Een stad, drie rooikoppe, sewe dae

 

Drie rooikoppe in Kaapstad
Hoe erg kan dinge nou verkeerd gaan?

Een stad, drie rooikoppe, sewe dae.

’n Opwindende stadsriller, afgevuur met ’n stewige skoot humor.

“’n Moderne stadsriller wat lees soos ’n kombinasie van Marita van der Vyver en Deon Meyer. Die stemtoon is modern, astrant en wêreldwys, maar ook natuurlik en ongekunsteld.” – Sonja Loots.

In hierdie aksiebelaaide en skreeusnaakse debuut slaag susters Adeline en Lili Radloff daarin om op ’n opwindende wyse verskeie genres, besonder oorspronklike karakters en ’n verspot-gemaklike vertelstyl op te klits tot ’n resep vir lekker lees – en nog lekkerder lag.

Ontmoet drie rooikoppe wat na aan mekaar in Kaapstad bly. ’n Opgeskote postmoderne ontkleedanseres, ’n vertrapte huisvrou wat deur haar man verlaat is, en ’n hardgebakte, siniese sosiale vlinder en eksmodel. Holderstebolder (en totaal onbeplan) beleef hulle ’n angswekkende week waarin hulle niksvermoedend met Kaapstad se onderwêreld en internasionale skurke slaags raak. Hoe erg kan dinge nou verkeerd gaan? Jy sal verbaas wees …

Een stad, drie rooikoppe, sewe dae is ’n boek waarin spanning, liefde en humor die leser beurtelings na asem laat snak en laat uitbars van die lag. Die dialoog is vars, vinnig en natuurlik. Die humor is vlymskerp, die karakters geloofwaardig dog uniek en die verhaal ene wat gewaarborg is om enige leser op ’n wilde en onvergeetlike vaart te neem.

Taalgebruik kan sensitiewe lesers ontstel.

Oor die outeurs:
Die skrywers, Adeline en Lili Radloff, is twee susters wat beide in Kaapstad bly.

Adeline se eerste boek, Sidekick, het in 2010 die Sanlam-prys vir Jeuglektuur gewen en was in 2011 op die kortlys vir die MER-prys. Sy is mal oor reis en het al gewerk as kelnerin, vryskutjoernalis, chef, redigeerder, kroegmeisie, huisvrou en ma. Daarbenewens is sy ’n gekwalifiseerde onderwyseres met ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en het al by sowel die Universiteit van Stellenbosch as Kaapstad klasgegee in akademiese taalvaardighede. Sy woon saam met haar man en twee dogters in Kaapstad.

Lili Radloff is ’n mislukte aktrise wat deesdae ’n lewe daarvan maak om skandalige seksartikels en feministiese rubrieke te skryf vir die land se grootste aanlyn-leefstylportaal Women24.com. Alhoewel kwaadpraters dink sy is ’n militante lesbiese mannehater, woon sy heerlik en baie gelukkig saam met haar man in Kaapstad. Sy was nog nooit ’n ontkleedanseres of dwelmhandelaar nie, maar sy het wel rooi hare.

Klik hier om ‘n bespreking oor die boek te lees.

Uitgewer:
LAPA Uitgewers
Prys: R180-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za. Die eBoek-weergawe, geskik vir iPad en ander elektroniese platforms, is beskikbaar vanaf kalahari.com en lapa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.