Elisabeth Eybers met poësieprys vereer

Elisabeth Eybers Foto deur Media24 Boeke verskaf aan Maroela Media

Elisabeth Eybers Foto deur Media24 Boeke verskaf aan Maroela Media

In 2014 sal Media24 Boeke die eerste jaarlikse Elisabeth Eybers-prys vir digkuns in Afrikaans of Engels toeken. Vroeër het digbundels met kortverhaalbundels, dramas en romans meegeding om Media24 Boeke se WA Hofmeyr-prys vir fiksie. Die prysgeld vir die poësieprys beloop R35 000.

Dié prys word ingestel om uitnemendheid en vernuwing aan te moedig en erkenning te gee aan digters wat die grense van die digkuns deur hul werk verskuif. Net oorspronklike werk (geen vertalings nie) sal in aanmerking kom en die beoordelaars sal op die uitkyk wees vir uitnemende skryfwerk en vars poësie.

Die veelbekroonde Eybers (1915-2007) is een van Suid-Afrika se belangrikste digters. Op haar tagtigste verjaardag in 1995 het die letterkundige J.C. Kannemeyer in sy huldigingsartikel Eybers in daardie stadium “die grootste lewende digter van die Afrikaanse taal” genoem. Sedert 1958 het al haar digbundels gelyktydig in Suid-Afrika en Nederland verskyn; selfs in Nederland is sy herhaaldelik vereer met belangrike literêre pryse. Eybers het toenemend haar gedigte ook in Engels geskryf, en haar laaste vier digbundels het gedigte in Afrikaans en Engels ingesluit. Sedert haar debuut in 1936 het 22 digbundels uit Eybers se pen verskyn, waarvan Valreep (2005) die laaste was.

“Media24 Boeke is trots daarop om dié nuwe prys aan te kondig vir ’n genre waarvoor daar relatief min erkenning bestaan in die vorm van literêre pryse,” sê die uitvoerende hoofbeampte van Media24 Boeke, Eloise Wessels.

Inskrywings vir 2014 se Media24 Boeke Literêre Pryse sluit Vrydag 6 Desember 2013. Enige digbundels wat tussen 1 Januarie 2013 en 1 Desember 2013 vir die eerste keer deur die Media24 Boeke-groep uitgegee is, sal in 2014 in aanmerking kan kom vir die Elisabeth Eybers-prys. ’n Kortlys sal in April 2014 bekend gemaak word en die wenners word in Junie 2014 aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.