Ek droom van ‘n droom

Maretha Maartens, Elsje Neethling Blair en Sua du Plessis gesels oor Ek droom van 'n droom tydens dié boek se bekendstelling. Foto: Esté Meyer.

Elke persoon behoort een keer in hulle lewe ʼn ware verhaal soos dié van Elsje Neethling Blair te lees. Elsje, die suster van swemkampioene, Ryk en Jean-Marié Neethling, is op 13-jarige ouderdom met ʼn seldsame breinkanker gediagnoseer en die dokter het haar toe net drie maande gegee om te leef.

In Ek droom van ʼn droom deel Elsje haar aangrypende 20-jaarlange saamleef met kanker in ʼn kleurryke, inspirerende manier wat lesers se harte aanraak. Haar storie vertel hoe sy eenvoudig geweier het dat kanker haar van haar jongmensdrome ontneem.

Haar boek, wat in samewerking met Maretha Maartens geskryf is, is Dinsdag by CUM-uitgewers se jaarlikse Christian Art Retail Show (CARS) in Pretoria bekendgestel. In die boek pen die begaafde Maartens, Elsje se eie Olimpiese droom op ʼn roerende wyse neer. Sy beskryf hoe sy geleer het dat kanker jou droom kan beperk en miskien smoor vir ʼn rukkie, maar dit nie kan wegvat nie, want jou drome is joune om te hou en uit te leef.

Elsje borrel op die verhoog waar sy tydens haar boekbekendstelling saam met Maartens en Sua du Plessis, publikasiebestuurder van CUM-uitgewers, oor haar boek gesels. “Almal dink ek is so sterk maar dis nie ek nie, dis die Here,” getuig sy. Boonop kan sy ook die mooi in die kanker raak sien. “Ek het die soort kanker wat ek het, choroïedpleksus-karsinoom, op die internet gaan opsoek en dit lyk soos ʼn blom.” Vandaar al die blomme op haar boek se voorblad.

Sy glo ook dat die besluit om positief te wees die verskil tussen lewe en dood vir haar beteken het. “Ons het keuses en hiervoor alleen moet ons reeds baie dankbaar wees. Dit is ʼn keuse om te besluit om nie moed op te gee nie, om nie negatief te dink nie – daar is net positiewe gedagtes. Dit is die verskil tussen lewe en dood.”

Die boek is van September 2012 af by CUM-uitgewers en in Christelike boekwinkels beskikbaar.

Vinnige feite:
• Een uit elke agt vroue loop die risiko om met kanker gediagnoseer te word.
• 12 miljoen mense wêreldwyd hoor jaarliks die woorde: “Jy het kanker”; 100 000 van hierdie mense woon in Suid-Afrika.
• Die globale kankeroorlewingsyfer is 37% en in Suid-Afrika ongeveer 40%; en
• Een uit vier Suid-Afrikaners word in hulle leeftyd deur kanker geraak.

Die Neethling-gesin het deel van hierdie statistieke geword nadat Elsje gediagnoseer is. Ek droom van ʼn droom is ʼn inspirerende verhaal wat tot elke leser sal spreek. Elsje vra aan die leser: “Wat is jou droom?”.

Uitgewers: CUM
Prys: R129-95*
*Prys onderhewig aanverandering

Kompetisie: Drie lesers kan elkeen ʼn eksemplaar van Ek droom van ʼn droom wen deur jou droom in 50 woorde te beskryf. Beskryf jou droom op Maroela se Facebook-blad of stuur ʼn e-pos na [email protected] met die woord Droom in die onderwerpveld. Sluit ook jou naam, posadres en kontaknommer in die e-pos in. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Maandag 1 Oktober om 12:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.