Foto’s: Kerkgeboue, argitektuur in bundel opgeneem

Oudtshoorn (Volmoed). (Foto: Darryl Earl David)

Die NG Kerk: Ons erfenis, saamgestel deur Philippe Menache en Helmut Wolff, is ʼn viering van die unieke en uitsonderlike argitektuur van NG kerkgeboue in Suid-Afrika.

Nagenoeg 130 kerke is in hierdie bundel opgeneem – sommige in mindere en ander in meerdere besonderhede. Die teks is deur Menache geskryf en Wolff het dit na Afrikaans vertaal.

“Ons is oortuig dat daar lesers is wat die omvang van die inhoud, asook die bloedsweet wat die navorsing geverg het, sal waardeer,” meen Menache en Wolff, twee liefhebbers en bewonderaars van kerke se argitektoniese ontwerpe.

Tesame met foto’s van meesterlike kerkgeboue, sluit Die NG Kerk: Ons erfenis ook ander feitelike inligting rakende die geboue in, naamlik ʼn beskrywing van die betrokke dorp, die kerk se ligging, ouderdom, argitektoniese styl en uiteensetting in die gebou self.

Menache vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hy en Wolff ʼn gedeelde passie vir argitektuur het. Hy sê verder dat die boek poog om ʼn argivale bron te wees met ʼn optekening van verskillende Suid-Afrikaanse boustyle. Dit het ook ten doel om erkenning te gee aan die argitekte wat NG kerke in Suid-Afrika ontwerp het.

Dié juwele word herontdek in ʼn landskap wat dikwels te midde van grootskaalse ontvolking van die platteland én toenemende armoede, steeds staande bly, hoewel dit in sekere gevalle ook al tekens van verval toon.

Hier is ʼn voorsmakie uit Die NG Kerk: Ons erfenis:

Volgens die skrywers sal kerkliefhebbers, argitekte, studente en bewonderaars van kerke se argitektoniese ontwerpe, die inhoud van hierdie koffietafelboek verslind.

Die NG Kerk: Ons erfenis kos R270 (prys onderworpe aan verandering) en is beskikbaar per bestelling. Om die boek te koop stuur ʼn e-pos na [email protected] of klik hier om dit aanlyn te bestel. Die boek is ook by Kraal Uitgewers en Graffiti Boeke te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Pragtig! Terloops, “Volmoed” (foto hierbo) was eens bekend as “Armoed.” Mag hierdie statige geboue ons almal herinner om slegs “Boontoe” en “Vorentoe” te kyk.

Kokerboom ·

Die NG Kerk op Calitzdorp is soortgelyk aan die op Volmoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.