[Foto’s] Affies maak hul harte oop vir Loxton

ahmp-boekstad-2016-01

Karlien Thomashoff, Ursula Thomashoff, Anneh Pretorius, Inge Wilkinson en Marguerite Pienaar. Karlien, Inge en Marguerite van WitOpWit Argitekte het Affies bygestaan om die stad te bou. Foto: Jean de Villiers.

Die meisies van Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het verlede Woensdag ʼn replika van die hoofstad se stadskern gebou met boeke wat hulle aan ʼn skooltjie in die Karoo skenk.

Affies is een van die skole wat uitgedaag is om Laerskool JJ Booysen se biblioteek op die been te bring ná ʼn brand die skool verswelg het.

Affies het hulle boekrakke afgestof en al die ongebruikte boeke vir dié goeie doel geskenk. Affies het so geslaag om 3 000 boeke vir die laerskool in te samel.

Die leerders van La Rochelle in die Kaap het onder meer Affies, Hoërskool Bloemhof in die Wes-Kaap en Oranje in Bloemfontein uitgedaag om boeke en skryfbehoeftes aan Laerskool JJ Booysen op Loxton te skenk. Die historiese skool is meer as honderd jaar oud. Maroela Media het ook oor die brand en verskeie projekte, wat die skool en omgewing help, berig.

Anneh Pretorius, adjunkpresidente van dié skool se verteenwoordigende leerlingraad, sê: “Ons wou graag ʼn dorpie met die boeke bou, ʼn dorpie soos Loxton, maar die leerders het so positief gereageer dat die skool reeds meer as 3 000 boeke ontvang het. Ons het toe besluit om eerder ʼn stad met die boeke te bou.”

Die WitOpWit-span Argitekte wat aan vorige soortgelyke projekte gewerk het, se hulp is ingeroep. ʼn Skaalmodel van Pretoria se stadskern, vanaf Kerkplein, is op papier gedruk en Affies se boekstad is daarop gebou.

  • Lesers wat graag skenkings van boeke en skryfbehoeftes aan Laerskool JJ Booysen wil maak, kan dit na Duikerfontein 23, Loxton, Noord-Kaap stuur.
  • Besoek die Loxton Lees Lekker Facebook-blad vir meer inligting oor die projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.