Constant van Graan, ’n dosent in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit en deeltydse musikant in die musiekgroep Pelican State, verklap dat sy skryfdebuut te danke is aan ʼn familiedebat wat een Desember om die etenstafel begin het.
Iemand het gewonder of alle families so geheg (soos hulle) is en of hulle mekaar altyd sal beskerm. Spoedig het dié gedagte ‘n hewige debat ontlok.
“’n Paar persone het sterk gevoel dat dit nie ’n gegewe is nie en dat baie families nie van mekaar hou of mekaar sal ondersteun nie,” sê hy.
Van Graan het in Kemptonpark grootgeword. Hulle het later Namibië toe getrek en sy ouers woon steeds daar. Hy en sy familie gesels gereeld. Van Graan deel graag sy skryfwerk met sy ouers en verwelkom dit wanneer hulle terugvoer gee.
“My ouers het altyd goeie kommentaar en skroom nie om opbouende kritiek te gee nie,” meen hy. Dit staan in skrille kontras met Rembrandt, sy potplant, waarmee hy sy huis in Potchefstroom deel.
“Rembrandt hou nie van stories nie. Maar gelukkig het ek goeie vriende wat altyd bereid is om te luister en my bystaan as dinge rof raak,” skerts hy.
Van Graan skryf van kleins af. Hy onthou nog die ou notaboekie met ʼn leeromhulsel waarin hy jare gelede geskryf het. Sy kop wemel steeds van stories en daarom is dit nie ongewoon dat iets soos ʼn familiedebat in sy agterkop bly talm het nie. Dié gesprek het maande later as wegspringplek vir Van Graan se eerste trilogie gedien.
Jungu Josh, ’n reeks vol avontuur, magiese realisme en ’n tikkie fantasie, vertel die verhaal van Joshua McGreer (13), Njeri Nagadingo (15), Ngandu, die wyse man, en Charlie, die aardwolf (ook bekend as die Viermanskap), se pogings om die bose professor, Masjeba die heks en die gevaar uit die ooste te verslaan.
Josh, oftewel Joshua, is ʼn brawe karakter, wat net so bang vir hoogtes is soos Van Graan. “Ek en Josh deel ʼn paar karaktereienskappe,” sê hy. “Ons is al twee bang vir hoogtes en vlermuise, ons het ook die vermoë om die potensiaal in ander raak te sien en ons kan verlore raak in ons eie gedagtes.” Maar Van Graan sê hy is ietwat meer idealisties as Josh.
Benewens die familiedebat het Van Graan se bekoring met die Krugerwildtuin en Etosha Nasionale Park ook neerslag in sy trilogie gevind. Hy meen die misterie van die natuur laat dit voel of daar oeroue verhale in die bos vasgevang is wat met ʼn tikkie verbeeldingskrag ontsluit kan word.
Hy dink terug aan sy kinderdae toe hulle gereeld in die Krugerwildtuin, in die omgewing van die Krokodilbrug naby Malelane, gekamp het. Dit is juis tydens een van dié uitstappies wat ʼn hiëna Van Graan se verbeelding aangegryp het.
“Die hiëna wat elke aand by die draad kom aas het, het ’n groot indruk op my gemaak. Ek was oortuig hy is eintlik ’n spioen vir die diereryk en sou elke aand ná sy biltong- en boereworshappies na die ander roofdiere haas met nuus oor die Kruger-besoekers,” vertel hy.
Van Graan se skeppingsvernuf het trouens gelei tot die totstandkoming van ʼn nuwe taal: Magani. Dit is natuurlik nie ʼn ongewone verskynsel nie. Dink byvoorbeeld aan JRR Tolkien wat vir Lord of the Rings by die Finne aangeklop het.
Maar is dit so maklik om woordgrepe bymekaar te voeg en definisies daarvoor uit te dink? En was hy in ʼn stadium spyt oor sy besluit?
“Ek is self nie ’n kenner nie, maar ek het ’n redelike aanvoeling vir ander tale,” meen Van Graan. Hy voeg by dat dit altyd nuttig is om bestaande tale as verwysing te gebruik en hiervoor het Van Graan deeglik oor Swahili, Oshiwambo, Zulu en Noord-Sotho opgelees.
Dit was harde werk, vertel Van Graan verder, maar hy glo vas die trilogie sou armer sonder Magani gewees het. “Op die ou end gaan dit oor jou eie kreatiewe proses. Dis belangrik om te onthou dat die taal wat jy skep fiktief is en vir ’n fiktiewe wêreld bedoel is. Daarom moet jy jouself nie te veel deur die reëls beperk nie,” sê hy.
Van Graan beplan om eersdaags ’n basiese Magani-frasewoordeboek op die Jungu Josh-webwerf beskikbaar te stel. Hoewel hy nie ʼn gunstelingwoord het nie, is daar ʼn frase wat vir hom uitstaan.
“Kunu were e nyake?” wat “ Hoekom is jy laat?” beteken. Ek beplan om dit gereeld vir my studente te sê wanneer lesings op kampus hervat,” skerts hy.
Magani word ook in die lirieke van Jungu Josh se temalied gebruik. Van Graan het saam met ʼn paar vriende die musiekgroep Pelican State begin. Al die lede het voltydse beroepe, maar hulle hunker steeds na ʼn platform om hul kreatiwiteit uit te leef. Die groep skryf hul eie liedjies en tree gereeld by kunstefeeste op. Van Graan sê hy het dit geniet om die Jungu Josh-temalied te skryf omdat dit ʼn mengsel van Afrikaans en Magani is.
Dié debuutskrywer se kop is ʼn broeiplek vir stories, maar wanneer tegniese uitdagings soos skrywersblok of teksverwerkings sy pad kruis, sal hy nie wegskram om by sy gunstelingskrywer Neil Gaiman te gaan raad vra nie.
“Ek sou baie graag wou hoor waar Gaiman The truth is a cave in the Black Mountains geskryf het en hoe hy die gevreesde ‘skrywersblok’ (iets wat ook kop uitgesteek het terwyl ek met die Jungu Josh-reeks besig was) hanteer en oorkom het,” vertel Van Graan. Hy sou ook by Gaiman wou uitvind wat sy gevoel oor rolprentverwerkings is, veral omdat regisseurs gewoonlik die inhoud na goeddunke en ter wille van uitvoerbaarheid verander. “Uit my eie ondervinding weet ek hoe besitlik ’n mens oor jou eie pennevrug is,” erken Van Graan.
Jungu Josh 1: Die goue kalbas en Jungu Josh 2: Die kryger van Aboemondja het reeds by NB-Uitgewers verskyn. Die laaste boek in Van Graan se jeugtrilogie, Jungu Josh 3: Die Waters van Wafu, word binnekort deur dieselfde uitgewer uitgegee. Lees meer oor die Jungu Josh-trilogie op Maroela Media.
Luister hier na die Jungu Josh-temalied deur Pelican State:
Pragtig