‘F’ is vir Finansies

PJ en Geo Botha wil met hulle F-woord-podsending die tameletjies van finansies wat jongmense ervaar, ontrafel. (Foto: Verskaf)

Die F-woord is vir baie mense ʼn vloekwoord of ʼn taboe.

Twee broers van Kaapstad, Geo en PJ Botha, keer egter dié gedagte op sy kop met hulle F-woord-podsending deur die tameletjies van finansies wat jongmense ervaar te ontrafel.

Die Botha-broers, deel van die Bovest-familieonderneming, is twee jong welvaartskeppers wat die uitdagende en dikwels gekompliseerde wêreld van finansies, persoonlike beleggings en beplanning meer toeganklik maak vir graad 12-leerders, skoolverlaters en jong beroepslui.

“Op skool praat ons oor chromosome en Shakespeare, terwyl onderwerpe soos hoe om ʼn begroting op te stel, belasting te betaal en te spaar, verwaarloos word. Basiese finansiële terminologie word in baie huishoudings nie eens genoem nie,” sê Geo en PJ.

Met die Bothas se podsending wil hulle benadruk dat Suid-Afrikaners uit uiteenlopende agtergronde opgelei kan word. Hulle sê: “Ons wil mense bereik wat nie toegang tot ʼn welvaartbestuurder het nie en ons wil hulle bemagtig om beheer oor hul finansies te neem.”

Geo en PJ wil hierdeur ook ʼn leemte vul, juis omdat daar op skool en in ouerhuise min oor persoonlike finansies gepraat word.

PJ het ʼn BCom Rekeningkunde-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP), ʼn honneursgraad en sy klerkskap voltooi. Daarna het hy hom onmiddellik by Bovest as beleggingspesialis aangesluit. (Foto: Verskaf)

Die broers beklemtoon in hul gesprekke oor welvaartskepping die noodsaak daarvan om geldake oordeelkundig te bestuur.

“Baie mense genereer ʼn groot inkomste elke maand, maar leef elke sent daarvan uit. Daar is ʼn groot verskil tussen geld maak en geld bestuur. Ons help mense om vroeg te begin met welvaartskepping, en om binne hul begroting te leef, terwyl hulle ook vir ʼn goeie toekoms beplan,” verduidelik Geo.

Geo en PJ volg in die spoor van hulle pa, dr. Riaan Botha, skrywer van Welvaartskeppers. In Welvaartskeppers word die suksesverhale gedeel van mense wat welvaart (en werkgeleenthede) geskep het, asook watter strategieë hulle aangewend het om sukses te behaal.

Waar ander maatskappye die ekonomiese knyptang gedurende die grendeltyd gevoel het, het Bovest die afgelope anderhalf jaar met 30% gegroei. Te danke aan die volgehoue groei en toenemende vraag na Bovest se dienste, het Geo verlede jaar ʼn tak op Stellenbosch gevestig.

Riaan het Bovest begin met die oog op welvaartskepping. Min het hy geweet dat dié onderneming sou groei tot ʼn familiemaatskappy.

PJ meen hy, Geo en Riaan het almal dieselfde belangstellings en danksy natuurlike ontwikkeling het Bovest ʼn familieonderneming geword. Hy erken ook dat hulle uiteenlopende persoonlikhede en belangstellings het en dat Riaan hulle toegelaat het om hulle sterk punte uit te leef. “Daar is ʼn goeie vertrouensverhouding tussen ons,” voeg PJ by.

PJ het ʼn BCom Rekeningkunde-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP), ʼn  honneursgraad en sy klerkskap voltooi. Daarna het hy hom onmiddellik by Bovest as beleggingspesialis aangesluit.

Geo het ʼn BCom-graad in interne ouditkunde aan die UP, ʼn honneursgraad by Unisa en ʼn diploma in finansiële beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. (Foto: Verskaf)

Geo het ʼn BCom-graad in interne ouditkunde aan die UP, ʼn honneursgraad by Unisa en ʼn diploma in finansiële beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

Voordat Geo by Bovest aangesluit het, het hy sy stempel by ʼn finansiëledienste-maatskappy afgedruk waar hy onder meer pensioenfondsvoordele aan nuwe kliënte moes bekendstel. Hy is in 2013 en 2014 landwyd as die maatskappy se beste konsultant aangewys.

Die Botha-broers is albei dinamies, maar sonder om op mekaar se tone te trap. Geo fokus op individuele welvaartbeplanning vir beroepslui en top-presteerders. Hy doen ook korporatiewe konsultasiewerk vir maatskappye met 20 tot 300 werkers. Die kern van PJ se portefeulje is geïntegreerde welvaartbestuur en hy is hoof van die maatskappy se beleggingsafdeling.

“Ons probeer onsself nie net as een van die grootste welvaartmaatskappye in die land vestig nie, maar ook as een van die mees gerespekteerde ondernemings. Dit is ʼn strewe na uitnemendheid, terwyl ons persoonlike langtermynverhoudings handhaaf,” verduidelik PJ.

Volgens PJ bied hulle kliëntgerigte dienste en hoop om daardeur vir elke kliënt die bes moontlike diens te lewer.

“Soos die Afrika-spreekwoord dit stel: ‘If you want to go fast, you go alone, but if you want to go far, do it together’. Elkeen moet weet ons gaan die beste vir hom of haar doen, en ons laat geen steen onaangeroer om so kundig moontlik te wees nie.”

Besoek “The F word – Finance” se Facebook-blad om meer oor die podsending te wete te kom.

  • Lees hier ʼn boekresensie oor Welvaartskeppers deur dr. Riaan Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.