Met een uit elke 20 kinders, sowel as ’n geraamde een miljoen Suid-Afrikaanse volwassenes, wat aan aandagafleibaarheidsindroom ly, of dan ADHD, is All of these things are important to me die eerste fiksieboek oor dié toestand wat in Suid-Afrika bekendgestel is. Die boek is daarop gemik om bewustheid te skep vir vroeë opsporing van die toestand asook ingryping.
Die boek is deur prof. Renata Schoeman, ’n psigiater en medeprofessor in leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool, en Refiloe Moahloli, ʼn kinderboekskrywer, geskryf, terwyl David Griessel, ʼn Kaapstadse kunstenaar, verantwoordelik was vir die illustrasies.
Die boek ondersoek die avontuurlike lewe van Zee in ʼn kort en kleurryke vertelling in Engels, Afrikaans, isiXhosa, isiZulu en Sesotho, wat verduidelik hoe ’n kind met ADHD die wêreld ervaar en daarin lewe. Die tweede deel van die boek bied ’n eenvoudige maar akkurate verduideliking van ADHD: wat dit is, hoe dit gediagnoseer word en hoe dit bestuur kan word.
Dit bied ook waardevolle raad aan ouers, onderwysers en gesondheidsorgwerkers om ADHD te verstaan en te bestuur.
Schoeman sê ADHD is ’n toestand wat gereeld foutiewelik gediagnoseer word, en dit word geplaag met mites en misverstande, veral wanneer dit by behandeling kom.
“Wanneer dit ongediagnoseer gelaat word of nie effektief behandel word nie, word kinders met ADHD gewoonlik onregverdig bestempel as stout en onleerbaar, en volwassenes met ADHD as lui of onbevoeg. Dit is belangrik om oor ADHD te praat en oor hoe dit opvoedkundige prestasie, selfbeeld, verhoudings en produktiwiteit belemmer. Ons moet ook bewustheid skep oor ander toestande soos angs, depressie en dwelmmisbruik, wat soms kan opduik as ADHD nie reg behandel word nie of onopgemerk bly.”
Sy sê verder dat die speelse storielyn van die boek opsetlik is om te verseker dat kinders vermaak word terwyl ouers die wetenskaplike inhoud as ʼn hulpbron gebruik om hul kind(ers) of selfs hul eie vrae oor ADHD te beantwoord.
“Ons wou ’n hulpbron ontwikkel wat toeganklik sou wees vir soveel Suid-Afrikaners as moontlik, in moedertale en in die stem van ’n kind by wie kinders, sowel as ouers en onderwysers, aanklank sou vind.
“Die manier waarop daar van ADHD gepraat word met die kind kan ’n enorme impak op hulle eie persepsie van hul waarde in die wêreld hê. Die regte boek kan help en in Suid-Afrika is daar nie hulpbronne beskikbaar om leiding te gee aan ouers, onderwysers en versorgers nie. Om ’n kind met ADHD groot te maak kan uitdagend wees as ouers nie toegerus is nie, maar as jy soek na die regte kennis kan jy die potensiaal van jou kind(ers) ontgin en hulle help om hul simptome beter te hanteer.”
Opbrengs uit verkope van die boek word geskenk aan die Goldilocks and the Bear-stigting wat in 2017 deur Schoeman en Nic de Beer, ʼn atleet en entrepreneur wat kinders in minderbevoorregte gebiede bedien, gestig is. Die organisasie beywer hom nie net op die vroeë opsporing en intervensie van ADHD nie, maar ook van ander toestande en leerprobleme wat hindernisse vir onderrig is.
Die stigting lei onderwysers en versorgers op en verbeter die vaardighede van niewinsgewende organisasies in die vroeë ontdekking van ADHD.
Tot op hede het die organisasie gratis dienste aan 21 781 kinders in die Wes-Kaap gebied en vroeër vanjaar ’n ADHD-ondersoeksentrum by die Tygeberg Hospitaal geopen. Die organisasie het ook in Oktober vanjaar uitgekring na Gauteng, en beplan om vroeg in 2020 operasioneel te wees.
Lesers wat belangstel in die boek kan die Goldilocks and The Bear-stigting se webwerf besoek.