Fees omskep Heidelberg in kulturele oase

Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie (Foto: Verskaf)

Mense het meer as ooit vantevore ʼn behoefte daaraan om te behoort, sosiaal te verkeer, te gesels en om iets moois saam met mekaar te beleef, meen Niël Rademan, wat die Hessequa Harmonie-fees begin het.

Dié fees word vanjaar die vierde keer aangebied en vind van 21 tot 25 September in Heidelberg, Suid-Kaap, plaas.

Volgens Rademan wag ʼn keur van klassieke musiek, woordkuns en leefstylaanbiedings op gehore wat vanjaar Hessequa Harmonie gaan bywoon.

Musiekentoesiaste kan onder meer uitsien na klassieke uitvoerings soos Edward Elgar se Tjellokonsert in E mineur deur Peter Martens en Max Bruch se Vioolkonsert no 1 deur Petrus de Beer met Elna van der Merwe as begeleier. Die pianis Nina Schumann voer Moessorgski se “Prente by ʼn uitstalling” uit met nuutgeskrewe bindingsteks deur Wilken Calitz en dit word deur die TV-persoonlikheid Hannes van Wyk voorgelees.

Die violis Petrus de Beer speel in “Wals met Wene” (Foto: Verskaf)

Sandra Prinsloo laat die drama Oskar en die pienk tannie, deur die Franse skrywer Érik-Emmanuel Schmitt, herleef en die Universiteit van Stellenbosch (US) se simfonie-blaasorkes (onder leiding van Pamela Kierman) voer “Rhapsody in blue” uit met Elna van der Merwe as solis (klavier).

Vanjaar se program sluit ook ʼn aantal leefstylaanbiedings soos ʼn jenewer-en-koskombinasie, kaas-en-wynproegeleentheid en ʼn vonkelwyn-en-braai-aand in.

Skrywers soos Dana Snyman en Irma Joubert gesels met Elsabé Daneel oor hul boeke, terwyl Kabous Meiring (Megaboere) met Ivor Price (Landbouweekliks) in gesprek tree oor sy en Kobus Lourens se boek Vir die liefde van die land.

Aanhangers van visuele kuns kan nader staan vir ʼn uitstalling onder kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus. Hierdie uitstalling word by die historiese Fouriehuis gehou en is daagliks oop vir besigtiging voor en tydens die boekgesprekke. Die tema van vanjaar se uitstalling is “#MOOI”. Kunstenaars soos Varenka Paschke, Ronel Human en Marinda du Toit se werk is by die uitstalling ingesluit.

Niël Rademan (Foto: Verskaf)

Rademan, ʼn boorling van die dorp, is ʼn bekende kunstenaar in musiek- en teaterkringe. Met sy uittrede as direkteur van die Suidoosterfees in 2018 het Rademan besluit om hierdie fees op die been te bring.

“Ek wou teruggee aan my geboortedorp. Dít is die plek wat my gemaak en gevorm het,” verduidelik hy.

Hessequa Harmonie word onder die voorgestelde veiligheidsmaatreëls aangebied, vertel Rademan. Dit beteken dat die nodige afstand tussen gehoorlede gehandhaaf sal word, die dra van maskers is verpligtend, en handreiniger en ander ontsmettingsmiddels word gebruik om gesondheidsriglyne te volg.

Hessequa Harmonie word nie virtueel aangebied nie. ʼn Beperkte aantal kaartjies per vertoning is beskikbaar en kan aanlyn by CN&CO Events se webwerf gekoop word. Klik hier vir die volledige feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Waar in Heidelberg word die optredes gehou. Waar Kan die program key?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.