Feestyd-oordenking: Sing soos verwonderde mense

drie-wyse-manne

Argieffoto (Foto: Kevin Phillips/Publicdomainpictures.net)

Hulle (die skaapwagters) het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie …’ (Lukas 2:9-10).

“Verwondering” is waarskynlik die eerste woord wat in die Kerstyd by my opkom, sê Barend Vos, predikant en skrywer van die Uit die beek-Bybeldagboek.

Vos verwys na die teksgedeelte in Lukas 2 waar ʼn engel van die Here aan ʼn groep skaapwagters verskyn het. Die skaapwagters het groot geskrik, maar die engel het hulle gerusgestel en gesê dat hy vir hulle goeie nuus bring.

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ʼn kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip lê (Lukas 2:11-12).

Die skaapwagters was opgewonde oor dié nuus en het dadelik na Bethlehem gegaan om te sien wat gebeur het. Die skaapwagters, asook die kindjie se ouers, Josef en Maria, was verwonderd oor die gebeure.

“Verwondering is ʼn groot woord en waarskynlik ook die belangrikste een,” sê Vos. Dit het Maria laat nadink. Wat sou dit alles beteken, het sy gewonder. Maar uiteindelik was sy dankbaar, want sy het besef daar is iets groots aan die gebeur.

Almal … was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink (Lukas 2:18-19).

In sy kort, motiverende boodskap aan lesers sê Vos dat dit vandag steeds relevant is.

“Kersfees leer ons dat iets groots gebeur het. Dit maak van verskrikte mense blye en dankbare mense.”

Net soos wat die skaapwagters sing-sing van die krip af weggegaan het, wil Vos mense aanmoedig om óók hierdie Kersfees te sing.

“Ek wil ʼn beroep op Christene doen om hierdie Kersfees te sing. Sing sáám met mekaar, vír mekaar én vir die Here. Sing soos verwonderde mense.”

  • Uit die Beek 2021 is deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee. Lees meer oor die boek hier op Maroela Media.
  • Die video en boodskap word in samewerking met Lux Verbi en die skrywer aangebied.

Vos se Kersboodskap moedig kinders van God aan om dié Kersfees te sing soos verwonderde mense. Kyk hier na sy boodskap:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.