Fantasieboeke vir die jongklomp

Ek is opgewonde dat al meer fantasieboeke vir kinders en tieners in Afrikaans by plaaslike uitgewers verskyn. Fantasie is nog ’n grootliks onontginde genre in Suid-Afrika, maar te oordeel aan internasionale verkope wag daar ’n mark wat beslis die potensiaal het om te groei. Lapa Uitgewers het onlangs J.K. Rowling se Die Ickabog in Afrikaans uitgegee. Die boek het wêreldwyd van die boekwinkels se rakke verdwyn. Lapa het ook Fanie Viljoen se Eerste bloed, boek een in sy splinternuwe Wêreld van wolwe-reeks, gepubliseer. Die volgende drie fantasieverhale wat ook tans plaaslik in Afrikaans te koop is, het ook my aandag getrek:

Die weerligdief (Rick Riordan)

Die eerste boek in die Percy Jackson en die Olimpiërs-reeks (’n New York Times # 1-topverkoperreeks) is deurspek met vlymskerp humor, ongelooflike avonture en opwindende aksietonele wat die Griekse mitologie baie suksesvol in die hier en nou laat figureer. Watter kind sal nou nie brand om aan te hou lees nie as hy of sy reeds op bladsy een vertel word hoe gevaarlik dit is om ’n halfbloed te wees. “Maar as jy jouself in hierdie bladsye herken – as jy iets binne-in jou voel roer – hou dadelik op lees. Jy mag dalk een van ons wees. En as jy dit eers weet, is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle dit ook aanvoel, en hulle gaan jou kom soek. Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

Hoofstuk een se titel is “Ek laat per ongeluk my wiskundejuffrou ontplof”. Die leser leer hier die twaalfjarige Percy Jackson ken, ’n probleemkind wat nog tot enkele maande gelede ’n koshuisbrak was by die Yancy-akademie in die noorde van New York. Maar toe gaan hy saam met die res van sy graadsesklas op ’n skooluitstappie Manhattan toe, op pad na die Metropolitaanse Kunsmuseum om allerhande uitstallings en goed oor die antieke Grieke en Romeine te sien. En dis hier waar Percy homself teen die nuwe wiskundejuffrou moet verdedig. Ná die tyd sou hy wonder of hy gehallusineer het, of dit maar net nóg ’n vreemde ding is wat met hom gebeur het. Maar dan luister hy ’n gesprek af wat sy hele lewe in ’n wilde rondomtalierit verander.

Ek kon hierdie boeiende dik boek van 352 bladsye nie neersit nie en kan goed verstaan waarom dit al met vele internasionale boekpryse – soos onder meer die School Library Journal Best Book of the Year – bekroon is. Jaco Jacobs het Die weerligdief in Afrikaans vertaal. Struik Kinders, ’n drukkersmerk van Penguin Random House South Africa (Pty) Ltd., gee Die Weerligdief uit.

Kry gerus jou kopie van Die weerligdief hier.

Die koning se weermag (Mark Huckerby & Nick Ostler)

Hierdie is boek drie in die aksiebelaaide Redder van die Ryk-trilogie en sal lesers bekoor wat daarvan hou dat hulle stories wemel van eeue oue tradisies, drake, monsters, ondooies en helde. Die skryfspan, Huckerby en Ostler, het al Emmy’s gewen vir hulle werk en is ook vir Bafta-toekennings genomineer. Hulle het al honderde suksesvolle draaiboeke, soos bv. Danger Mouse, Peter Rabbit en Shaun the sheep, gepen. Dit is juis hulle vermoë om visueel te skryf wat van die Redder van die Ryk-trilogie ’n besonderse leeservaring maak.

Alfie word op die tere ouderdom van veertien koning en ook Redder van die Ryk. Eers voer die jongeling ’n vergeefse stryd teen die Swart Draak en dan neem die opperbeskermheer, professor Lock, met die raafbanier se towerkrag en sy ondooie Vikings en beserkers Brittanje oor en wil hy Hel op aarde loslaat. “Binne enkele ure het die digte misbank oor die see die hele land omring en Lock se pas ontwaakte Viking-spookvloot het die water gepatrolleer en enige vaartuig wat binne agt kilometer van die kuslyn af gekom het summier verwilder. Brittanje was skielik ’n eiland van gevangenes.” (22).

Alfie moet sy land terugwen en die bose Lock se planne fnuik, maar eers moet hy ’n weermag bymekaarkry. Daar is ook Hayley wat in Londen se agterbuurte ’n hewige teenstryd voer. Alfie moet op sy mees lojale vriende se hulp staatmaak. Maar om elke hoek en draai skuil gevaar en wink onheil. Sal Alfie daarin slaag om die Ryk te red of moet hy toesien hoe alles verkrummel en tot niet gemaak word?

Ek het heerlik gelees aan Die koning se weermag wat ’n allemintige 368 bladsye beslaan. Die boek is uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys. Protea Boekhuis publiseer die Redder van die Ryk-reeks in Afrikaans. Die ander titels is Redder van die Ryk en Die donker eeu.

Kry gerus jou kopie van Die koning se weermag hier.

Klop drie keer (Cressida Cowell)

Die skrywer van die uiters gewilde Hoe om jou draak te tem-reeks wat verwerk is na ’n Dream Works-filmreeks asook ’n reeks wat op Netflix en CBBC vertoon word, se Die Towenaars van toeka-reeks is ook reeds ’n topverkoper wat van die boekwinkels se rakke afvlieg. Klop drie keer is die derde boek in Die Towenaars van toeka-reeks en is, nes die vorige boeke net ’n leesplesier.

Die storie gaan oor twee helde wat mekaar ontmoet en vriende word, al is hulle van kleins af geleer om mekaar te haat. Daar is die meisie, Wens. Sy is ’n kryger en onder haar oogklap het sy ’n buitengewone sterk toweroog. Sy beskik oor rare towerkrag-wat-op-yster-werk. Die seun, Xar, is ’n towenaar. Hy het ’n heks se towerkrag gesteel en toe begin die heksevlek hom beheer. Xar en Wens hardloop saam weg om na doepa te gaan soek wat van hekse ontslae sal raak. Towenaars en krygers maak jag op hulle. Hekse sal ook enigiets doen om die towerkrag-wat-op-yster-werk in die hande te kry. As uitgeworpenes moet Xar en Wens vlug en veg vir hulle lewens. Hulle het al twee keer daarin geslaag om uit die hekse se kloue te ontsnap en die dood te kortwiek. Maar sal dit hulle weer geluk? Hierdie keer wag verraad op hulle.

Dis ’n heerlike verbeeldingryke verhaal wat ook ryklik geïillustreer is deur die skrywer. Die teks word visueel interessant aangebied en dit maak dat die leser nie kan wag om te sien watter verrassing wag op die volgende bladsy nie. Die storie is aksiebelaaid en die dialoog flink en skerp. Die reeks is geïnspireer deur die Surrey-landskap in Engeland waar die skrywer se ouma grootgeword het. Dit is dalk waarom die wêreldbou in die stories so oortuigend is.

Ek het dit baie geniet om Klop drie keer te lees. Kobus Geldenhuys het ook hierdie lekker dik boek van 392 bladsye in Afrikaans vertaal. Protea Boekhuis gee Die Towenaars van toeka-reeks in Afrikaans uit. Die vorige twee boeke wat al beskikbaar is se titels is Die Towenaars van toeka en Twee teen twee.

Kry gerus jou kopie van Klop drie keer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.