Evita se bossie sikelela

Evita Bezuidenhout

Tannie Evita is weer aan’t kosmaak met ‘n tweede kookboek ná die wegholsukses van haar eerste, Evita se kossie sikelela.

In haar opvolgboek, Evita se bossie sikelela, sit sy die heerlikste disse voor van haar omswerwinge deur gans Suid-Afrika en die wye wêreld. Met ‘n voorwoord deur niemand anders nie as haar vriendin Charlize Theron en lieflike illustrasies deur kunstenaar Linda Vicquery, belowe die boek ure se vermaak en kookgenot. Dit kom selfs met ‘n spesiale Suid-Afrikaanse slangetjies-en-leertjiesspeletjie agterop die uitvou-omslag!

Van die Kaap tot in Limpopo, van die Weskus tot daar waar die president vandaan kom, rol die borde in vol kwartels en tarentaalsvleis met pruimedante. Kweperbredie en lemoeneend. Pofadders, beesstert en soetsuur vlakvark. Sy maak ou geregte nuut, en berei veldkos fyn. Iedere resep is getoets en gekeur, en al die resepte is verspot maklik om te maak.

Evita se kossie sikelela is met ‘n Gourmand 2010 World Cookbooks-toekenning bekroon. Outeurstantième uit die verkope van die boek sal geskenk word aan die Darling trust, wat die gemeenskap van Darling dien deur kuns en kultuur, opvoeding en gesondheid te bevorder. (Klik hier om meer hieroor te lees.) Umuzi sal die skenking ewenaar.

Oor die outeur:
Evita Bezuidenhout was ambassadrise in die tuisland Bapetikosweti in die ou Suid-Afrika en in die demokratiese SA is sy steeds die beroemdste wit vrou, wat gereeld in die geselskap van die hogeres en beroemdes gesien word. Pieter-Dirk Uys woon, soos Evita, in Darling. Hy is dramaturg en is die afgelope dekades bekend vir sy eenmanvertonings waarin hy talle karakters skep, hier en in die buiteland. Hy doen reeds jare lank onvermoeid vigsvoorligting onder jong mense. Linda Vicquery, wat saam met Evita aan die boek gewerk het, is ‘n sjef en skilder van formaat. Sy woon in die suide van Frankryk.

Uitgewers: Randomhousestruik
Prys: R170-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.