FAK-sangbundel trek splinternuwe baadjie aan

fak

Foto: Verskaf

“Afrikaans dans op die note en lirieke van die FAK-Sangbundel. Om die FAK-Sangbundel met ’n splinternuwe baadjie uit te gee, getuig iets van die lewenskragtigheid van Afrikaans, veral in ’n tyd waar ons taal op vele terreine op die kantlyn geskuif word,”vertel dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Geslagte Afrikaanse kinders het met die FAK-Sangbundel in die huis en klaskamer grootgeword. Ou bekende FAK-liedjies is om dié rede vandag steeds gewild en verskyn gereeld op CD’s, soos die onlangse Afrikaanse volksmusiek-CD van Beeskraal en vriende.

Die klaskamer is die enjinkamer van Afrikaans en daarom het die FAK met die verskyning van Volume 2 groot hoeveelhede sangbundels gratis aan skole in Suid-Afrika en Namibië geskenk. Die gevolg was dat daar binne maande ’n behoefte ontstaan het vir ’n tweede druk wat kommersieel beskikbaar is. Dit het ook geblyk dat hersiening nodig was. Protea Boekhuis het onder leiding van redakteur Rentia Bartlett-Möhl die enorme taak aangepak van die omvangryke hersiening van FAK-Sangbundel Volume 2. Die gevolg is ’n uitnemende produk met ’n splinternuwe baadjie.

Jak de Priester vertel dat hy reeds op laerskool kennis gemaak het met die FAK-Sangbundel. “Ek kom my lewe lank saam met die FAK-Sangbundel. Tydens sangperiodes het juffrou Schoeman die FAK-Sangbundel oopgemaak, op die klavier gespeel en dan het ons saam gesing. Ek onthou liedjies soos ‘Al lê die berge nog so blou’, ‘Kolperd’, en so meer. En dit is hoekom mense van my generasie al daai liedjies nog ken.”

Volgens Langner is die FAK-Sangbundel sinoniem met Afrikaanse musiekerfenis. “Ons het grootgeword met die Sangbundel wat op ma se klavier gelê het, oor naweke het ons saam gesing aan ‘Aanstap Rooies’, ‘Sarie Marais’ en ander gunstelinge. Ons stap nie net ’n pad met die Sangbundel nie, maar so ook die Sangbundel met ons. Die Sangbundel het ons sedert 1979 tot vandag toegelaat om die room van Afrikaanse musiek te ontdek en bevorder. Deur aan kunstenaars erkenning te gee vir hul werk en dit bekend te stel aan die publiek, dra die FAK-Sangbundel by tot ’n kulturele skatkis vir die Afrikaanse musiekerfenis.”

Anton Goosen stem saam met Langner dat die FAK-Sangbundel deel is van ons Afrikaanse musiekerfenis. “Dit is moeilik om te sê watter liedjies is relevant, maar die FAK-Sangbundel is amper so dik soos die HAT, en ek sê dit nou, want hulle lê hier bo-op mekaar voor my. Dit is ’n belangrike erfenis, want oor 50 jaar is daar weer ’n hersiene weergawe met nuwe liedjies. ’n Taal en kultuur het nie grense nie, mense oor die hele wêreld vra vir my waar kan hulle die FAK-Sangbundel kry, selfs Afrikaners vanuit Engeland.”
Die liedjies in die tweede druk van die FAK-Sangbundel vervang nie die nostalgiese volksliedjies nie, maar maak plek vir van die bekendste musiekstukke wat Afrikaanse musieklegendes oor die jare heen bekend gestel het.  Die nuwe kategorieë sluit onder meer in: immergroen en populêr, kleinkuns, kinderliedjies, geestelike liedjies, tradisionele liedjies; kunsmusiek en koormusiek. Die bundel bevat ook ’n rubriekindeling, ’n register van liedere se titels en eerste reëls.

“Chris Chameleon, Anton Goosen, Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Laurika Rauch, Bok van Blerk en selfs die Heuwels Fantasties is van die kunstenaars wie se werk beskikbaar is in die FAK-Sangbundel Volume II, tweede druk,” vertel Langner.

FAK-Sangbundel Volume II, druk twee, is beskikbaar by Proetea Boekhuis en uitgesoekte boekwinkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria Van Dieweeck ·

En wat n pragtige voorblad. Is dit n Pierneef skildery? Asemrowend!

Juffrou ·

In my Musiekklasse het ek selfs met die nuwe lawwe kurrikulums steeds aangehou om so tussendeur vir die kinders FAK-liedjies te laat sing! Die oê skitter, die stemme klim en die
Wiskunde/Wetenskap-smarte word weggesing! Die tydhou met handeklap is vir hulle bevrydend. Dis merkwaardig hoe selfs die sogenaamde “Boelies” ook bedaar en saamdoen!
Meneer Skoolhoof, lig jou alie agter jou lessenaar uit en gaan motiveer jou Musiekjuffrou toe? Maak seker sy het die nuutste FAK-sangbundel en begin sommer by Anton Goosen se
liedjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.