Foto’s: Afrikaanse Russe, Boere skryf saam aan vriendskapsverhaal

Chris Moolman (voor en tweede van regs), Nico se pa, by hul slaapplek in Stalag IV-C. Dit was ‘n Duitse krygsgevangenskamp in die Tweede Wêreldoorlog in Wistritz, Sudetenland. (Foto: Verskaf)

In Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe skryf Nico Moolman en Wessel Oosthuizen oor die besonder hartlike verhouding tussen die Boere en die Russe wat al tydens die Anglo-Boereoorlog (11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902) bestaan het.

Oosthuizen, ʼn veelbekroonde en bekende sportfotograaf en skrywer van 21 boeke, het ʼn hegte verbintenis met Rusland. Hy het 20 jaar gelede vir ʼn maand in die land deurgebring toe sy dogter Heidi-Marie, ʼn Suid-Afrikaanse gimnas, aan ʼn toernooi deelgeneem het.

“ʼn Mens het altyd van die ‘rooi gevaar’ gehoor en skrikkerig na die Russe gekyk, maar ons het gou agtergekom dat dit glad nie waar is nie. Die Russe is eintlik soos ons Boeremense – vriendelik en innemend. Ek het die land al sowat 18 keer daarna besoek,” vertel hy.

Oosthuizen sê hy het eers gedink om ʼn boek oor sy eie ervaring van Rusland te skryf en het gedurende sy navorsing agtergekom dat daar voorheen al spesiale verhoudings met dié land was – vandaar die titel Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe.

“Vir lesers in die Republiek van Suid-Afrika is hierdie boek belangrik, want sonder ʼn begrip van die Russiese kultuur en karakter en die warmte van die Russiese siel is dit onmoontlik om om dié land se binnelandse én buitelandse beleid te verstaan.” – Nicifor Anicic, Serwiese immigrant wat in Suid-Afrika woon (Voorwoord, bl. 7).

Russiese burgers was destyds van die eerste mense wat die Boere in hul stryd teen die Engelse magte bygestaan het, vertel Oosthuizen. Van vrywilligers wat saam geveg het tot dokters en verpleegsters wat die gewondes versorg het.

Moolman se pa, Chris, het met die uitbreek van die oorlog by die weermag aangesluit en daar eerstehands die gasvryheid van die Russe beleef. Hy vertel: “My pa is deur die Russe uit ʼn Duitse konsentrasiekamp bevry waar hy twee en ʼn half jaar as krygsgevangene aangehou is.”

Nico Moolman en Ilya Rogachev by die kransleggingseremonie in Utrecht. (Foto: Wessel Oosthuizen)

Moolman het al 16 boeke geskryf en het oor die jare talle geskiedkundige aandenkings versamel wat nou by sy huismuseum Buskruit en Laventel in Utrecht bewaar word. Hy het onder meer The Boer Whore geskryf wat grotendeels Francois Smith se debuutroman, Kamphoer, geïnspireer het. Moolman is in Maart tydens ʼn jaarlikse kransleggingseremonie in Utrecht, KwaZulu-Natal, deur die Russiese ambassade vereer, het Maroela Media vroeër berig.

Moolman en Oosthuizen het mekaar ʼn paar jaar gelede by ʼn Anglo-Boereoorlog-gedenkdiens in Val, ʼn plattelandse dorp ongeveer 50 km van Standerton in Mpumalanga en waar Oosthuizen grootgeword het, raakgeloop en sedertdien goeie vriende geword. Oosthuizen was in daardie stadium reeds besig met sy navorsing vir Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe en het besluit om vir Moolman by die projek te betrek.

“Ek het vir Nico in Utrecht gaan kuier en hom van my projek vertel. Toe ek hom gevra het of hy die geskiedkundige gedeelte vanaf 1899 tot 1945 wou doen, het hy dadelik ingestem,” sê Oosthuizen.

Die boek is op versoek van Ilya Rogachev, die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, ook in Russies vertaal.

Die vertellings in Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe word aangevul met talle kleurryke foto’s uit die Anglo-Boereoorlog en wat Oosthuizen gedurende sy loopbaan as joernalis geneem het.

“Ons bevind onsself in ʼn visuele era en ek wou graag die boek só saamstel dat dit jong mense aanspoor om te lees. Foto’s maak die verhaal baie meer aantreklik,” meen Oosthuizen.

Lika Gorokhowa saam met Flip Buys en Kallie Kriel tydens haar onlangse besoek aan Suid-Afrika. (Foto: Wessel Oosthuizen)

Die boek is op versoek van Ilya Rogachev, die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, ook in Russies vertaal. Volgens Oosthuizen het Rogachev van die projek gehoor en gevra of dit in Russies gaan verskyn.

“Toe hy hoor dat ek niemand ken wat dit kan doen nie, het hy my na dr. Monika Urb verwys. Sy en haar tien vierdejaarstudente het toe die projek aangepak,” sê Oosthuizen.

Urb is ʼn dosent by die departement Afrika-studies by die Moskouse Staatsuniversiteit. Die 22-jarige Lika Gorokhowa, wat die boek in Russies help vertaal het, het onlangs haar BA-graad in Afrikaans onder leiding van Urb verwerf.

Oosthuizen se dogter Nina-Celeste het ʼn video oor Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe gemaak. In dié video, wat met vergunning van Oosthuizen hier gedeel word, vertel Gorokhowa, Moolman en Oosthuizen meer oor die projek:

Fantastiese video deur my dogter, Nina-Celeste, wat onlangs 'n mestersgraad in joernalistiek deur Rhodes Universiteit behaal het. Sy het by die beste – David van der Sandt – geleer!

Posted by Wessel Oosthuizen on Wednesday, July 28, 2021

Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe is deur AfriForum geborg en het pas by Kraal Uitgewers verskyn. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannes ·

Oor die rooi gevaar van Rusland, ek was al vier keer in Rusland as sendeling en het in die huise van mense in klein dorpies tuis gegaan. Baie goeie mense en ek het baie goeie vriende daar. Die gevaar was nog nooit die Russe nie maar die kommunisme.

Vrijburger ·

Baie interessant, beslis ‘n boek wat ek gaan aanskaf.

Rian ·

Ek het nog altyd baie meer agting vir die Russe as vir die verraderlike amerikaners gehad. Dalk lê die Afrikaner se heil vorentoe saam met die Russe.

Piet Snot ·

In my tyd in Rusland het die Russe my ook beïndruk met hul gasvryheid. Ek het stugge dikbekke verwag, maar vriendelikheid ervaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.