Eseltjiesrus se grootste boekefees help donkies in nood

Die sanger David Kramer is 'n beskermheer van die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary. (Foto: Verskaf)

Die sanger David Kramer is ‘n beskermheer van die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary. (Foto: Verskaf)

Winskoopjagters en boekwurms kan vanjaar weer na hartelus snuffel by die 12de jaarlikse boekefees op McGregor in die Wes-Kaap.

Nie net word meer as 15 000 boeke van ʼn groot verskeidenheid onderwerpe teen winskooppryse aangebied nie, maar elke boek wat verkoop word help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.

Eseltjiesrus is ʼn permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor.  Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens tussen hul eie soort deur te bring waar hulle met respek en waardigheid hanteer word.  Elke donkie word elke dag individueel versorg en gevoed na gelang van hulle ouderdom en behoeftes.

Luidens ʼn persverklaring deur Eseltjiesrus het die veilige hawe vir donkies ook ʼn bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor goeie versorging.  Volgens die verklaring ontstaan die meeste probleme as gevolg van onkunde of die wangeloof dat donkies nie gereelde hantering en versorging nodig het nie.

KitKat kyk wat vir die kinders voorgelees gaan word. (Foto: Verskaf)

KitKat die donkie kyk wat vir die kinders voorgelees gaan word. (Foto: Verskaf)

“Die sukses van vanjaar se Boekefees op McGregor gaan dus weer ʼn onontbeerlike rol speel in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus,” lui die verklaring. “Die gemeenskap baat ook op verskeie maniere.  Werk word geskep, boeke word geskenk aan skole en biblioteke in die groter Langebergarea en dié jaar is daar ook ʼn Storievertel- en Leesteater vir kinders.”

Hierdie projek wil ʼn kultuur van lees by kinders kweek en vrywilligers gaan daagliks vir kinders stories vertel. Die boeke word dan aan die Breede Vaardigheidsentrum geskenk, sodat die kinders in die weke daarna verder kan gaan luister.

Kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels en rare en kosbare kleinood sal tussen die duisende nuwe en kraakvars tweedehandse boeke te vinde wees.  Nuwe voorraad word elke dag uitgepak.

Daar is stapels Afrikaanse boeke, rare boeke en spesiale geskenke beskikbaar. Die fees vind plaas vanaf 18 tot 20 Mei.

Vir meer inligting skakel 023 625 1593, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek die amptelike webtuiste  www.donkeysanctuary.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jean ·

Watter wonderlike werk word daar vir hulle gedoen vir wie niemand omgee nie….

Johanna Botha ·

Dis so nodig veral na ons op tv gesien het wat met die arme diere gebeur vir hulle velle …hulle word bewusteloos geslaan voor die kop met n hammer en terwyl hulle le en nog lewe word die vel van die dier afgesny …wel ek kon dit self nie glo hoe uiters wreed die mense is …hulle voel niks wat nog van n mens se lewe !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.