Feestyd-oordenking: Sing ’n lied van dankbaarheid dié Kersdag

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem.” – Lukas 1:46-48

Ivor Swartz, leraar van Oosterlig-gemeente in Pretoria en skrywer van Die verlore seun vannie gaatjie, het ʼn spesiale boodskap vir Kersdag vir Maroela Media opgeneem.

Ek wil julle almal ʼn geseënde Kersfees toewens in ʼn jaar waar die wêreld deur die Covid-19-pandemie tot stilstand geruk is.

Ons vier vandag die deel van ons geloofbelydenis wat sê God het gekies om in die menslike storie in te klim en menslike vorm aan te neem in die persoon van Jesus Christus van Nasaret.

Dit is goeie nuus wat al langer as tweeduisend jaar mense se lewe verander. Dit is goeie nuus wat nooit sal kan verander nie, al verander die tye en omstandighede om ons. Dit is hierdie nuus wat ons ʼn ewigheidsperspektief gee, selfs in ʼn moeilike en uitdagende jaar soos dié van 2020. Met so ʼn ewigheidsperspektief kan jy erken jou lewe is dalk nou in die moeilikheid, maar jy kyk nie net teen die hier en nou vas nie, want jy weet God staan aan die einde van dit alles.

Ek hoop dié nuus plaas ʼn lied van dankbaarheid in ons elkeen se hart, soos die een wat Maria gesing het toe sy gehoor het sy is verwagtend met die Redder van die heelal.

Hier in 2020 was daar baie dinge wat ons moedeloos gemaak het, maar dit is juis dan wanneer die boodskap dat Jesus vir ons mens geword het so baie kan beteken. God weet waardeur ons gaan. Hy het gekies om in menslike vorm te kom en kan Hom identifiseer met menslike angs, pyn en swakheid, asook menslike verhoudings. God weet hoe ons voel.

My gebed is dat jy ondanks die onsekerheid van ʼn onbekende 2021 ʼn loflied van dankbaarheid op hierdie Kersdag saam met jou geliefdes sal sing. Kom ons sing ʼn lied van dankbaarheid dat God ʼn Joodse paartjie uitgekies het om die Verlosser van die mensdom te dra.

Hier is Swartz se gedig, As jy sing:

Ivor Swartz, skrywer van ‘Die verlore seun vannie Gaatjie’ (Foto: Ivor Swartz/Facebook)

AS JY SING

As jy sing,
Luister fyn;
Tussen die hartklop en die stembande;
Die twyfel en die oorgawe;
By blye engelsange, voeg by jou hart en stem:
ʼn Kind is gebore in stille Bethlehem.

Met geen gender-reveal, baby-shower, of een week oue foto’s op Facebook nie, sak die son op dié verlate dorpie.
Oorvol, stowwerig en op ʼn mespunt.

Maar ʼn ander Lig kom nader.
En iewers tussen skaapmis en flenterklere
hoor die herders waar Godheid Drie-enig vergader.

Van ʼn krip tot ʼn kruis,
ʼn Graf tot ʼn Huis –  
En ʼn veilige hawe ook teen die storm van 2020 – toe die kerk se deure vir lank gesluit was en ons te veel toiletpapier en te min wyn gekoop het.
Dit was ʼn wilde jaar, maar steeds sal ons sing!

Ons sing vir dié wat ʼn geliefde verloor het,
vir dié wat hul werk verloor het;
dié wat niemand gehad het om vas te hou nie,
wie se drome aan skerwe lê,
en wat steeds nie seker is of hulle dit gaan maak nie.

Ons sing teen die woede en die wreedheid;
Die haat en verdeeldheid, en die maghonger heersers wat die Kind se stem wil stilmaak.

Sing vir Maria en Josef
Wat haastig en uit vrees hul tuiste moes groet.
Sing ook vir jou eie uitgeweke kinders
Wat die Afrika-son moes groet.

As jy sing,
Sing omdat Hoop ʼn Naam het:
Wonderbare Raadsman
Magtige God
Ewige Vader
Vredevors
Seun van die mens
Vlugteling-kind
Hy wat was en wat is
Het vir jou vryheid kom bring.

Mag jy sing omdat Hoop vandag teenwoordig is by jou huis.
En mag jy sing omdat Hoop jou roep om soos die Bethlehem-ster
Vir ʼn donker wêreld te wys,
Die Lig op die pad was nog altyd ʼn kruis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.