Eilande

Dan Sleigh

Eilande is méér as net ‘n boek. Dis ‘n magistrale roman, ‘n oerteks wat saam met die Dagjoernaal van Jan van Riebeeck gelees behoort te word. Dis eintlik ‘n gebeurtenis wat ‘n andersmaak bring vir elkeen wat dit onder hande neem. Maar dis ook ‘n helder boek. Dit sê vir jou in die eerste lang paragraaf wat dit gaan doen, en dan doen dit daardie ding. Dit plaas ons geskiedenis, in ‘n daad van liefdesbetuiging, in die liggaam van ‘n vrou. Daar word dit vasgeknoop, en dan word vertel wat uit dié verbinding voortgekom het. Sewe stukke lewe is hier ter sprake, almal manslewens wat iewers gewentel het om die bestaan van hierdie vrou in wie se liggaam die wit bloed en die bruin bloed saamgevloei het. Sewe mansmense wie se geskiedenisse byna soos aardplate oor mekaar skuif met dié vrou as swaartepunt.

Eilande bied ‘n soort onuitputlikheid. Dit herroep die woord ‘respek’. Respek vir wat verbygegaan het. Respek vir die byna onuitspreeklike woestheid van die mens se verlange tot bestaan, tot erkenning, tot leef op aarde. Maar veral respek vir diegene wat dit opgeteken het, vir die eerlike arbeid wat in so ‘n poging opgegaan het.

Oor die outeur
Daniel (Dan) Sleigh is op 3 November 1938 op Geelbeksfontein aan die Weskus gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit daarna by die Suid-Afrikaanse Vloot aan. Hy gaan studeer tot 1962 aan die Paarlse Opleidingskollege om ’n Liggaamsopvoeding-onderwyser te word. Hy gee daarna skool in Namibië en in Kaapstad. In 1969 het hy sy BA-graad met Geskiedenis en Engels aan Unisa verwerf. Dan behaal sy MA-graad cum laude en in 1987 sy doktorsgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Dan werk tot met sy aftrede in 1996 by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Hy debuteer in 1974 met die digbundel, Duif oor water. Daarna het hy boeke met ’n geskiedkundige agtergrond vir jongmense geskryf, soos Die buiteposte en Tussen twee vlae. In 2001 wen hy die Sanlam/Insig/Tafelberg-romanwedstryd vir sy roman Eilande. Dié boek is later ook met die WA Hofmeyr-, RAU-, M-Net-, en Helgaard Steyn-prys bekroon.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R290,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.