Fabels van Esopus

Beverley Naidoo, Piet Grobler

’n Muisie red ’n magtige leeu se lewe; honger Sprinkaan, te lui om kos op te gaar, kry geen simpatie by die flukse miere nie; slim Jakkals bedrieg Klipspringer om die dood vry te spring – maar word nogtans deur die haan en die hond uitgevang . . .

Hier is sestien van Esopus se wyse, gevatte en tydlose fabels, vir die eerste keer uitgebeeld teen die Afrika-agtergrond. Esopus het dalk oorspronklik uit Afrika gekom, en dit het Beverley Naidoo en Piet Grobler geïnspireer om die diere van Afrika die hoofrolle te gee in hierdie opwindende interpretasie van een van die wêreld se mees klassieke werke.

Oor die outeur
Beverley Naidoo is ’n bekroonde skrywer van kinder en volwasse boeke. Sy is al genomineer vir die Hans Christian Andersen-toekenning en het drie ere-doktorsgrade aan oorsese universiteite verwerf. Sy gee wêreldwyd werkswinkels oor skryf, e.a. Huidig woon sy in Engeland, en hierdie is haar eerste boek by Human & Rousseau.

Piet Grobler is op 26 September 1959 op Nylstroom gebore. In 1977 matrikuleer hy aan Hoërskool Warmbad. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1981 die BA- en in 1984 die BD-graad behaal. In 1984 word hy predikant in die Hervormde Kerk. In 1989 tree Piet uit die bediening en in 1990 behaal hy ’n honneursgraad in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy word hierna grafiese ontwerper by Sanlam se advertensie- en publikasie-afdeling. Intussen studeer hy verder in grafiese ontwerp en behaal in 1993 die N6 Diploma in Grafiese Ontwerp aan die Kaapstadse Tegniese Kollege. Sedert 1996 is Piet ’n vryskut-kunstenaar en kinderboek-illustreerder. In 2001 was hy die feeskunstenaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn. Piet het al ’n hele paar internasionale toekennings ontvang soos die Silwer Medalje van die Noma Concours (Japan) in 1997 vir Hier is ek en weer in 2003 vir Sun Canary, Moon canary!, die Octogene de Chêne (Frankryk) in 1999 vir Karnaval van die diere en die Primo Alpi Apuane (Italië) in 2000 vir Karnaval van die diere. Op die plaaslike toneel is hy al met die Tienie Holloway-medalje, die Katrine Harries-toekenning en die M.E.R.-prys bekroon. Piet Grobler woon en werk sedert 2009 in Engeland.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R149,95*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.