J.C. (Kay) de Villers hom wêreldwyd gevestig as dié kundige op die gebied van die mediese geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. In Dwarstrekkers, dwepers en dokters vertel hy op ’n onderhoudende wyse van ’n hele aantal interessante figure wat hy tydens sy navorsing vir sy groot historiese werk teëgekom het. Mense wat die verskrikkings én vermaaklikhede van die oorlog aan eie lyf ervaar het. So is daar die romantiese Russiese dokter wat eers met haar eggenoot rusie maak en dan vermom as man haar lewe waag om hom op die slagvelde van Suid-Afrika te gaan soek. Daar is die onstuitbare mediese student Tewie Wessels wat hom as ’n Engelse adellike voordoen om uit Engeland, waar hy medies studeer, na Suid-Afrika te kom. Daar is die dapper tienermeisie Susie Blignaut wat deur dinamietslagdoppies vermink word. Daar is die Franse kolonel en die flambojante graaf Sternberg, daar is die onkeerbare Mary Kingsley, daar is Robert Montague Poore die soldaat sesse slaan, en soveel ander. Prof. De Villiers slaag uitstekend daarin om die lewens van merkwaardige, minder bekende enkelinge binne die groter geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog te plaas.

Oor die outeur
Emeritusprofessor J.C. (Kay) de Villiers was die hoof van neurosjirurgie by die Universiteit van Kaapstad. Hy is wêreldbekend as baanbrekermedikus, sowel as historiese medikus. In 1989 het hy ’n eredoktersgraad van die Universiteit van die Wes-Kaap ontvang en in 1993 van die Universiteit van Stellenbosch.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R195,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.