Fantastiese projekte vir jong wetenskaplikes

Weet hoe met wetenskap word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie sagtebandboek gaan wetenskapentoesiaste van nege jaar en ouer sommer lekker besig hou. Skuif gerus nader indien jy jou wil verdiep in die opwindende wêreld van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Dié boek is vir weetgieriges wat nie bang is om hulle moue op te rol en allerhande briljante projekte aan te pak nie. Daar is sowaar 25 prettige eksperimente wat die jong wetenskaplike met eenvoudige instruksies en volkleurfoto’s lei om sensasionele aktiwiteite te voltooi. Leer byvoorbeeld hoe om jou eie termosfles of lugverfrisser te maak sowel as om ’n hangbrug te bou. Die leersame en interessante projekte sal kinders vir dae lank konstruktief tuis besig hou.

Weet hoe met wetenskap beslaan vier hoofstukke getiteld Kragte en beweging, Vloeistowwe en reaksies, Vorms en strukture en Lig en klank. Daar is ook ’n baie handige woordelys aan die einde van die boek. Simbole wys feite aan oor biologie, chemie of fisika, lig inligting uit oor gereedskap en materiale, vertel meer oor strukture of masjiene en identifiseer ekstra inligting oor formules, vorms of mate. Robert Winston, die outeur, verduidelik in die voorwoord dat modellering belangrik is vir veral wetenskaplikes, ingenieurs en argitekte om “die wetenskap agter die strukture (te) verstaan, die wiskundige beginsels wat betrokke is, en hoe hulle dalk herberekeninge moet doen om hulle uiteindelike doelwit te verwesenlik. Selfs die eenvoudigste eksperimente in hierdie boek wys hoe modellering kan help om praktiese probleme op te los.”

Hier is ’n paar voorbeelde van die aktiwiteite waarmee kinders hulleself mee besig kan hou:

Kragte en beweging: “In dié hoofstuk sal jy teen swaartekrag veg deur ’n hyskraan te bou en ’n tafeltennisballetjie in die lug te laat hang. Jy sal ook die kragte leer ken wat maak dat ’n vlot op die water dryf” (9).

Vloeistowwe en reaksies: “In dié hoofstuk sal jy jou kombuis in ’n chemielaboratorium verander […] en met chemiese reaksies eksperimenteer deur ’n hele reeks huishoudelike stowwe te gebruik” (61).

Vorms en strukture: “In dié hoofstuk sal jy ’n paar verbasend sterk strukture bou met papier, sand en strooitjies. Jy sal selfs hoë torings met spaghetti en malvalekkers bou” (89).

Lig en klank: “In dié hoofstuk sal jy alles omtrent golwe leer deur jou eie golfmasjien te maak. Jy sal ook lig bestudeer met ’n […] spektroskoop. Jy sal musiekklanke maak deur jou eie mondfluitjie en kitaar te skep” (125).

Elke eksperiment bevat ’n lys benodigdhede, en die tydsduur en moeilikheidsgraad word aangedui. Die eksperiment word verduidelik onder die hofie, Hoe dit werk, en die toepassing daarvan in die regte wêreld word uitgelig. Kinders word ook aangemoedig om verder te eksperimenteer en navorsing te doen. Daar is ook duidelike waarskuwingsdriehoeke wat die klem op veiligheid eerste lê.

Ek beveel hierdie wonderlike boek heelhartig aan!

Meer oor die outeur: Die veelbekroonde Britse prof. Robert Winston is ’n mediese dokter, wetenskaplike en TV-aanbieder. Hy is passievol daaroor om kinders aan die wetenskap voor te stel en het al meer as 30 boeke oor wetenskap en tegnologie geskryf.

Dorling Kindersley Limited, ’n Penguin-maatskappy, het Weet hoe met wetenskap oorspronklik uitgegee in Engels as Science Lab: Exciting Experiments for Young Scientists. Linda Roos het die boek vertaal in Afrikaans. Skaf Weet hoe met wetenskap hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae