Fnuik ʼn Franse gesprek blaas-blaas só

Hier volg Louis Jansen van Vuuren, skrywer van Amper Frans: ’n Lewe van fanfare en faux pas, se kort, maar uiters noodsaaklike handleiding om die Franse taal tydens ʼn noodgeval te manipuleer. Hy meen dié gids is ontwerp vir daardie onafwendbare gesprekvoering en ander sosiale interaksies met neus-in-die-lug Franse.

“Kyk, mense, dit sit nie sommer in elke man se broek om seepglad deur ʼn Franse tweegesprek te vaar nie – dit is ʼn landmynterrein,” sê Jansen van Vuuren.

“Beskou dit uit die staanspoor eerder as ʼn tweegeveg. Jy gaan jou p’s & q’s moet ken anders word jy afgeskryf as grossier. En wie wil nou in die vreemde as ʼn ongekunstelde takhaar bekend staan?”

Jansen van Vuuren se eerste wenk om Frans baas te raak is om vooraf jou blaaswerk te oefen. “Daar is ʼn hemelsbreë verskil tussen ʼn doodgewone sug, asem uitblaas en die nonchalante Franse pruil-blasie.”

Hoe oefen ʼn mens dié blaastegniek?

Staan verkieslik voor jou spieël in die badkamer of by Ouma se Dolly Varden (spieëlkas) en maak ʼn tuitmond. Rol jou lippe binnetoe sodat jy ʼn puh-klank eerder as ʼn skerp pee-klank kan uitspoeg. Oefen dit totdat jy dit baasraak.

“ʼn Mens se lippe en wange word gou lam, maar as jy Frans wil wees gaan jy nog baie wangkrampe kry. Dis deel van Franswees,” meen Jansen van Vuuren.

Die volgende stap, volgens Jansen van Vuuren, is om die puh-klank stadig te doen en terselfdertyd ʼn traak-my-nie-agtige blaasgeluid te lanseer.

“Dit moet klink soos ʼn trekker se binneband wat stadig afblaas. Pasop dat jy nie soos ʼn verjaarsdagballon fluit wat afblaas nie: Puhffff. Puhfffffffffffffffffff!”

Fluitgeluide moet afgewissel word. Maak kort en langes terwyl die Fransman praat, want dit moedig hom aan om sy storie aan te dik. Dit help jou boonop om tyd te wen, maar kan ongelukkig nie as antwoord ingespan word nie.

“Dit werk egter nie as ʼn antwoord nie. Hier is ʼn voorbeeld van hoe die fluitgeluid ʼn aktiewe deelname tydens die Fransman se monoloog is:

“Hoe gaan dit?” vra die Fransman.

“Puffffffffffff,” blaas jy terwyl jy kop of skouers na links en regs wieg.

Jansen van Vuuren sê jy moet jou skouers ophaal en jou oë rol. “Om geloofwaardigheid aan jul gesprek te verleen, beveel ek aan dat jy beide jou hande ʼn paar keer skouerhoogte laat wapper.” Hy meen hy is al só bedrewe met dié poppespel dat sy hande die praatwerk doen.

ʼn Mens raak aan die begin nogal lighoofdig van al die blaas, maar gaandeweg raak jy daaraan gewoond, vertel Jansen van Vuuren. “Ek het my weg deur ʼn volledige radio-onderhoud geblaas. Ek kon aan die einde ook ʼn perfekte merci met groot effek inkry.”

Jansen van Vuuren stel voor dat Afrikaanssprekers nóg twee Franse woorde leer. “Kom nou, volgens die Franse grammatikale wette is die blaas-ding ʼn volwaardige woord,” skerts hy.

Mais, wat “maar” beteken, en non is na sy mening ewe handig vir ʼn nie-Fransspreker.

“Mais word soos ʼn kort lammer-blêr uitgespreek,” verduidelik Jansen van Vuuren. “Dit is vir ons plaasmense maklik, want ons weet van hanslammers en so aan.

Non, is die ander woord en jy spreek dit nie uit soos die naam van godsdienstige dames wat in kloosters bly nie. Jy gooi doodluiters die laaste n weg. Spreek dit dan as nô uit.”

Dié twee woorde word saamgebruik en dit beteken “nou-toe-nou”, of as iemand vir jou ʼn slim storie vertel en jy sê “Neeeeeee?” Soos met die blasery kan die twee woorde ook na willekeur rek en krimp. Die effek is skouspelagtig.

“Maaaaaaais Non!” of  “Mê Noooooooooooh!”

Jansen van Vuuren deel laastens ook ʼn wenk oor hoe om slim uit ʼn gesprek te tree sonder om aanstoot te gee.

“Teen die tyd wat die Fransman ophou praat en na jou kant toe kyk vir ʼn antwoord, vat jy ʼn groot sluk Châteauneuf-du-Pape. Bly glimlag en rol jou oë nog ʼn laaste maal terwyl jy jou groetwoorde in perfekte Frans uiter: “Excuse moi [Uitgespreek as ekskûzê mwha].”

Hy sê jy beduie dan doodeenvoudig in die kleedkamer se rigting, terwyl jy stadig weg beweeg. Bly glimlag en verkas al blasende met jou kop omhoog. Onthou ook om jou wyn saam te neem anders verloor jy meer as net jou waardigheid.

“Voila!” roep Jansen van Vuuren gelate uit. “Jy het jou eerste paar minute in Franse geselskap oorleef sonder om te sneuwel.”

Amper Frans: ’n Lewe van fanfare en faux pas is deur Jonathan Ball Uitgewers uitgereik. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.