Foto’s: Omvattende boek oor Eerste Vryheidsoorlog bekendgestel

die-eerste-vryheidsoorlog-boek-deur-jackie-grobler

Dr. Jackie Grobler se jongste boek,’Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880 – 1881,’ is Woensdag in Centurion bekendgestel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Praat jy van die Eerste Vryheidsoorlog dink mense dadelik aan die legendariese Slag van Majuba.

Min mense besef egter die veldslag van Laingsnek was eintlik die belangrikste gebeurtenis in dié oorlog waar Boer en Brit slaags geraak het.

Die historikus dr. Jackie Grobler meen dit is hier waar die Boere die Britte gestuit en onder druk geplaas het.

“As jou opponent onder druk is dan maak hy foute soos om ʼn berg soos Amajuba in die nag uit te klim.”

Dit is hierdie soort feite wat Grobler in sy jongste boek, Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880 – 1881, uitlig. Die boek word deur Kraal Uitgewers uitgegee en is Woensdag in Centurion bekendgestel.

Die teks vir die boek is die navorsing wat Grobler in 1976 oor die oorlog gedoen het vir sy doktorale proefskrif. Nou meer as 40 jaar later is die proefskrif verwerk in ʼn boek wat beskou kan word as een van die omvangrykste bronne oor die Eerste Vryheidsoorlog.

Dit bevat nagenoeg 200 foto’s, kaarte en illustrasies, asook talle teksrame met biografiese inligting oor die belangrikste rolspelers.

“Ek wou hierdie mense aan die leserspubliek bekendstel en hulle veral mensliker maak, asook verduidelik wie hulle was voor en na hulle by die oorlog betrokke was. Daar is ook teksrame oor plekke en gebeure in die oorlog ingewerk,” sê Grobler.

Daar is ook inligting oor elke bloed- en sweetoomblik in die veldslae van Laingsnek, Schuinshoogte en die finale, beroemde Slag van Majuba.

Op ʼn vraag of hy dink die betrokke oorlog se geskiedenis is nog relevant in 2019, het Grobler glimlaggend gesê hy dink dit is eintlik ʼn onregverdige vraag om vir historikus te vra wat sy loopbaan aan die navorsing hieroor gewy het.

“Op ernstiger noot sien ʼn mens deesdae byna daagliks die belaglikste uitsprake oor die geskiedenis van hooggeplaaste mense in die regering, buite die regering en veral op sosialemediaplatforms. Dit kan net as die ongelooflikste onsin beskryf word.”

Grobler meen die beste manier om dit teen te werk, is om die beste moontlike geskiedenisbronne tot jou beskikking te hê.

“As jy wil weet wat werklik gebeur het en hoe mense in die geskiedenis met mekaar oor die weggekom het moet jy goeie geskiedenisboeke lees en ja, nie die soort wat die geskiedenis inspan om ʼn wêreld te weerspieël soos wat ʼn persoon wou gehad het die verlede eintlik moes gebeur het nie.

“Hierdie boeke kan jou inlig oor dít wat jy nie van die geskiedenis geweet het nie en vir jou ʼn beter konteks gee oor dít wat jy verkeerd verstaan het.”

Grobler sê die moed van die Boere het die Britte in hierdie oorlog heeltemal onkant betrap, maar dit het ook die Boere oormoedig gemaak. “Dit het daartoe gelei dat sommige Boeregeneraals die Britte weer in latere veldslae heeltemal onderskat het.”

Hy sê dit is vir hom ewe maklik om in Afrikaans en Engels te skryf maar hy verkies om sy eie vertaalwerk te behartig.

“Ek dink net nie die Engelse skrywers kan ooit werklik die hart van die Afrikaners só goed verstaan nie. Hulle het ook nie werklik begrip vir ons beheptheid met vryheid nie want die Engelse was in daardie dae beskou as die kroon van die beskawing. Wie sou dan nie onder hulle regering wou leef nie?”

Grobler het die boekbespreking oor Die Eerste Vryheidsoorlog afgesluit deur te sê dit is ʼn oorlog waarvan die uitslag iets is waarop albei partye betrokke kan trots wees.

“Hierdie is een van die enigste oorloë wat op ʼn eerbare wyse deur albei partye beëindig is.”

  • Vir meer inligting oor dr. Jackie Grobler se boek Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880 – 1881 besoek Kraal Uitgewers. Die boek kan hier bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Attie. ·

Die Boerevolk moes altyd baklei net om staande te bly. Die Eerste Vryheidsoorlog het ons voorsate oortuigend gewen omdat hulle rak kon skiet en omdat die Britte hulle heeltemal onderskat het. 20 Desember 1880 by Bronhorstspruit het die oorlog begin en geëindig by Majuba op 27 Febr 1881. Die Boere het die magtige Britanje ‘n oorlogsles geleer. Lekker om te lees en ‘n moet vir mense wat trots op ons voorouers wil wees. Ons eerste oorlog met agterlaaiers en swartkruit.

B ·

Die strewe na vryheid is ‘n eindelose stryd.

Baie dankie dok! (Maar met respek ons sal verskil oor die stelling ‘eerbare wyse’, daar was weinig eerbaarheid aan die engelse kant. )

Marthinus Willemse ·

Ek dink jy verwar die Eerste met die Tweede.
Een van die eerbare soldate aan Britse kant was `n Skot, luitenant Hector Macdonald. By Majuba het hy sy pistool leeg geskiet, sy swaard gelos en `n klip opgetel om te gooi, toe hy omsingel is deur Boere. Toe hulle sy sporran wou vou, het hy die Boer geskop. Genraal Piet Joubert het gehoor van hierdie dapper soldaat, en dat sy swaard afgeneem is. Hy het gesorg dat Hector se swaard aan hom terug besorg word. “`n Dapper man en sy swaard mag nie geskei word nie”.

Macdonald was `n gewone Skot, in `n weermag waar slegs aristokrate en rykes offisiere kon word (jy koop `n kommissie). Tydens die slag van Omdurman het Hector homself bewys as soldaat, waarop Kitchener aan hom die voorstel gemaak het: ek kan jou `n Victoria Cross gee, of `n kommissie. Hector het laasgenoemde gekies.

Met die Tweede Vryheidsoorlog was hy generaal. Hy was gewild en bekwaam, en daar is toe `n gerug deur mede-offisiere (almal rykes en aristokrate) versprei, dat sir Hector Macdonald met seuntjies peuter. Hy is teruggeroep Londen toe, maar het homself geskiet – die soldaat se eerbare manier om van `n netelige probleem los te kom. [‘Fighting Mac’ William Clive, 1977, Macmillan.]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.