Eerste gedigte

Antjie Krog

’n Herdruk met nuwe omslag van hierdie bundel wat in 1984 verskyn het en wat Antjie Krog se eerste twee bundels insluit: Dogter van Jefta (1970) en Januarie-suite (1972). Haar heel eerste gedigte is in skoolblaaie gepubliseer toe sy nog op skool was. Die werk wat in die 1970-jubileumblad van die Kroonstadse Hoërskool gepubliseer is toe sy 17 jaar oud was, is destyds as seksueel en polities besonder uitgesproke beskou en het haar vroeg reeds in die kollig geplaas. Eerste gedigte bevat toeganklike verse en temas soos jong liefde, die klas- en onderwyssituasie, en ook religie.

Gedigte soos:
“Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
’n kaalvoet gedig”

Oor die outeur
Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is 18 jaar oud toe haar eerste digbundel Dogter van Jefta in 1970 verskyn. In 1972 verskyn Januarie-suite en dit is in 1973 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sy behaal ‘n BA-graad en honneursgraad in Engels (1973) aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1976 verwerf sy ‘n MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Haar digbundel Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon en in 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne. In 1993 is sy aangestel by die tydskrif Die Suid-Afrikaan, en in 1995 begin sy as politieke verslaggewer by die SAUK te werk. Antjie lewer van 1996 tot 1998 verslag oor die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy verwoord haar ervarings oor die proses in Country of my Skull wat in 1998 gepubliseer is en wat met onder meer die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys ontvang.

In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat haar Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.

Sy is sedert 2004 ‘n buitengewone professor in Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R159,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.