Elsa Joubert só onthou

Uitgewers, skrywers, akademici en lesers het sedert die dood van Elsa Joubert persoonlike huldeblyke op sosialemediaplatforms geplaas. Joubert is Sondag in die ouderdom van 97 in Kaapstad dood.

Ná die reisverhale Water en woestyn (1957), Die verste reis (1959) en Suid van die wind (1962), het haar eerste roman, Ons wag op die kaptein, in 1963 verskyn. Daarna het romans soos Bonga (1971), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), Missionaris (1988) en Die reise van Isobelle (1995) gevolg. Spertyd, die laaste van haar drieledige outobiografiese skryfwerk, het ná ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009) in 2017 verskyn.

“Dit word ʼn nare, nare maand vir legendariese Afrikaanse vroue wat skryf,” het Marita van der Vyver op Facebook gedeel. “Sy [Joubert] was ons almal se voorloper. Ek voel verlore vanaand.”

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, het ook Joubert se uitsonderlike bydrae in ʼn verklaring bevestig.

“Joubert was ’n pionier, sy was haar tyd vooruit,” het Wessels gesê.

“Om werklik aan haar nalatenskap reg te laat geskied, daarvoor ontbreek die woorde helaas,” meen Etienne Bloemhof, uitgewer by NB-Uitgewers.

Haar oeuvre het ʼn noemenswaardige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer. Joubert het dikwels politieke en kulturele kwessies in haar werk aangeraak, maar sy het dit deurgaans met deernis en menslikheid hanteer. Die reistema is ʼn beduidende aspek in Joubert se verhale wat deur haar eie reise geïnspireer is.

“In verstommende detail kon sy die een oomblik praat oor gebeure van 80, 90 jaar gelede, en dan weer oor aktuele sake van die dag. Die gawe van breed én stip kyk, dit was hare,” onthou Bloemhof.

Joubert se skryfwerk is met verskeie pryse bekroon. Sy het in 1964 die Eugène Marais-prys vir Ons wag op die kaptein gewen. Vir Die swerfjare van Poppie Nongena het sy onder meer die CNA-prys in 1978 en die WA Hofmeyr-prys in 1979 gekry. In 1996 het sy die WA Hofmeyr-prys en in 1998 die Hertzogprys vir Die reise van Isobelle gekry.

Spertyd is in 2018 met die kykNET-Rapportprys en die ATKV-prys vir niefiksie bekroon. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se LW Hiemstra-prys vir niefiksie is vanjaar aan Spertyd toegeken.

Benewens die talle toekennings wat sy vir haar skryfwerk ontvang het, is Joubert by verskeie geleenthede vir haar lewensbydrae vereer.

Die Universiteit van Stellenbosch het in 2001 ’n eredoktorsgraad aan Joubert toegeken vir haar uitsonderlike bydrae op die gebied van die letterkunde en in 2007 is sy op soortgelyke wyse deur die Universiteit van Pretoria vereer. In 2012 is sy deur kykNET met ʼn Fiësta vereer vir haar lewensbydrae tot die woordkuns. Sy het ook ’n genootskap van die British Royal Society of Literature ontvang.

Maroela Media het verneem dat Joubert in ʼn hospitaal in Kaapstad weens Covid-19 dood is. Prof. Nico Steytler, haar seun, het die nuus bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.